Breaking News

Motorsportverslag

Deur Neels Rabe



Die 2019 motorsport-seisoen is besig om behoorlik op dreef te kom. Op nasionale vlak was dit die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap. In plaas van die gebruiklike Natalse tydren, het vanjaar se seisoen in die Weskaap begin met die sogenaamde “Overberg Grand Prix”. Die span om te klop was die Guy Botterill, Simon Vacy-Lyle kombinasie wat Suid-Afrikaanse tydrenne op hierdie stadium oorheers. Sedert 2014 kon niemand by hul kers vashou in die R2 klas nie. Daar word egter met groot verwagting gekyk na die nuwe VW Polo nadat die 3-silinder 1000cc turbo-enjin tot die reeks toegelaat is. Die span wat waarskynlik die beste kans staan om die Botterill/ Vacy-Lyle Toyota Etios te klop, is AC Potgieter en Nico Swartz. Hulle debuut wedren met die nuwe enjin het egter nie heeltemal volgens plan verloop nie. Die beperkte tyd vir ontwikkeling en toets veroorsaak dat die motor gesukkel het met oorverhitting.

Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle oorheers die Overberg Grand Prix deur 11 van die 14 sneldele in die nasionale R2 klas te wen, en 7 sneldele algeheel. Tweede is dit die kragtige Subaru Impreza WRX STI van Llewellyn Jones / Chris Pichon, ‘n motor wat nie in aanmerking kom vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap nie. Die Fiesta R2 van JJ Potgieter / Tommy du Toit eindig derde. Vierde (en dus derde op nasionale vlak) is dit AC Potgieter en Nico Swartz in die 1000cc Polo.

Paul Franken en Hilton Auffray neem deel in ‘n VW Polo Cup motor. Dis ‘n aansienlik goedkoper tydrenmotor wat gebruik maak van meestal standaard komponente en ‘n Suid-Afrikaanse ratkas. Die motor is ook toegerus met die haastige 3-silinder 1000cc turbo enjin. Hulle eindig in ‘n baie kompeterende agste posisie algeheel met ‘n motor wat R350 000 nuut kos teenoor ‘n R2 wat jou ongeveer 1.1 miljoen rand uit die sak sal jaag (as jou sak so groot is)!

In die Bahrain F1 Grand Prix is dit die jong 21-jarige Charles Leclerc wat Ferrari spanmaat Sebastian Vettel tydens kwalifisering klop om die eerste wegspringposisie in te neem. Hy oorheers die wedren met gemak terwyl Vettel weereens onder druk van Lewis Hamilton (Mercedes) ‘n fout maak en tol. Alle aanduidings was dat Leclerc nie net sy eerste podium posisie gaan behaal nie, maar dat dit ook die boonste trappie sou wees, met die Hamilton en Bottas Mercedes motors tweede en derde. Ongelukkig vir arme Leclerc verloor die Ferrari heelwat krag as gevolg van ‘n tegniese probleem. Hy is gelukkig om steeds derde te eindig. Hamilton wen, met spanmaat Bottas tweede.

Aan die ander kant van die aardbol in Argentinië is dit Marc Marquez wat met die grootste gemak die Argentynse MotoGP Grand Prix oorheers. Agter hom veg die 40-jarige Valentino Rossi op sy Yamaha verbete teen mede-Italianer Andrea Dovizioso op die kragtige Ducati. Rossi slaag daarin om op die laaste ronde verby Dovizioso te kom om podium posisie nommer 233 te behaal, tot groot blydskap van sy derduisende ondersteuners regoor die wêreld. Andrea Dovizioso en Ducati is egter tevrede met derde plek op ‘n baan waar die Ducati tradisioneel nie goed gevaar het nie.

Wêreldtydren-nuus is dat M-Sport Ford se Elfyn Evans dieselfde as Charles Leclerc moes deurmaak nadat hy in die Tour de Corse tydren 11.5 sekondes voor die Hyundai van Thierry Neuville was met die aanvang van die laaste sneldeel. Ongelukkig kry hy ‘n papwiel, en soos Leclerc, eindig hy derde, een posisie agter Citroën se Sebastién Ogier. Hierdie verrassende oorwinning besorg aan Neuville die kampioenskap voortou, ten koste van Ogier.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: