Breaking News

Nissan Navara reg vir werk

Toe die Nissan Navara oorspronklik in Suid-Afrika bekendgestrel is, was dit hoofsaaklik ‘n ontspanningsbakkie, aangesien die NP 300 Hardbody voorsiening gemaak het vir dié wat ‘n bakkie vir werksdoeleindes nodig gehad het.

Met die bekendstelling van die nuwe Navara het Nissan egter besluit om die reeks uit te brei met die toevoeging van ‘n aantal enkeljauitmodelle wat die nuwe werkesels sal wees en die NP 300 Hardbody sal vervang.

Die meeste modelle in die reeks word deur turbo-diesel enjins aangedryf, maar daar is een uitsondering. Die intreemodel van die reeks, die XE, is die enigste een wat die opsie van ‘n petrol enjin bied; dit is ‘n 2,5 liter-enjin met vier silinders wat 118 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 233 Nm teen 4 000 opm lewer. Hierdie enjin word aan ‘n handratkas met ses gange gekoppel. Daar is ook twee weergawes van die 2,5 liter turbo-diesel enjin. Die XE is ook beskikbaar in ‘n model met die minder kragtige weergawe van dié enjin, wat 120 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 403 Nm teen 2 000 opm lewer. Die SE, wat met dieselfde enjin toegerus is, is beskikbaar in ‘n 4×2- of 4×4-model. Die luukse weergawe van die enkelkajuitreeks, die LE, bied ook ‘n keuse tussen ‘n 4×2 en ‘n 4×4, en sy kragtiger weergawe van dieselfde dieselenjin lewer 140 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 450 Nm teen 2 000 opm. Al die enkeljauitmodelle is net met ‘n sesgang-handratkas beskikbaar.

Die XE se standaard kenmerke sluit die volgende in: staalwiele met 205/R 16 AT-bande, elektriese buitespieëls, ‘n verdeelde banksitplek met PVC-bekleedsel, ‘n 12 volt-kragpunt in die kajuit, handbeheerde lugversorging, handbeheerde vensters, twee lugsakke en  ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding.

Die SE voeg die volgende kenmerke by: ses verstellings vir die bestuurdersitplek, materiaal-bekleedsel, twee 12 volt-kragpunte, elektriese vensters, sentrale sluiting met afstandbeheer, ‘n klankstelsel met Bluetooth en ‘n USB-kragpunt, ‘n veelfunksie-stuurwiel, stabiliteits-beheer, sleepswaai-beheer, wegtrekhulp en kant-gordyn- en knielugsakke. Die 4×4-model beskik ook oor afdraandehulp. Die LE is die vlagskip van die reeks en voeg die volgende kenmerke by: halogeenmisligte, ‘n agtduim-raakskerm met Android Auto, Apple Car Play en ‘n trukamera, parkeersensors agter en spoed-beheer.

 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van ses jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km insluit, lyk só:
Navara 2,5 Petrol XE: R 316 700

Navara 2,5 Diesel XE: R 355 700

Navara 2,5 Diesel SE 4×2: R 430 700

Navara 2,5 Diesel LE 4×2: R 461 700

Navara 2,5 Diesel SE 4×4: R 496 700

Navara 2,5 Diesel LE 4×4: R 534 000

%d bloggers like this: