Breaking News

Opel se radikale nuwe Mokka is hier

Kort op die hakke van die Zafira Life het nog ‘n nuwe Opel pas sy verskyning op die Suid-Afrikaanse mark gemaak.

Die nuwe Mokka, sonder die X-benaming, is die eerste Opel wat die nuwe Vizor-ontwerprigting volg, en sy ontwerp is deur die GTX Xperimental-konsepmotor geïnspireer. Die oogmerk was om ‘n oorkruisvoertuig te bied wat vir alle insittendes ‘n unieke ervaring met vindingryke tegnologie gee. 

Daar sal twee modelle wees om van te kies; albei word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde 1,2 liter-enjin met drie silinders. Hierdie enjin, wat aan ‘n outomatiese agtgangratkas gekoppel word, lewer 96 kW teen 5 500 opm en 230 Nm teen 1 750 opm.

Die silhoeët van die nuwe Mokka staan uit weens sy kort oorhange en wye voetspoor. Die uitstaande kenmerk van sy vooraansig is die nuwe Opel Vizor wat spog met ‘n skerm wat die voorkant soos ‘n volgesig-valhelm beskerm. Dit kombineer die sierrooster, ligdiode-kopligte, en die kenmerkende Opel-weerligstraalembleem in ‘n enkele element. Aan die angterkant is die letters van die Mokka-modelnaam só gespasieer dat dit die motor se breedte beklemtoon. 

Aan die binnekant is daar ‘n nuwe Opel Pure Panel met twee skerms wat die belangrikste inligting weergee. Die struktuur is maklik om te verstaan en gebruikers-vriendelik; dit is daarop gemik om die bestuurder se aandag so min as moontlik van die pad af te trek. Die belangrikste funksies word steeds deur knoppies beheer; dit skakel die nodigheid om deur allerhande kieslyste te werk, uit. 

Twee spesifikasievlakke is beskikbaar. Die intreemodel is die Elegance, wat met die volgende standaard kenmerke toegerus word: allooiwiele met 215/60 R 17-bande, ‘n ruimtebesparende staalnoodwiel, ‘n leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel, ligdiode-kopligte en dagryligte, atmosfeerbeligting aan die binnekant, ‘n ligdiode-daklig binne, materiaal-bekleedsel, verhitbare voorsitplekke, outomatiese ruitveërs en kopligte, ‘n seweduim-raakskerm met Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en MirrorLink, wat die inhoud van die gebruiker se slimfoonskerm op die raakskerm weerspieël en ‘n seweduim-instrumentepaneel. Daar is ook ‘n plek in die middelkonsole waar slimfone geplaas kan word, en ‘n rubbermat keer dat dit rondskuif. 

Die vlagskip van die reeks is die GS Line, wat die volgende kenmerke byvoeg: swart, eerder as diamantswart, allooiwiele met dieselfde bande as dié van die Elegance, kleurgekodeerde stampeers sonder chroominsetsels, ‘n swart dak, leerbekleedsel, ‘n elektries verstelbare bestuurdersitplek, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ‘n tienduim-raakskerm, satellietnavigasie met stembeheer en ‘n twaalfduim-instrumentepaneel. 

Een van Opel se advertensieslagspreuke van vroeër jare is dat veiligheid nie opsioneel is as werkverrigting standaard is nie, en dis ook die geval met die Mokka, aangesien verskeie veiligheids-kenmerke standaard toerusting is. Die Elegance spog met die volgende kenmerke: ‘n banddrukmonitor, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, voorste-, kant-, en gordynlugsakke, padtekenherkenning, spoedbeheer met ‘n snelheidsbeperker, ‘n blindekolmonitor, baanhouhulp, ‘n sensor wat voetgangers bespeur, en ‘n sensor wat die bestuurder se gedrag dophou en moegheid bespeur. Die GS Line spog met nog meer veiligheidskenmerke, soos aanpasbare spoedbeheer, ligdiode-matrikskopligte en  ‘n meer gevorderde voorbots-waarskuwing. Die aanpasbare spoedbeheer werk teen snelhede tussen 30 km/h en 180 km/h.

Die snelheid van die motor verminder of vermeerder na aanleiding van die snelheid van die voorste motor maar die snelheid wat ingestel word, word nooit ooskry nie. Die stelsel kan die motor tot stilstand bring en die voorste motor volg wanneer daar ‘n verkeersopeenhoping is. Die voorbots-waarskuwing werk teen snelhede hoër as 5 km/h. Wanneer ‘n ander voertuig of voetganger te vining nader kom, word ‘n waarskuwing uitgestuur en die remstelsel word geaktiveer. Teen minder as 30 km/h word die motor tot stilstand gebring, maar teen hoër snelhede word spoed verminder en die bestuurder moet self hard rem. 

Die pyse van die twee modelle is R 469 900 vir die Elegance en R 519 900 vir die GS Line. Dit sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km in. 

%d bloggers like this: