Breaking News

Padindrukke: GWM Steed 5 2,0 VGT SX dubbelkajuit

Deur Daantjie Badenhorst.

 

In 2007 was Great Wall Motors (GWM) die eerste Chinese motor-maatskappy wat tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het.

Verskeie maatskappye wat daarna gevolg het, soos Foton, Meiya, Gonow en ander, het gou van die toneel verdwyn maar GWM het sy produkte gedurig verbeter en volhoubaar gebly.

Een rede vir sy sukses is die Steed-reeks, wat deesdae gereeld onder die tien gewildste bakkies in Suid-Afrika is. MotorPlus het reeds die Steed 5 2,2 MPI SX-dubbelkajuit getoets, en nou het dit tyd geword om ook die diesel-weergawe onder hande te neem. 

Sedert ons vorige toets het die Steed 5 ‘n paar klein veranderinge ondergaan, onder meer ‘n nuwe neus, kleurgekodeerde buite-spieëls met geïntegreerde rigting-wysers en nuwe 16-duim wiele. Die toetsmodel het egter allooi-wiele, met 235/70 R 16-bande gehad, asook ander bykomstighede soos ‘n bulstaaf wat net ‘n gedeelte van die voorstamper beskerm, kanttrappies wat in-en uitklim baie vergemaklik, ‘n rolstaaf, ‘n bakseil en ‘n agterste stamper met ‘n trekstang. Dit is alles ‘n kwessie van persoonlike smaak, terwyl jou begroting ook sal bepaal watter bykomstighede jy kan aanbring. Die kanttrappe, die bakseil en die agterste stamper is die belangrikste. Die laaibak van die toetsvoertuig het rubbervoering gehad; dit is ‘n moet vir enige werksvoertuig. 

Die binneruim van die toetsmodel was baie dieselfde as dié van die 2,2, maar interessant genoeg beskik die 2,0 VGT nie oor elektriese vensters agter nie. Dit maak egter nie eintlik saak nie. Dié model is egter wel toegerus met elektries verselbare buitespieëls, lugversorging en ‘n verstelbare stuurkolom. Die radio beskik oor ‘n USB-kragpunt, maar voornemende kopers moet eerder ‘n paar duisend ekstra bestee en ‘n Bluetooth-radio insit. Dit behoort nie eens meer onderhandelbaar te wees nie want dit is onwettig en uiters gevaarlik om met ‘n selfoon teen die oor te bestuur. Die prys van dié model is in elk geval só laag dat ‘n mens dit maar kan doen. Daar is oorgenoeg plek vir los goedere voor die rathefboom en die paneelkissie tussen die sitplekke wat oor twee deksels beskik, is uiters nuttig.

Dis net jammer dat die gemiddelde selfoon nie tussen die twee deksels pas nie. Daar is ook ‘n 12 volt-kragpunt en ‘n sigaretaan-steker wat eerder deur ‘n USB-kragpunt vervang behoort te word. Die enigste twee bekerhouers is in die deure, maar dit is nie ‘n probleem nie. Snaaks genoeg word die 2,2 MPI SX met ‘n verhitbare agterruit toegerus maar nie die 2,0 VGT SX nie. Aangesien baie mense kappies vir hul bakkies gaan aanbring, is dit nie regtig ‘n probleem nie; dis net eienaardig. Die instrumente-paneel bestaan uit ‘n spoedmeter in die middel met ‘n toereteller aan die linkerkant en brandstof- en temperatuur-meters aan die regterkant. Ongelukkig skitter ‘n ritrekenaar in sy afwesigheid, maar dan moet ‘n mens die prys en die ouderdom van die ontwerp in gedagte hou. Die agterkant van die kajuit is effens kleiner as dié van sommige mededingers, maar dubbel-kajuit bakkies het baie ver gevorder sedert die eerste weergawes, van ‘n gewilde Japanse vervaardiger, meer as dertig jaar gelede bekendgestel is.

 

Die groot verskil lê egter onder die enjinkap. Die 2,0 VGT-turbo-diesel enjin waarmee die toetsmodel toegerus is, lewer 105 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 305 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 opm. Die ander verskil is dat die diesel-model met ‘n handratkas met ses gange toegerus word, pleks van die vyf gange van die 2,2 MPI. Die ratwisseling is maklik en die koppelaar is nie te swaar nie; trurat word geskakel deur ‘n ring op te trek en die rat-hefboom weg van jou af en boontoe te skuif. Op die oop pad is daar oorgenoeg krag, en ‘n mens wonder of ‘n groter enjin regtig nodig is, tensy ‘n swaar sleepwa of woonwa gesleep word. Die grootste voordeel van die 2,0 VGT is egter sy brandstof verbruik. Volgens die vervaardigers kan ‘n mens omtrent 10,3 kilometer per liter verwag; dit maak ‘n reikafstand van net meer as 700 km met ‘n 70 liter-brandstof tenk moontlik. Die sesde rat is nog ‘n rede vir hierdie goeie syfer en maak die 2,0 VGT baie beter vir langer afstande as die petrolmodel. Die ritgehalte kan natuurlik nie met duurder mededingers vergelyk word nie, maar dit is darem nie te stamperig nie.

Na aanleiding van die plettertoetse wat ‘n mededinger onlangs gedruip het, is die vraag natuurlik hoe veilig die Steed 5 is. Die SX-modelle word toegerus met twee lugsakke en ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding. Dit behoort standaard toerusting vir die hele reeks te wees, veral vir die dubbel-kajuit modelle wat soms ook as gesinsvoertuie gebruik word. Daarom behoort die standaard-weergawe van die 2,2 MPI aan die mark onttrek te word. Aan die ander kant is dieselfde toetse nie met ander bakkies in hierdie klas uitgevoer nie, en daarom moet ‘n mens maar vertrou dat die Steed 5 se veilgheids-kenmerke voldoende is. Dit is buitendien op dieselfde standaard as vorige geslagte van sommige mededingers, wat voornemende kopers buitendien as gebruikte voertuie teen hierdie prys kan oorweeg.

Daar is werklik geen mededingers wat prysgewys met die toetsmodel kan meeding nie. Die JMC Vigus is een van die mees onderskatte bakkies op die mark, maar die handelaars-netwerk is kleiner en die prys van die vergelykbare model is R 252 000. Die Mahindra Bolero is ‘n verouderde ontwerp en regtig net geskik vir werk. Die dubbel-kajuit se prys is R 221 999, maar hy kan glad nie teen die Steed 5 meeding nie. As jy wel ‘n Mahindra-dubbel-kajuit oorweeg, is die Pik Up S6 baie beter, maar teen ‘n prys van R 312 499. Die Nissan NP 300 Hardbody het hom al oor en oor bewys en die feit dat dit steeds een van die gewildste bakkies op die mark is, beteken dat die meeste mense wat ‘n bakkie vir werk gebruik, sy foute as onbelangrik beskou. Die 2,5 Hi-Rider se prys is R 411 000, selfs duurder as dié van die topmodel in die Steed 6-reeks.  Die ander vraag is of ‘n vorige geslag Ford Ranger, Toyota Hilux of Isuzu KB nie dalk ‘n beter kopie is nie. Die antwoord is nee, want geen gebruikte bakkie bied ‘n waarborg of ‘n geldige diens plan nie en daarby weet ‘n mens gewoonlik nie hoe hard die vorige eienaar met hom gewerk het nie.

Die prys van die GWM Steed 5 2,0 VGT SX-dubbel-kajuit is R 229 900; dis omtrent dieselfde as wat ‘n mens vir ‘n luikrug in die B-segment sal betaal. Dit sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km en ‘n diens plan van drie jaar of 45 000 km in. Die vraag is net watter tipe voertuig by jou leefstyl pas. As ‘n luikrug te klein vir jou gesin is, of as jy lief is vir die buitelewe, is hierdie model beslis die ondersoek werd.  Die ander voordeel is dat die Steed 5 maklik is om in die stad te hanteer en in ‘n gemiddelde garage of parkeerplek by ‘n winkelsentrum pas. Die 2,0 VGT is net meer as R 20 000 duurder as die 2,2 MPI SX, maar die voordele van sy enjin en ratkas weeg baie swaarder op as die prysvoordeel in die 2,2 MPI SX se guns. As jy ‘n bakkie nodig het of as dit beter by jou leefstyl as ‘n motor pas, is daar niks op die mark wat vir jou beter waarde vir geld bied nie. 

 

Enigiemand wat meer inligting nodig het oor die Steed-reeks van bakkies of ‘n toetsrit wil bespreek, kan met mnr. Gerhard Lourens by CMH Haval Silver Lakes op die hoek van Solomon Mahlangu-rylaan en Bendeman Boulevard in Prtoria in verbinding tree. Sy telefoonnommer is 083 214 0642.

%d bloggers like this: