Breaking News

Padindrukke: Ford Eco Sport Black

Prys: R 336 900

Waarborg: 4 jaar of 120 000 km
Diensplan: 4 jaar of 60 000 km
Maksimum kraglewering: 91 kW @ 6 500 opm
Wringkrag: 150 Nm @ 4 500 opm

Enjinkapasiteit: 1 498 cm³

Ons hou van: Sportiewe voorkoms, praktiese ontwerp, klasleidende veiligheids-kenmerke

Ons hou nie van: Verouderde klankstelsel, aantreklike mededingers

Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2013 het die Ford Eco Sport ‘n gunsteling onder Suid-Afrikaanse motoriste geword en sedert die ontttekking van die Daihatsu Terios aan die plaaslike mark was dit byna ‘n outomatiese keuse vir diegene wat op soek was na ‘n veelsydige motor teen ‘n redelike prys wat onder alledaagse omstandighede gebruik kan word maar ook ‘n goeie grondpad kan baasraak wanneer dit nodig is.

Die Eco Sport-reeks is onlangs uitgebrei met die toevoeging van die Black, gebaseer op die intreevlakmodel van die reeks, die Ambiente en Motor Plus het pas een getoets. Die verskille tussen die Ambiente en die Black is dat die Black swart strepe aan die kante en op die enjinkap, ‘n swart dak en dieselfde allooiwiele as die Trend, ook in swart afgewerk, het. Die afwerking herinner aan dié van Ford-modelle  van die 1970’s soos die Cortina Merk 3  GT en die 20 M RS. Die allooiwiele verbeter die motor se voorkoms aansienlik. Die harde oortreksel van die noodwiel op die agterdeur is ook in swart afgewerk, en dié wat bekommerd is dat die noodwiel gesteel kan word, kan net ‘n slot aanbring. –

Die binnekant van die Eco Sport Black beskik oor die meeste kenmerke wat ‘n mens in ‘n motor van hierdie marksegment sou verwag. Daar is ‘n volledige ritrekenaar, ‘n veelfunksie-stuurwiel, Bluetooth-verbinding, en twee USB-kragpunte wat die bestuurder in staat stel om tegelyk na musiek te luister en ‘n selfoon te laai. Hierdie kenmerk verdien volpunte, want soos wat die moderne neiging is, ontbreek ‘n CD-speler en ‘n mens kan musiek op ‘n USB-stokkie laai vir die lang pad. Daar is egter een kenmerk wat kritiek verdien. Die verouderde klankstelsel beskik nie oor ‘n raakskerm nie, en Android Auto en Apple Car Play is nie beskikbaar nie. Die stelsel is egter maklik om te gebruik en die agterste parkeersensors vergoed tot ‘n groot mate vir die gebrek aan ‘n trukamera. Die handbeheerde lugversorger werk baie goed, en maak die binneruim ‘n baie gemaklike plek in warm weer. Daar is genoeg vir die bagasie van twee tienerkinders en die agterklap wat na die kant toe oopgemaak word, bly ‘n groot voordeel, al is dit effens swaar as gevolg van die noodwiel. Natuurlik kan die agtersitplekke platgevou word indien nodig.

Soos die Ambiente word die Black aangedryf deur dieselfde 1,5 liter-driesinlinderenjin wat uit die Figo kom. Anders as dié van die duurder modelle in die reeks word hierdie enjin nie met ‘n turboaanjaer toegerus nie. Dit het sy voordele en sy nadele. Die voordele is dat onderhoudskostes op die lang termyn dalk goedkoper sal wees en dat noukeurige instandhouding nie van soveel kritieke belang sal wees as met ‘n turboaanjaer nie. Aan die ander kant het ‘n mens geen verskoning om ‘n motor nie noukeurig te onderhou nie. Die nadele is dat die wringkrag van hierdie enjin minder is, en dat dit teen hoër toere gelewer word. Dan is daar natuurlik ook brandstofverbruik. Die toetsmotor het skaars 500 km afgelê en daarom was sy verbruik dalk nie verteenwoordigend van wat voornemende eienaars kan verwag nie. Die gemiddelde verbruik wat ons behaal het, was 9,1 liter per 100 km, wat besonder hoog vir ‘n motor in hierdie segment is. Dit maak ‘n reikafstand van ongeveer 570 km met die 52 liter-brandstoftenk moontlik. Die liggie wat aandui dat brandstof ingegooi moet word, gaan aan wanneer daar nog 80 km met die brandstof in die tenk afgelê kan word. Die vervaardiger se amptelike syfer is 6,9 liter per 100 km en namate die motor se kilometerlesing toeneem, sal sy brandstofverbruik sekerlik verbeter. Dit kan egter ‘n koopbesluit beïnvloed. Die feit dat die Black ‘n outomatiese ratkas met ses gange as standaardtoerusting het, sal vir sommige mense ‘n verrassing of dalk ‘n teleurstelling wees as sy sportiewe voorkoms in aanmerking geneem word. Aan die ander kant is die tegnologie van hedendaagse outomatiese ratkaste so gevorderd dat die werkverrigting en brandstofverbruik baie goed met dié van soortgelyke motors met handratkaste vergelyk. Die ratkas maak die Eco Sport Black maklik om in stedelike toestande, veral druk verkeer, te bestuur. Die Black spog met veiligheidskenmerke soos ABS-remme met noodremhulp , ses lugsakke en stabiliteitsbeheer’;  dit maak hom ‘n goeie keuse vir jong en onervare bestuurders. Die meeste teenstanders het  slegs twee lugsakke en kom sonder stabiliteitsbeheer klaar.

Sedert die begin van die jaar het die marksegment vir klein oorkruisvoertuie soos die Eco Sport geweldig mededingend geword en ‘n paar aantreklike teenstanders is bekendgestel. Omdat die Black met ‘n 1,5 liter-enjin sonder ‘n turboaanjaer toegerus word, gaan ons hom net met mededingers met soortgelyke enjins vergelyk, terwyl dié wat met turboaangejaagde enins aan die beurt sal kom wanneer ons die Trend of Titanium toets. Die Suzuki Vitara Brezza en Toyota Urban Cruiser het uiters gewild geword sedert hulle vroeër vanjaar op die mark gekom het, en die Urban Cruiser het die markleier in hierdie segment geword. Ons het nog nie een van hulle met ‘n outomatiese ratkas onder hande geneem nie, maar die kommentaar van die motorjoernaliste wat reeds het, was nie baie gunstig nie en as jy in een van hulle belangstel, is ‘n handratkas ‘n beter keuse. Die prys van die Vitara Brezza met ‘n outomatiese ratkas is R 309 900 en dié van die Urban Cruiser XR is R 322 000. Die minder luukse XS, teen R 294 800, bied egter beter waarde vir geld. Die Kia Sonet is ook vroeër vanjaar bekendgestel, en is beskikbaar as ‘n LX en ‘n EX. Die Sonet word met ‘n palwissel (CVT)-ratkas toegerus, en nie almal hou daarvan nie. Die pryse van die LX en EX is onderskeidelik R 285 995 en R 305 995.  Die Renault Duster 1,6 Expression is nie met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar nie.

Ten spyte van sy ouderdom bly die Eco Sport ‘n gewilde keuse in sy segment en dis maklik om te verstaan hoekom. Dit is steeds ‘n uiters veelsydige en praktiese voertuig wat by eienaars van alle ouderdomme en albei geslagte byval vind, en ewe tuis in die stad en op ‘n grondpad is. Die Black se stileringspakket gee ‘n byna tienjarige ontwerp ‘n byderwetse voorkoms, hoewel nie almal noodwendig daarvan sal hou nie.  Die toevoeging  van die Black was egter ‘n skitterende besluit en die besparing van R 25 000 in vergelyking met die Trend-outomaties maak van hom  ‘n uitstekende kopie. Ons het hom baie geniet en ons beveel hom sterk aan vir diegene met ‘n aktiewe leefstyl wat op soek is na ‘n voertuig wat maklik is om te hanteer en jare se goeie diens sal gee.  

Die toetsvoertuig is deur CMH Kempster Ford Hatfield beskikbaar gestel.

%d bloggers like this: