Breaking News

Motorverkope Januarie 2020: Suzuki groei

Alhoewel Januarie 2020 swakker motorverkope getoon het in vergelyking met Desember 2019 en selfs oor die jaar-periode teenoor Janurarie 2019, is die motorverkope van die Suzuki Motormaatskappy besig om in Suid-Afrika te groei.

Suzuki Suid-Afrika het in Januarie 2020 meer motors, handelsvoertuie en sportnutsvoertuie verkoop as ooit tevore. Volgens die amptelike verkoopsyfers van die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa), het Suzuki  1 632 voertuie in Januarie verkoop. Dit is ’n reusesprong van 61,4% vergeleke met dieselfde maand in 2019 en dit klop die vorige rekord wat Suzuki in Oktober 2019 opgestel het.

Volgens mnr. André Venter, afdelingshoof vir verkope en bemarking van Suzuki Suid-Afrika, het Suzuki se verkope deur sy handelaarsnetwerk vergeleke met Januarie 2019 met 58,7% gespring. “Daar is ’n baie gesonde vraag na modelle soos die Swift, Jimny en Ertiga, en ons werk regtig hard om seker te maak ons kry voertuie so gou moontlik by die handelaars. Met nuwe modelle op die horison – soos die nuwe Suzuki  S-Presso – glo ons dat ons verkope in 2020 sal aanhou groei.”

Suzuki se passasiersmotor en sportnutsvoertuie het vir die meeste verkope gesorg. Voor in die koor was die Suzuki Swift (824 eenhede) en die Jimny (189 voertuie). Interessant genoeg is die Swift nou in die sesde posisie in Suid-Afrika se 10 gewildste passasiersvoertuie. Ander modelle soos die Ertiga (159 eenhede), die Ignis (116 eenhede) en die Vitara (106 eenhede) het ook baie goed gevaar.

Suzuki is Suid-Afrika se snelsgroeiende voertuigvoertuighandelsnaam en die Suzuki Swift en Suzuki Jimny was albei kategoriewenners in die 2019- AutoTrader Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie.

%d bloggers like this: