Breaking News

Padindrukke: Haval H1 1,5 VVTI

Deur Daantjie Badenhorst.

Met Haval se aankoms in Suid-Afrika in 2017 was een van die modelle in hulle arsenaal die Haval H1.

Die H1 het, sedert sy bekendstelling, nog min aandag in die media gekry; daarom is dit goed dat ons die geleentheid gekry het om een onder hande te neem.

Die buitestilering van die H1 word oorheers deur allooiwiele met 205/60 R 16 Giti-bande, dakspore en kleurgekodeerde elektries verstelbare buitespieëls met ingeboude rigtingwysers. Giti is vir ons ‘n onbekende bandvervaardiger, en ons het dit nog net voorheen op die GWM Steed-bakkies raakgeloop.

Anders as sommige mededingers beskik die H1 nie oor wat mense ‘n “grassnyer-enjin”, met ander woorde ‘n klein driesilinderenjin van 900 cm³ of een liter met ‘n turboaanjaer, noem nie. Pleks daarvan word hy toegerus met ‘n `1,5 liter enjin met sestien kleppe en wisselende kleptydreëling. Dié enjin lewer 69 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 130 Nm teen tussen 4 000 en 4 900 opm; dit beteken dat daar altyd oorgenoeg krag is, nie net in die stad nie maar ook op die oop pad. Die H1 is gevolglik effens swaarder op brandstof as sommige mededingers, en volgens die vervaardiger is die syfer 7,0 liter per 100 km. Dit maak ‘n reikafstand van ongeveer 580 km met die 45 liter-brandstoftenk moontlik. Dit is egter steeds ‘n goeie syfer vir ‘n motor van hierdie grootte en prysklas.

Die belangrikste veiligheidskenmerke is standaardtoerusting, onder meer twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke en agterste parkeersensors. Hoewel sekere goedkoper motors met ‘n tru-kamera toegerus is, is dit dalk onnodig in ‘n motor van hierdie grootte en is die parkeersensors voldoende.

Aan die binnekant is daar ‘n aantal tekens wat die H1 se ouderdom verraai. Die belangrikste is dat daar min plek vir los goedere behalwe ‘n selfoon wat besig is om te laai, is. Die deursakke is baie klein en ‘n mens kan nie veel daarin bêre nie. Die instrumentepaneel beskik oor ‘n analoog-toereteller en ‘n digitale spoedmeter met die temperatuur- en brandstofmeters aan weerskante. Die veelfunksiestuurwiel is met leer oorgetrek en bevat knoppies vir die radio, telefoon en spoedbeheer. Ongelukkig is die knoppie waarmee die ritekenaar op die H2 beheer word, nie vir die H1 beskikbaar nie aangesien die enigste inligting wat op die H1 se instrumentepaneel verskyn, die afstand is wat ‘n mens nog met die brandstof in die tenk kan aflê voordat brandstof ingegooi moet word.

Die toetsvoertuig het ‘n baie belangrike eienskap gehad wat nie standaardtoerusting is nie; die inligting-en-vermaakstelsel is opgegradeer en sluit satellietnavigasie in. Ons raai voornemende kopers ten sterkste aan om daarvoor te begroot; die R 12 000 wat dit ekstra kos, is deur en deur die moeite werd. Ongelukkig is Android Auto en Apple Car Play nie beskikbaar nie; ‘n mens moet egter onthou dat die H1 se ontwerp omtrent ses jaar oud is. Die bekerhouers voor die rathefboom is ideaal geplaas. Die H1 se bagasiebak bepaal egter of hy die toets slaag of nie. Vir ‘n gesin van vier wat net een motor kan bekostig, is dit te klein. Die agtersitplekke kan wel platgevou word om die bagasieruimte te vergroot, maar dan moet die agterste kopstutte eers verwyder word. Ter versagting  moet ‘n mens byvoeg dat presies dieselfde van sy mededingers gesê kan word. Vir diegene wat reeds ‘n groter motor het, ‘n enkellopende jongmens of ‘n ouer egpaar wat afskaal, behoort dit egter voldoende te wees. Die pakkiesrak rol op en kan verwyder word wanneer nodig.

Mededingers

Die Haval H1 se prys is R 184 990; dit sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km in.

Dit is glad nie so maklik om mededingers vir die H1 te kry nie, want die H1 kan as ‘n klein oorkruismotor eerder as ‘n luikrug beskryf word en daar is min sulke motors teen dieselfde prys, wat nog te sê motors wat so goed toegerus is. As ‘n oorkruis-voertuig ‘n vereiste is, is daar werklik net twee alternatiewe, wat albei effens twyfelagtig is omdat die topmodelle in die twee onderskeie reeks beter kopies is as die modelle wat met die H1 meeding. Die Mahindra KUV 100 K6+ se prys is R 184 999, en dis die middelste model van hierdie reeks. Sy afwerkingsvlak is baie beter as dié van die K2+, maar indien moontlik moet ‘n mens eerder die K8+ oorweeg. Ongelukkig is sy prys nie so mededingend nie. Die Suzuki Ignis sou ook ‘n goeie mededinger gewees het as die topmodel, die GLX, goedkoper was. Die Ignis GL, wat teen die H1 meeding, kos R 180 400, maar is nie heeltemal so goed toegerus nie. As ‘n luikrug voldoende is, kan die Kia Picanto 1,2 Street, wat onlangs opgeknap is en R 188 995 kos, en die Hyundai Grand I 10 1,0 Fluid teen R 196 900 ook oorweeg word. Die laaste mededinger wat miskien die ondersoek werd is, is die Renault Sandero Expression teen R 189 900.  Die twee Stepway-modelle kos egter albei meer as R 200 000 en hul driesilinder-turbopetrolenjins sal nie by almal aanklank vind nie.

Die doel waarvoor ‘n mens die H1 nodig het, of wil gebruik, gaan op die ou einde bepaal of hy vir jou geskik is of nie.  Sy klein bagasieruim skakel hom uit vir gesinne wat net een motor kan bekostig; en dis ‘n groot jammerte. Vir diegene wat wel ‘n groter motor het, of vir wie ruimte nie so belangrik is nie, is die H1 egter die ondersoek werd.

Enigiemand wat meer inligting nodig het, of ‘n toetsrit met die H1 wil bespreek, kan met Gerhard Lourens by CMH Haval Silver Lakes op die hoek van Solomon Mahlangu-rylaan en Bendeman Boulevard in Pretoria in verbinding tree; sy telefoonnommer is 083 214 0642.

 

 

%d bloggers like this: