Breaking News

Motorsportverslag: Suid-Afrikaanse geboude Toyota Hilux wen 2019 se Dakar

Toyota Gazoo Racing SA-jaer Nasser Al Attiyah en sy Franse spanmaat Mathieu Baumel het die 2019 Dakar kategorie vir motors met ‘n Suid-Afrikaanse geboude Toyota Hilux gewen.

Toyota Gazoo Racing SA se wenspan. Van links navigator Mathieu Baumel, Suid-Afrikaner Glyn Hall, spanhoof en dan jaer Nasser Al Attiyah.

Die ander Toyota Gazoo Racing SA-jaer, die Suid-Afrikaanse renjaer Giniel de Villiers, wat in 2009 die Dakar gewen het, en sy navigator en Dirk von Zitzewitz het tweede in hierdie laaste skof gekom en negende algeheel geëindig.

Hulle was danksy hulle goeie tyd die voorlopers na afloop van die tweede skof en dit het gelyk of hulle soos oudergewoonte weer onder die finale top drie sou eindig. Hulle Hilux het ongelukkig tydens die derde skof in digte stof ’n klip getref. Hulle kon wel die herstelwerk doen en voortploeter wenstreep toe, maar was so ver agter in tyd dat hulle tot ’n ondersteunende rol moes oorskakel en nie meer as ernstige mededingers vir ‘n finale podium-plasing nie.

Met die vierde skof het die Nederlandse lid van die span, Bernhard ten Brinke, en sy Franse navigator, Xavier Panseri, dieselfde ramp oorgekom en Giniel en Dirk het stilgehou om hulle te help en sodoende nóg ‘n verdere uur verloor.

Ten Brinke / Panseri se ren is ongelukkig in Skof 8 heeltemal beëindig toe hul motor se ratkas die gees gegee het. Dit het beteken dat Giniel en Dirk die enigste Toyota Gazoo Racing SA span-inskrywings was, wat Al Attiyah / Baumel nog kon ondersteun. ‘n Taak wat hulle onselfsugtig aangepak het.

Toyota Gazoo Racing SA het van die eerste tot die laaste sneltrajek in die 2019-Dakar-veldtydren tussen die voorste plekke geëindig. Al Attiyah/Baumel het sommer die eerste skof gewen om te wys dat die Toyota Gazoo Racing SA-span ernstig is.

“Ons het uit die aard van die saak kom deelneem om te wen,” het De Villiers, wat uiteindelik negende algeheel was, gesê. “Toe daardie droom egter kortgeknip is, was ons heeltemal tevrede daarmee om Nasser en Mathieu se poging te ondersteun. As ons dit nie self kon wen nie, was die volgende beste dat een van ons spanmaats die oorwinning losjaag, en ek is baie in my skik met die uitslag.”

De Villiers, wat nog net een keer buite die top-10 in sy 15 Dakar-renne was, het sy pad deur die renveld oopgeveg en was met nog net een sneltrajek oor in die agtste plek algeheel.

“Die organiseerders het die laaste sneltrajek in die omgekeerde posisies laat begin, en die span het besluit dat ek en Dirk maar vir Nasser en Mathieu moet wag. Ons het dus weggespring, maar toe van die pad af getrek en in die duine gewag,” het De Villiers verduidelik. “Ons kuipespan het geluk twee kampstoele ingepak sodat ons die ren darem uit ’n gemaklike posisie kon dophou.”

De Villiers-hulle het die 55 minute voordat hul spanmaats sou wegtrek, uitgesit en hulle toe op kort afstand gevolg. Dit het De Villiers / Von Zitzewit ongelukkig een posisie algeheel gekos, en hulle moes uiteindelik met die negende plek tevrede wees. De Villiers se Top-10-rekord het egter behoue gebly.

Al Attiyah / Baumel se oorwinning in die 2019-Dakar beteken dat Toyota Gazoo Racing nou al twee die wêreld se moeilikste motorrenne – die Le Mans-uithouren oor 24 uur en die Dakar-veldtydren – gewen het. Dit was nie net die eerste oorwinning vir ‘n Toyota nie, maar ook die eerste petrol-aangedrewe motor wat die Dakar-ren in Suid-Amerika gewen het.

Die oorwinning in Peru was vir Toyota Gazoo Racing SA die hoogtepunt van ’n ongelooflike geskiedenis in die Dakar. Sedert hulle eerste deelname aan die Dakar ontwyk die Dakar hulle elke keer net-net:

2012               3de (G. de Villiers)

2013               2de (G. de Villiers)

2014               4de (G. de Villiers)

2015               2de (G. de Villiers)

2016               3de (G. de Villiers)

2017               5de (G. de Villiers)

2018               2nd (N. Al Attiyah)

2019               1ste (N. Al Attiyah)

Algehele plekke na afloop van Dakar 2019:

  1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA)
  2. Roma / Haro (MINI) +46:42
  3. Loeb / Elena (Peugeot) +01:54:18
  4. Przygonski / Colsoul (MINI) +02:28:31
  5. Despres / Cottret (MINI) +02:48:43
  6. Prokop / Tomanek (Ford) +03:19:02
  7. Al Rajhi / Gottschalk (MINI) +04:30:56
  8. Garafulic / Palmeiro (MINI) +07:57:58
  9. De Villiers / Von Zitzewitz (TOYOTA) +07:59:16
  10. Chabot / Pillot (TOYOTA) +08:09:58

Die Suid-Afrikaanse media-afvaardiging by Dakar 2019 wat gesorg het dat Suid-Afrikaners daagliks op hoogte gehou is oor die verloop van die ren. Heel links is Waldo van der Waal wat nuus en foto’s aan MotorPlus verskaf het.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Toyota geniet ’n gesamentlike voordelige vennootskap met Eurol, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-grep sowel as Hallspeed, Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, OMP, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex, First National Battery, SAA Cargo, STR8-LIGN, Duxbury Netgear, Lumotech en
Plan-C Productions.

 

One thought on “Motorsportverslag: Suid-Afrikaanse geboude Toyota Hilux wen 2019 se Dakar”

  1. When I initially left a comment I seem to have clicked the -Notify me when new comments are
    added- checkbox and from now on every time a comment is added I receive four emails
    with the same comment. There has to be a means you are able to remove me from
    that service? Appreciate it!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: