Breaking News

Mahindra knap sy XUV 300 op

Mahindra het pas ‘n paar veranderinge aan sy XUV 300-reeks aangebring.

Die XUV 300 het teen die middel van 2019 internasionaal op die mark gekom, en Suid-Afrika was een van die eerste markte waar hierdie reeks bekendgestel is. Selfs die intreemodel van die reeks, die W4, het volpunte gekry toe dit vir die GNCAP (Global New Car Assessment Programme)-assesseringsprogram getoets is. Die hele reeks word toegerus met minstens twee lugsakke, stabiliteitsbeheer, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en skyfremme op al vier wiele. Die W8, die vlagskip van die reeks, word met altesaam sewe lugsakke toegerus. 

Vir die 2022-modeljaar is ‘n paar nuwe kenmerke vir die reeks bekendgestel en ‘n die reeks is uitgebrei met die toevoeging van die W4 SE. Hierdie model vul die gaping tussen die W4 en die W6. Dieselfde twee enjins as voorheen is vir die nuwe reeks beskikbaar. Die 1,2 liter-petrolenjin met drie silinders lewer 81 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 200 Nm teen tussen 2 000 en 3 500 opm. Die ander enjinkeuse is ‘n 1,5 liter-turbodiesel enjin wat 85,8 kW teen 3 750 en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm lewer. Albei enjins word aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel. 

Een van die grootste punte van kritiek teen die oorspronklike reeks was die ligte binneruim; in reaksie op openbare terugvoer word dit vervang deur donker bekleedsel en ‘n swart paneelbord, selfs vir die W4. Die W4 SE word toegerus met 16 duim allooiwiele en ‘n negeduim raakskerm met Android Auto, Apple Car Play en satellietnavigasie. Die W6 voeg die volgende kenmerke by: ‘n agterruitveër en -verwarmer, swart dakspore, ‘n veelfunksiestuurwiel, spoedbeheer en sleutellose toegang. Die W8 word met die volgende bykomende kenmerke toegerus: ses luidsprekers pleks van vier, ‘n verstelbare bagasiebakvloer, ‘n elektriese sondak, ‘n stuurwiel en rathefboomknop wat met leer oorgetrek is, ‘n aansitknoppie, ‘n banddrukmonitor, volg-my-en-lei- my-kopligte, outomatiese kopligte en ruitveërs, projektorkopligte, ‘n trukamera, wegtrekhulp en voorste misligte. Die W6 en W8 is met die petrol- of dieselenjin beskikbaar.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km insluit, lyk só:

 

W4 Petrol: R 234 999

W4 SE Petrol: R 244 999

W6 Petrol: R 261 999

W6 Diesel: R 281 999

W8 Petrol: R 316 999

W8 Diesel: R 336 999

Die W4-modelle se pryse sluit ‘n diensplan van drie jaar of 50 000 km in, terwyl die res van die reeks se diensplan vir vyf jaar of 90 000 km geldig is. 

%d bloggers like this: