Breaking News

MINI One en Cooper omvattend hersien

Die jongste MINI-luikrug- en afslaankapreeks, wat reeds in Maart 2021 internasionaal bekendgestel is, is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Die reeks bestaan oudergewoonte uit die Cooper driedeur, die Cooper-vyfdeur en die Cooper-afslaankap, maar die jongste reeks is omvattend hersien en voornemende kopers het voortaan nog meer keuses om hul motors te verpersoonlik. Die reeks is ook onlangs uitgebrei met die bekendstelling van die ten volle elektriese Cooper SE driedeur-luikrug.

Aan die buitekant is lidgiode-kopligte nou standaard toerusting vir die hele reeks, terwyl die seshoekige sierrooster groter as voorheen is. Die sentrale strook van die stamper, wat die nommerplaat huisves, is nou in dieselfde kleur as die bakwerk. Daar is ook nuwe vertikale luguitlate in die hoeke van die voorstamper. Ligdiode-tegnologie is ook nou standaard toerusting vir die rigtingwysers aan die kant van die bakwerk. 

Voornemende kopers het nog altyd die keuse gehad om ‘n dak wat met die bakwerk kontrasteer, te kies, en benewens die gebruiklike swart, wit, silwer of rooi (laasgenoemde net vir die John Cooper Works) is ‘n nuwe Multitione-dak ook nou beskikbaar. Hierdie dak is uniek in die sin dat dit in drie kleure, naamlik blou, turkoois en swart geverf kan word; dit word moontlik gemaak deur ‘n nuwe verftegniek wat van die raam van die voorruit tot by die agterkant toegepas word. Dit word een na die ander aangebring en geen twee motors met hierdie dak sal dieselfde lyk nie, as gevolg van klein afwykings in die kleurpatroon. Die hele reeks spog ook nou met agterligte met die patroon van die Britse vlag, die Union Jack, as standaard toerusting.  Die luikrug-modelle is ook nou beskikbaar met die geel kleur wat voorheen net vir die afslaankap bestel kon word. Daarby kan ‘n nuwe klavierswart buiteafwerking gekies word; wanneer dit gekies word, word die deurhandvatsels, petrolvuldop (behalwe vir die SE), die kentekens vir die modelbenaming asook die MINI-logo op die enjinkap en agterklap, asook die omhulsels van die kop-en-agterligte en die rand van die sierrooster in glansswart afgewerk. Drie nuwe allooiwiel-ontwerpe is ook nou beskikbaar, onder meer dieselfde ontwerp as wat gebruik is vir die beperkte model wat ter viering van die MINI se sestigste verjaardag, met swart afwerking.  Die aanpasbare ligdiodekopligte wat opsioneel beskikbaar is, spog met verbeterde tegnologie, veral in swak weesomstandighede of wanneer daar gedraai word. Daar is ‘n afsonderlike ligstraal wat outomaties op die baan waarin die motor draai, val. Die hoëstraalwerking word  teen snelhede van 70 km/h of hoë outomaties beheer na gelang van die verkeersomstandighede. Elke ligdiode-eenheid kan afsonderlik geaktiveer of gedeaktiveer word. Wanneer die vooste kamera ‘n aankomende motor bespeur, word die ligte outomaties gedomp. Die  funksie vir slegte weer kan met die druk van ‘n knoppie geaktiveer word 

Die binneruim spog ook met ‘n aantal nuwe kenmerke . Die swart materiaalbekleedsel van die sitplekke beskik oor ‘n deftiger voorkoms en die aantal chroom-elemente is verminder.  Die buitenste twee ventilasie-lugiuitlate is steeds rond, maar word voortaan in swart afgewerk, maar dié in die middel van die voorpaneel is herontwerp en gelyk met die oppervlak van die binneruim. Die voorkoms van die middelkonsole is meer gesofistikeerd as voorheen. Daar is ‘n 8.8 duim-raakskerm en kontroles vir onder meer die noodflikkers is by die sentrale beheereenheid geïntegreer. Al die modelle word met ‘n nuwe sportiewe veelfunksiestuurwiel toegerus en ‘n weergawe met ‘n nappa-leeroortreksel en groter duimrusse is opsioneel beskikbaar. Die veelfunksie-instrumetepaneel word agter die stuurwiel gemonteer en in die geval van die Cooper SE beskik dit oor ‘n digitale kleurvertoonpaneel wat inligting oor die aanduiding van die batter se laaistatus en ander toepaslike inligting gee. Daar is ‘n keuse van twee kleure vir die sentrale uitleespaneel, naamlik Lounge en Sport. Dit word ook vir die opsionele digitale instrumentepaneel gebruik. Lounge is die meer rustige kleurkeuse en wanneer dit gekies word, word die inligting in turkoois en blou gewys, terwyl die Sport-keuse dit in rooi en swart vertoon.  Wanneer die opsionele bestuursmodusse gekies word, word die kleur van die vertoonpaneel aangepas, naamlik Lounge vir die Mid- en Green-modusse en  die ooreenstemmende kleur vir die Sport-modus. Daar is ook die keuse om ‘n eenvormige kleur vir al die bestuursmodusse te kies. Daar is ook atmosfeer-beligting met ‘n keuse van ses kleure vir elk van die Lounge- en Sport-verstellings. 

Daar is ‘n keuse tussen vier turbo-aangejaagde petrol enjins beskikbaar, asook die elektriese kragbron vir die SE. Die One word aangedryf deur ‘n drie-slinder enjin van 1,5 liter wat 75 kW teen tussen 3 900 en 6 500 opm en wringkrag van 190 Nm teen tussen 1 380 en 3 600 opm lewer. Hierdie enjin word aan ‘n dubbelkoppelaar-ratkas met sewe gange gekoppel. Die Cooper se kragtiger weergawe van hierdie enjin, wat aan dieselfde ratkas gekoppel word, lewer 100 kW teen tussen 4 500 en 6 500 opm en wringkrag van 220 Nm teen tussen 1 500 en 4 100 opm. Die Cooper se turbo-aangejaagde twee-liter enjin lewer 141 kW teen tussen 5 000 en 5 500 opm en wringkrag van 280 Nm teen tussen 1 350 en 4 600 opm, en dieselfde ratkas as vir die One en die Cooper word gebruik. Die John Cooper Works (JCW) is die verrigtingsmodel van die reeks. Sy kragtiger weergawe van die Cooper S se enjin word aan ‘n outomatiese sportratkas gekoppel en lewer 170 kW teen tussen 5 700 en 6 200 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 450 en 4 800 opm. Die Cooper SE is die elektriese model van die reeks, sy kragbron lewer 135 kW en wringkrag van 270 Nm. Die kapasiteit van sy litium-ioonbattery, wat onder in die bakwerk gemonteer word,  is 32,64 kWh en sy energieverbruik is 17,5 kWh per 100 km. Sy reikafstand wanneer die battery vol gelaai word, is 215 km.  Soos met enige elektriese motor word hierdie kragbron aan ‘n enkelverhoudingratkas gekoppel. Benewens die elektriese kragbron het die Cooper SE ‘n elektroniese parkeerrem wat met ‘n knoppie op die middelkonsole geaktiveer word, toegerus. Dit is ook vir die ander modelle in die reeks beskikbaar.

Die nuwe MINI App, wat vanaf Google Play Store en die Apple App Store afgelaai kan word, stel die eienaar in staat om gedurig met sy of haar voertuig te “kommunikeer”; dit gee die motor se brandstof- of battery-laaivlak, dit help die eienaar om sy of haar motor op te spoor en die motor se volgende diens kan hierdeur bespreek word. Dit is in 40 lande en 23 tale beskikbaar. 

Die pryse van die verskillende modelle, sonder opsionele ekstras, lyk soos volg:

One driedeur: R R 420 000
One vyfdeur: R 430 000
Cooper driedeur: R 469 500
Cooper vyfdeur: R 479 300

Cooper S driedeur: 530 000
Cooper S vyfdeur: R 540 000
Cooper afslaankap: R 533 000
Cooper S afslaankap: R 614 000
Cooper SE driedeur: R 658 000

Die One word gerugsteun deur ‘n volle onderhoudsplan van drie jaar of 75 000, en die res van die reeks se onderhoudsplan is geldig vir vyf jaar of 100 000 km.

%d bloggers like this: