Breaking News

Nuwe NX lui volgende hoofstuk vir Lexus in

Die splinternuwe tweedegeslag Lexus NX is pas in Suid-Afrika bekendgestel en lui die volgende hoofstuk in Lexus se geskiedenis in.

Die nuwe model spog met ‘n gewaagde nuwe ontwerprigting, en die nuwe kragbronne verteenwoordig ‘n reuse sprong vooruit in dinamiese werkverrigting danksy die kenmerkende Lexus Driving Signature. Daarom is dit veel meer as net die jongste weergawe van Lexus se middelslag-weeldesportnus.

Daarby onthul die nuwe NX ‘n nuwe multimedia-platform wat konnektiwiteit, inligting en gerief na die volgende vlak toe neem. Verder trek die nuwe model voordeel uit die opgeknapte weergawe van die Lexus Safety Sense-stelsel. Dit bevat onder meer bestuurshulpmiddels wat teen ‘n groter reeks ongeluksrisiko’s waak, en sodoende die las van die bestuurder verminder.

Toe die oorspronklike NX is  2014 bekendgestel is, het dit een Lexus se topverkopers geword en die meeste klante  het vir die eerste keer ‘n Lexus gekoop. Die nuweling behoort selfs beter te vaar, met nuwe kragbronne wat toonaangewende werkverrigting beloof, tesame met moderne tegnologie om elke reis veiliger en meer genotvol te maak.

Daar sal aanvanklik twee modelle beskikbaar wees, naamlik die NX 250 EX en die NX 350 F-Sport. Die EX se 2,5 liter-viersilinder-enjin sonder ‘n turboaanjaer lewer 152 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 239 Nm teen 4 000 tot 5000 opm. Die F-Sport se turboaangejaagde 2,4 liter viersilinder-enjin lewer 205 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 430 Nm teen 1 700 tot 3 600 opm. Albei hierdie enjins word gekoppel aan ‘n outomatiese agtgangratkas met ratspane agter die stuurwiel.

Die EX is die intreemodel maar word toegerus met ‘n aantal kenmkerke wat vir die eerste keer in ‘n Leuxus beskikbaar is. Een daarvan is veilige uitklim-hulp wat die bestuurder waarsku wanneer dit onveilig is om uit die voertuig te klim; dit bespeur voetgangers, fietsyers en ander hindernisse en hou die deure toe wanneer dit te gevaarlik is om uit die motor te klim. Kruisingdraaihulp is nog ‘n nuwe kenmerk wat daarop gemik is om botsings te voorkom; dit identifiseer wanneer dit onveilig is om oor dwarsverkeer te draai, of wanneer daar voetgangers in ‘n kruising is. Noodstuurhulp beheer die stuur outomaties wanneer ‘n hoë risiko van ‘n botsing ontstaan; dit help om die voertuig bestendig en binne sy verkeersbaan te hou. Dit alles word gekoppel aan ‘n voorbotsstelsel met voertganger- en fietsryer-bespeuring in daglig, ‘n parkeerondersteuningsrem met hindernis-en voertuigbespeuring, ‘n blindekolmonitor, dinamiese radar-aktiewe spoedbeheer en baanhouhulp. Die parkeerondersteuningsrem behels die vermoë om statiese voorwerpe, naderende voertuie en voetgangers te bespeur en rem outomaties wanneer die moontlikheid van ‘n bortsing bespeur word. Al hierdie kenmerke is standaardtoerusting vir die hele NX-reeks. 

 

Die NX 250 EX se standaard toerusting sluit ook die volgende kenmerke in: 18 duim-allooiwiele, ligdiode-kopligte met outomatiese hoëstraalwerking, elektries verstelbare en verhitbare voorsitplekke, die mensgesentreerde Tazuna-kajuitkonsep met ‘n 14-duim raakskerm, ‘n digitale radio, stembeheer wat op “Hey Lexus” reageer, Android Auto en Apple Car Play asook ‘n koordlose selfoonlaaier. Die voorlopige vlagskip totdat die hibriedemodelle bekendgestel word, is die NX 350 F-Sport, wat met die volgende bykomende kenmerke toegerus word: twintigduim-allooiwiele met ‘n unieke ontwerp, driestraal-ligdiodekopligte met ‘n aanpasbare hoëstraalwerking, verhitte en geventileerde voorsitplekke, ‘n monitor met panoramiese uitsig, ‘n panoramiese sondak wat oop-en toegemaak kan word, asook unieke F-Sport-stileringselemente soos buitebesonderhede in donker chroom, ‘n unieke sierrooster en ‘n nuwe ontwerp vir die voor- en agterstampers. Die Tazuna-konsep word verder gevoer met ‘n digitale instrumentepaneel, satellietnavigasie, ‘n volkleur-voorruitvertoonpaneel en raak-kapasitiewe stuurwielkontroles. Die F-Sport se Mark Levinson-klankstelsel bevat altesaam 17 luidsprekers en ‘n digitale truspieël binne is standaard toerusting. Die F-Sport se voorsitplekke bevat ‘n hoogs ondersteunende geïntegreerde skuimtegniek wat eerste vir Lexus se F-Sport-modelle ontwikkel is.  Die digitale instrumentepaneel beskik oor ‘n beweegbare virtuele ring wat deur Lexus se vlagskip-sportmotor, die LFA geïnspireer is. Verder is daar ‘n leerbedekte ratkieserknop, ‘n agtduim TFT-kleurskerm, asook pedale en voetsteun wat in aluminium afgewerk is. Die F-Sport beskik verder oor Drive Mode Select met vyf verskillende modusse om van te kies, aanpasbare veranderlike vering en hoëverrigtingskokbrekers voor en agter. 

Lexus het pas begin met ‘n uitfasseringstrategie vir die NX as gevolg van aanvraag en beskikbaarheid van voorraad; daarom sal die hibriedemodelle eers later vanjaar beskikbaar wees. Lexus-handelaars het egter reeds begin om voorafbestellings vir die hibriede-modelle te neem. Wanneer die hibriede-modelle bekendgestel word, sal altesaam vyf modelle in die nuwe NX-reeks beskikbaar wees. 

Die pryse van die EX en F-Sport is R 860 000 en R 1 075 400 onderskeidelik. Dit sluit ‘n waarborg en volle instandhoudingsplan van sewe jaar of 105 000 km in.

%d bloggers like this: