Breaking News

Mercedes-Benz Vito vier kwarteeu met opgeknapte reeks

Die Mercedes-Benz Vito vier vanjaar sy 25ste verjaardag, en Mercedes-Benz Suid-Afrika het pas ‘n opgeknapte weergawe van dié gewilde reeks, waarvan daar al 1,8 eenhede wêreldwyd verkoop is, bekendgestel. 

Soos voorheen is daar drie verskillende weergawes, naamlik die paneelwa, die Mixto, ‘n kruising tussen ‘n paneelwa en ‘n minibus wat plek vir ses insittendes bied en die Tourer, die minibus-weergawe wat met agt of nege sitplekke beskikbaar is.

Die nuwe Vito-reeks spog nie net met ‘n meer aantreklike voorkoms nie, maar is ook beter toegerus as voorheen. Die nuwe sierrooster is met of sonder chroom-afwerking beskikbaar en, afhangende van die model, is die stampers in swart of dieselfde kleur as die bakwerk afgewerk.

Die binnekant is aansienlik opgeknap en die mees opvallende kenmerk is die nuwe ventilasie-uitlate wat ook vir die V-klas gebruik word en met chroom-afwerking beskikbaar is. Die vloer van die binnekant beskik oor ‘n swaardiens-afwerking wat ook waterdig is. Daar is verskillende inligting-en-vermaakopsies beskikbaar om by die voornemende koper se behoeftes aan te pas, maar ongeag die stelsel wat gekies word, is Bluetooth-, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding standaard toerusting, terwyl ‘n USB-kragpunt waarmee ‘n slimfoon gelaai kan word, ook ingesluit is. 

Die paneelwa is beskikbaar in drie modelle, wat almal deur turbo-diesel enjins aangedryf word. Die 1,6 liter-enjin van die 111 CDI lewer 84 kW en 270 Nm. Die 114 en 116 CDI word aangedryf deur twee verskillende weergawes van Mercedes-Benz se 2,1 liter-turbo-diesel enjin wat onderskeidelik 100 kW en wringkrag van 330 Nm en 120 kW en wringkrag van 380 Nm lewer. Daar is ‘n keuse tussen ‘n sesgang-handratkas en ‘n 9 G-TRONIC-ratkas met nege gange.  Aangesien die paneelwa ‘n praktiese werksvoertuig is, is ‘n permanente skeidingspaneel tussen die kajuit en die laairuim standaard toerusting, asook hake waarmee die vrag binne-in die laairuim met toue vasgemaak kan word. Daar is ‘n skuifdeur aan die regterkant, wat opsioneel met kraghulp beskikbaar is, en daar is ‘n keuse tussen ‘n agterklap wat bo of aan die kante geskarnier is. Laasgenoemde kan teen 180 grade oopgemaak word. Wegtrekhulp en dwarswind-hulp is standaard toerusting, terwyl voornemende kopers ‘n trukamera, baanhouhulp, ‘n blindekol-monitor met dwarsverkeer-waarskuwing agter, Active Brake Assist met voorbots-waarskuwing en Distronic, wat die volgafstand tussen die bestuurder en die voorste motor handhaaf, teen ekstra koste kan bestel. Die agterklap word nie met ‘n agterruit toegerus nie, maar daar is een met ‘n ruitwasser en veër opsioneel beskikbaar.

Die Mixto het plek vir ses insittendes, en is as ‘n 111 CDI en 116 CDI beskikbaar met dieselfde enjins as dié twee paneelwa-modelle. Die Mixto het kantvensters in die middel van die buitekant maar nie  aan die agterkant nie, en weer eens is ‘n agterruit net opsioneel beskikbaar.  Die Mixto beskik nie oor die skeidingspaneel tussen die kajuit en die laairuim nie, maar verder is dieselfde opsionele ekstras as vir die paneelwa beskikbaar, tesame met ‘n plastiekvloer-bedekking, ‘n skuifdeur aan die linkerkant, klimaatbeheer, verhitte voorsitplekke en ‘n digitale truspieël binne, wat dit moontlik maak om alles wat agter die voertuig gebeur, te sien, selfs al is daar nie ‘n agterruit nie. 

Daar is drie weergawes van die Tourer beskikbaar, naamlik die Tourer Base, Tourer Pro en die vlagskip van die reeks, die Tourer Select.  Die Tourer Base is net as ‘n 111 CDI beskikbaar, en word met swart stampers en buitespieëls en staalwiele toegerus, terwyl die vloer met hout afgewerk is. Die Base kan nege insittendes in drie rye van drie sitplekke elk vervoer, en die Tourer Pro en Select agt, met twee sitplekke voor, en drie elk in die middelste en agterste rye. Die Tourer Pro spog met ligdiode-kopligte, en beskik oor ‘n agterruit met ‘n ruitveër en wasser, luukse binnepanele en elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls  asook twee skuifdeure as standaard toerusting. Onder die opsionele ekstras wat vir die Tourer Pro beskikbaar is, is chroom-afwerking vir die binnekant, stampers in dieselfde kleur as die bakwerk, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel en rathefboom, elektries verstelbare sitplekke vir die bestuurder en voorste passsasier en ‘n panoramiese sondak.  Die Tourer Pro is as ‘n 111 CDI en 116 CDI beskibaar, met die hand-of 9 G-TRONIC-ratkas.  Die vlagskip van die reeks is die Tourer Select, wat as ‘n 116 CDI en ‘n 119 CDI beskikbaar is. Die 119 CDI word aangedryf deur die kragtigste weergawe van die 2,1 liter turbo-diesel enjin en lewer 140 kW en 440 Nm. Uiteraard is die Tourer Select beter toegerus as sy goedkoper stalmaats, en onder sy bykomende standaard kenmerke is stampers en buitespieëls in dieselfde kleur as die bakwerk, ‘n panoramiese sondak, chroom-afwerking vir die sierrooster, ‘n chroompakket vir die binnekant, hoflikheidsligte wat dit in die aand vir passasiers makliker maak om in en uit die voertuig te klim, allooiwiele in verskeie ontwerpe van tussen 16 en 19 duim, en ‘n oorhoofse beligtingspaneel agter die binnetruspieël met plek vir ‘n sonbril. Onder die kenmerke wat teen ekstra koste beskikbaar is, is ‘n opvoubare tafel wat gebruik kan word wanneer die middelste ry siplekke na dié van die agterste ry gedraai word vir konferensies binne die voertuig of om ‘n meer gesellige atmosfeer te skep, outomatiese kopligte en kantlugsakke.

Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n Service Care Best Basic-diensplan van vyf jaar of 100 000 km wat die kostes vir die uitvoering van die versienings, asook die olies en smeermiddels vir die enjin, ratkas en aste asook die lug-en dieselfilters insluit.

Die pryse van die Vito-reeks, lyk só:

 

Vito-paneelwa:
111 CDI: R 573 041
114 CDI: R 597 056
116 CDI: R 677 085

 

Vito Mixto: 

111 CDI: R 668 489
116 CDI: R 895 584

 

Vito Tourer:
111 CDI Base: R 621 283
111 CDI Pro: R 762 263
114 CDI Pro: R 794 399
116 CDI Pro: R 901 634
116 CDI Select: R 1 071 429

119 CDI Select: R 1 109 788

Voornemende kopers kan meer inligting oor die Service Care Complete-plan van vyf jaar of 100 000km wat opsioneel beskikbaar is, by Mercedes-Benz se webtuiste of by hul naaste handelaar kry.

%d bloggers like this: