Breaking News

Oppas vir valse “Ford”-toebehore

Al hoe meer eienaars van Ford se Ranger- en Everest-reekse installeer deesdae toebehore aan hulle voertuie, wat nie Ford Suid-Afrika se amptelike goedkeuring wegdra nie.

Volgens die Ford-motormaatskappy van Suid-Afrika (FMCSA) beïnvloed hierdie toebehore nie net ‘n voertuig se waarborg nadelig nie; dit is ook ‘n veiligheidsrisiko. Toebehore wat amptelik deur die fabriek goedgekeur is en by handelaars aangebring word, is aan toetsing en evaluering onderwerp; dieselfde kan nie gesê word van dié wat agterna elders aangebring word nie.
Nagemaakte sierroosters, bakwerkombouings, komponente wat werkverrigting verbeter, veerstelsels wat verlaag of gelig word en beligtingstelsels kan die voetuig onveilig maak, en kan selfs onwettig in Suid-Afrika wees.

Mnr. Neale Hill, die besturende direkteur van FMCSA, sê hy verstaan en waardeer geesdriftige eienaars se behoefte om hul voertuie besonders te maak, maar hierdie toebehore maak die voertuie minder betroubaar en minder veilig, terwyl dit hul werkverrigting ook nadelig raak. FMCSA bestee baie geld en tyd om hul voertuie te toets, en lê miljoene kilometers af voordat enige nuwe voertuig gereed is vir produksie. Die standaardwaarborg van vier jaar of 120 000 km is ‘n bewys van die gehalte van al die maatskappy se voertuie. Indien daar ‘n component is wat gedurende hierdie tydperk vervang word, sal die maatskappy dit vervang en die waarborg eerbiedig.

Aan die ander kant is die toebehore wat iewers anders aangebring word, nie as oorspronklike toerusting godgekeur nie, en dit het ook nie dieselfde toetse ondergaan nie. Hierdie toetse word in alle klimaatuiterstes uitgevoer , van temperature ver onder vriespunt tot hittetoestande in die woestyn. Daar is ook geen waarborg vir die vakmanskap van hierdie toebehore nie. Die aanbring van hierdie komponente kan beteken dat dit vroeg breek; dit kan maak dat die herstelwerk uiters duur sal wees omdat dit nie deur die waarborg gedek word nie.
Een voorbeeld is die nagemaakte Raptor- of F 150-sierroosters wat as ‘n kosmetiese verandering beskou word. “Die rooster is só ontwerp dat die lugvloei-eienskappe deur die verkoeler en enjinkompartement beheer word; dit is van kritieke belang vir die voertuig se verkoeling en werkverrigting,”sê Hill.

Wanneer ‘n ander rooster aangebring word, word die temperature in die enjinkompartement verhoog ; dit het ‘n nadelige invloed op verskeie meganiese- en elektriese komponente en die risiko dat die voertuig vroeg gaan breek, word verhoog.

Daar is egter ook diegene wat verder gaan, en bakpanele verander, die veerstelsel hoër of laer maak, en die enjin laat instel om werkverrigting te verbeter. Selfs bykomende beligting kan die integriteit van die voertuig se elektriese stelsel beïnvloed, en dis buitendien onwettig in Suid-Afrika. Stampers en bulstawe wat agterna aangebring word, kan die werking van die aktiewe- en passiewe veiligheidskenmerke beïnvloed word, onder meer dié van lugsakke wat lewens kan red. Dieselfde geld modderskerms en enjinkappe wat nie oorspronklike toerusting is nie.

Hill moedig eienaars aan om enige veranderinge, wat hulle aan hul voertuie wil aanbring, sorgvuldig te oorweeg en met ‘n handelaar te bespreek. Daar is verskeie toebehore wat deur Ford goedgekeur word en as fabrieksgemonteerde items, of agterna deur goedgekeurde handelaars, aangebring kan word. Volledige inligting oor goedgekeurde toebehore vir die Ranger en Everest is op www.ford.co.za beskikbaar.

%d bloggers like this: