Breaking News

Motorsport hoogtepunte

Deur Neels Rabe.

 

Die motorsport-fokus die afgelope week, vanuit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt, was Brad Binder se aanpassing in MotoGP. Hy is die eerste Suid-Afrikaner sedert Kork Ballinton in die vroeë tagtigs om Suid-Afrika in die wêreld se top motorfietsklas te verteenwoordig. Tydens die eerste paar dae van toets op die Sepang renbaan is hy 2.1 sek stadiger as die vinnigste tyd. ‘n Week later tydens die tweede oefensessie is hy 0.7 sek agter die voorloper. Laasweek in Quatar eindig hy 9de algeheel en slegs 0.4 sek agter die Yamaha van Maverick Vinãles. ‘n Mens moet versigtig wees om te veel in die oefentye in te lees omdat daar baie veranderlikes is, maar die belangrike is egter dat Brad Binder duidelik besig is om baie vinnig sy voete in MotoGP te vind. Die KTM is tradisioneel ‘n moeilik motorfiets om baas te raak. Dink aan die briljante Johann Zarco wat laasjaar in die middel van die seisoen aangekondig het dat hy gaan ophou omdat hy en die KTM mekaar net nie kon vind nie. Dis egter een ding om een vinnige rondte te doen. In ‘n wedren moet jy gewoonlik meer as 20 rondtes die vinnigste moontlike tyd opstel. Gee Brad dus nog ‘n paar maande om ten volle aan te pas.

 

Terwyl ons oor MotoGP gesels, Ducati se geniale Gigi Dall’Igna se nuutste ontwerp trek tans baie aandag. Die Ducati jaers het nou ‘n skakelaar op hul linkerkantse handvatsel waarmee hulle die motorfiets se hoogte kan laat sak sodra hulle uit ‘n draai kom. Dit veroorsaak dat die voorwiel nie so maklik lig nie, want as dit gebeur sny die elektronika die krag, met die gepaargaande afname in versnelling.

 

Maar dis nie net Gigi Dall’Igna wat baie tyd gehad het om te dink nie. Die nuwe Mercedes F1 motor het ook ‘n splinternuwe uitvindsel wat die ander spanne se oë laat rek. Video opnames van Lewis Hamilton tydens oefeninge het gewys dat Hamilton die stuurwiel vorentoe stoot sodra hy by ‘n draai kom, en dit dan weer terug trek op die volgende pylvak. Mercedes se nuutste uitvindsel word DAS genoem. Dit staan vir “Dual Axis Steering”. Wat hierdie slim stukkie tegnologie doen, is om die voorwiele effens na buite te laat wys wanneer die stuurwiel ingedruk word. Die effek op die motor is dat hy vinniger in die draai kan ingaan. Soos die jaer uit die draai kom, trek hy die stuurwiel weer terug, en die voorwiele wys weer perfek vorentoe met minimum wrywing op die bande. As Mercedes vinniger as die res gaan wees, en die vroeë aanduidings is dat dit inderdaad die geval is, sal die ander spanne baie vinnig ‘n plan moet maak. Daar word egter gereken dat dit ten minste 5 maande gaan vat om so ‘n stelsel te ontwerp en suksesvol te implementeer. So Mercedes het duidelik ‘n groot potensiële voorsprong nog voordat die eerste wedren begin het!

 

Hierdie naweek skop die Suid-Afrikaanse veldrenreeks af in Dullstroom. Die 25-jarige Henk Lategan gaan probeer om sy Sal veldren titel te verdedig teen manne soos sy beroemde spanmaat Giniel se Villiers.

%d bloggers like this: