Breaking News

Nissan se plaaslik vervaardigde Navara eindelik hier

Nissan Suid-Afrika het aangekondig dat bestellings vir die plaaslik vervaardigde Navara-reeks, wat in Junie vanjaar beskikbaar sal wees, reeds by handelaars geplaas kan word.

Die maatskappy het pas volledige besonderhede van die reeks, asook pryse bekendgemaak, en die groot nuus is dat enkel-en dubbelkajuit-modelle hier vervaardig sal word.  Dit beteken dat die Navara vir die eerste keer in omtrent elke voornemende koper se behoeftes sal voorsien, en  dat die werkesels die plek van die NP 300, wat aan die mark onttrek word, sal inneem.

Die reeks skop af met die enkelkajuit XE-modelle, onder meer die enigste een in die hele reeks met ‘n petrolenjin. Die 2,5 DE Petrol XE se enjin lewer 118 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 233 Nm teen 4 000 opm. Die 2,5 DDTI XE se turbo-diesel enjin lewer 120 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 403 Nm teen 2 000 opm. Albei enjins word aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel. Onder die XE se standaard kenmerke is twee lugsakke, 16 duim staalwiele met 205 R 16 AT-bande, elektriese buitespieëls, ‘n 12 volt-kragpunt binne die laairuim, ‘n gesplete banksitplek met PVC-bekleedsel, handbeheerde lugversorging en  ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding.

Die middelste spesifikasievlak vir die enkelkajuit-modelle is die SE, wat net met die diesel enjin beskikbaar is, maar ‘n keuse van twee-of vierwiel-aandrywing bied. Sy bykomende standaard kenmerke sluit die volgende in: voorste misligte, afsonderlike sitplekke met materiaalbekleedsel, twee 12 volt-kragpunte in die kajuit, elektriese vensters, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, ‘n radio/CD-speler met Bluetooth-verbinding, ‘n veelfunksie-stuurwiel, kant- en-knielugsakke, stabiliteitsbeheer, ‘n elektroniese agterste ewenaarslot, sleepswaai beheer en  wegtrek- en afdraandehulp. Die SE word deur dieselfde turbo-diesel enjin as die XE aangedryf.

Bo-aan die enkelkajuit-reeks is die LE, met ‘n kragtiger weergawe van die turbodieselenjin wat 140 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 450 Nm teen 2 000 opm lewer. Die LE se bykomende kenmerke sluit die volgende in:  Nissan Connect met Apple Car Play en Android Auto en ‘n agtduim-raakskerm, ‘n trukamera en spoedbeheer. Die enkelkajuit-modelle is net met die handratkas beskikbaar.

Die dubbelkajuit-modelle begin by die SE 4×2 en 4×4, met dieselfde spesifikasievlak as die ooreenstemmende enkelkjuit-modelle maar met 17-duim staalwiele. Daar is egter ook ‘n SE Plus 4×2 en 4×4 met die volgende bykomende kenmerke: intelligente noodrem-hulp, voorbots-waarskuwing en ‘n waarskuwing as die bestuurder nie aandag op die pad gee nie. Daarby is 17 duim allooiwiele met 255/65 R 17 AT-bande standaard toerusting, asook ‘n kleurgekodeerde agterstamper en swart kanttrappies. Die SE en SE Plus bied die keuse van die enkelkajuit-modelle se handratkas of ‘n outomatiese sewegangratkas.  Die LE-modelle bied die volgende bykomende kenmerke: 18-duim allooiwiele met 255/60 R 18 HT-bande, ‘n chroom-sierrooster, kleurgekodeerde buitespieëls, silwer kanttrappies, outomatiese ligdiode-kopligte met ‘n volg-my-en-lei-my-funksie, dagryligte, leerbekleedsel, elektries verstelbare sitplekke, outomatiese lugversorging, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, Nissan Connect met Android Auto, Apple Car Play en ‘n agtduim-raakskerm, ‘n trukamera met parkeersensors, ‘n dwarsverkeer-waarskuwing agter, baandwaal-waarskuwing en outomatiese ruitveërs. Die LE 4×2 is net met die outomatiese ratkas beskikbaar en die 4×4 met die hand- of outomatiese ratkas. 

Daar is twee vlagskip-modelle, naamlik die Pro 2X en die Pro 4X, wat onderskeidelik twee- en vierwiel-aandwywing het. Hierdie modelle spog met swart kanttrappies, swart wielboë, swart dakspore, swart buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, ‘n swart sierrooster , ‘n agtervenster wat met kraghulp oopgeskuif word, getinte agterste kantruite, ‘n 360-grade kamera, satelliet navigasie en ‘n trekstang. 

Die dubbelkajuit-modelle sal dadelik beskikbaar wees terwyl die enkelkajuit-modelle ‘n bietjie later sal volg: Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van ses jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km insluit, lyk só:

Enkelkajuit:
2,5  Petrol XE: R 311 000
2,5 Diesel XE: R 350 000
2,5 Diesel SE: R 426 000
2,5 Diesel SE 4×4: R 492 000
2,5 Diesel LE: R R 456 000
2,5 Diesel LE 4×4: R 527 000

Dubbelkajuit
2,5 Diesel SE : R 474 000
2,5 Diesel SE 4×4: R 552 000
2,5 Diesel SE 4×2 Outomaties: R 498 000
2,5 Diesel SE Plus 4×2 : R 505 000
2,5 Diesel SE Plus 4×4: R 580 000

2,5 SE Plus 4×2 Outomaties: R 528 000
2,5 LE 4×2 Outomaties: R 606 000
2,5 LE 4×4  Handrat: R 660 000
2,5 LE 4×4 Outomaties: R 677 000
2,5 Pro 2X Outomaties : R 686 000
2,5  Pro 4X Outomaties: R 740 000

%d bloggers like this: