Breaking News

Padindrukke: Haval H6C 2,0 T Luxury 6-DCT

Deur Daantjie Badenhorst.

 

Nadat Haval in 2017 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het, het hulle die reeks gou uitgebrei met die bekendstelling van die H6C.

MotorPlus het pas die H6C Luxury 6-DCT, die vlagskip van hierdie reeks, met die vriendelike samewerking van CMH Haval Silver Lakes, vir ‘n paar dae getoets. Die H6C moet nie met die H6 verwar word nie; laas-genoemde is ‘n ouer en goedkoper model wat voorheen die GWM-kenteken gedra het en steeds beskikbaar is. 

As jy die H6C se Haval-kentekens sou toeplak, sou jy maklik kon dink dat hy van Europa afkomstig is; dit is dalk die mooiste Chinese motor tot dusver. Die groot sierrooster met die nuwe swart Haval-kenteken is ‘n kenmerkende eienskap en die Luxury word met xenon-kopligte aan weerskante toegerus. Die profiel herinner sterk aan ‘n Europese sportnus voertuig wat ‘n paar honderd duisend meer kos en daar is allooi-wiele met 225/65 R 19 Cooper-bande. Dit klink uitermatig groot en ‘n stel bande gaan jou ‘n fortuin kos, maar ‘n mens vervang nie elke dag bande nie en daar is gelukkig ‘n volgrootte noodwiel onder die bagasiebak se vloer. Aan die agterkant deel die H6C ‘n ontwerpersfout met sekere mededingers. Die agterste rigtingwysers is te laag gemonteer; dit is in die agterstamper wat nie net maak dat dit nie so maklik sigbaar is nie maar ook dat dit makliker aan skade blootgestel word. Dit behoort saam met die remligte net onder die agterruit te wees. 

Die binnekant van die H6C Luxury is goed toegerus, en dis goed om te sien dat ‘n paar van die H2 se goeie kenmerke vir die H6 C oorgedra is. Die groot uitleespaneel tussen die spoedmeter en die toereteller vir die ritrekenaar is steeds daar en om toegang tot daardie inligting, wat onder meer oombliklike en gemiddelde brandstof verbruik, die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word en  die banddruk reg romdom die voertuig insluit, word ‘n knoppie op die leer-oorgetrekte veelfunksie-stuurwiel gedruk. Die inligting-en-vermaakstelsel sluit Bluetooth-verbinding in, maar Android Auto en Apple Car Play is nog nie ingesluit nie. Hopelik sal hierdie kenmerke standaard toerusting word wanneer die reeks detail-veranderinge ondergaan. Die skerm werk met kontroles aan weerskante maar interessant genoeg is die volumeknoppie vir die radio agter die ratkieser. Dit lyk na die beheerknop wat op sommige mededingers aangetref word, maar beheer niks anders nie. 

Baie mense sal ook die insluiting van ‘n CD-speler verwelkom; wanneer ‘n CD gespeel word, word die naam van die kunstenaar, die album en die snit gegee, asook die tyd van die betrokke snit wat reeds verby is en nog oorbly. Omdat daar net een USB-kragpunt in die kajuit is, is ‘n CD-speler ‘n goeie idee vir langer afstande. Ongelukkig is satelliet-navigasie nie eens op die Luxury beskikbaar nie. Die klimaat-beheerstelsel werk baie goed, en die Luxury is daarby ook met ‘n sondak wat oopgekantel en geskuif kan word, toegerus. Die USB-kragpunt is in die paneelkissie tussen die sitplekke wat maak dat die bestuuder se selfoon uit die pad is wanneer dit gelaai word en nie sy of haar aandag aftrek nie. Dié paneel-kissie het ‘n dubbele deksel en die boonste deel is die ideale plek om die motor se sleutel te bêre aangesien hy met ‘n aansit-knoppie toegerus word. Daar is ‘n asbak en sigaret-aansteker net voor die rathefboom; dit behoort met ‘n 12 volt-kragpunt en ‘n bykomende USB-kragpunt vervang te word. Die kleur van die beligting aan die binnekant kan verander word; daar is ses kleure beskikbaar. 

Daar is net een enjin vir die H6C beskikbaar; ‘n turbo-aangejaagde petrol enjin van twee liter wat 140 kW teen 5 200 opm en wringkrag van 310 Nm teen 2 000 opm lewer. Die toetsmodel was toegerus met die DCT-ratkas, wat ons eerste keuse sou wees. Ratwisseling is uiters glad en die ratspane agter die stuurwiel maak dit moontlik om ratte met die hand te wissel sonder om die versnellerpedaal te los. Om dit te kan doen, moet die ratkieser in die handrat-funksie wees. Daar is oorgenoeg krag onder alle omstandighede, maar die toetsmodel se brandstof verbruik van 13,0 liter per 100 km is uiters hoog. Ter versagting moet ‘n mens noem dat die toetsmotor net meer as 7 000 km afgelê het en dat sy verbruik mettertyd sal verbeter. Die vervaardigers se gemiddelde verbruik is 11,6 liter per 100 km, met ander woorde 8,6 kilometer per liter, wat ‘n reik-afstand van net meer as 520 km met die 61 liter-brandstof tenk moontlik. 

Soos wat ‘n mens van ‘n voertuig in hierdie klas kan verwag, is die belangrikste veiligheids-kenmerke standaard toetrusting. Benewens voorste-, kant- en gordyn-lugsakke word die H6C toegerus met wegtrek- en afdraande-hulp, ‘n banddruk-monitor, ‘n blindekol-monitor, elektroniese stabiliteitsbeheer en ‘n trukamera wat die bestuurder waarsku as daar ‘n hindernis aan die agterkant van die voertuig is en die radio afskakel wanneer die voertuig in trurat is. 

Daar is min vervaardigers wat werklik mededingers teen dieselfde prys het: die toetsmodel se prys is R 404 900, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km, padbystand van vyf jaar ongeag die motor se kilometer-lesing en ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000 km insluit. Die medededingers  wat dieselfde kraglewering, werkverrigting en strandaard toerusting bied, is heelwat duurder. Die intreemodel van die Kia Sportage-reeks is die 1,6 GDI Ignite teen R 399 995, maar meer as een persoon het al gesê dat sy werkverrigting ontoereikend is. Die volgende model in die reeks is die 2,0 Ignite Plus teen R 409 995. Die Nissan X-Trail 2,0 Visia se prys is R 409 900, maar vir die X-Trail is ‘n dieselenjin ‘n beter keuse.  Die Mitsubishi Eclipse Cross 2,0 se prys is R 409 995 maar hy is effens kleiner. Die Renault Koleos Expression word op dieselfde onderstel as die Nissan X-Trail gebou; hy word met ‘n vier-silinder enjin van 2,5 liter toegerus en sy prys is R 409 900. Die Landwind 5 2,0 T Flagship se prys is ’n ongelooflike R 313 880, maar hoewel ons van hom gehou het toe ons hom verlede jaar getoets het, is die handelsnaam té onbekend en die JMC-handelaars netwerk wat hom versprei, nie naastenby teenwoordigend genoeg nie. Sy voortgesette bemarking in Suid-Afrika is ten minste volhoubaar.

Die H6C is verdere bewys van hoe ver Chinees vervaardigde voertuie die afgelope paar jaar gevorder het. Dit is ‘n uiters aantreklike voertuig wat uitstekende waarde vir geld bied en groot genoeg vir feitlik enige gesin is.  Die vraag is net of die prysverskil van omtrent R 75 000 tussen hom en die H2 Luxury Outomaties geregverdig kan word. As die H2 dalk vir jou te klein is en jy die geld vir die H6C het, is die antwoord “ja”, maar dan moet jy vir brandstof begroot. Die H6 C het MotorPlus geweldig beïndruk en ons sal hom miskien bo een of twee van sy gevestigde mededingers verkies. 

Enigiemand wat meer besonderhede nodig het of ‘n toetsrit wil bespreek, kan met Gerhard Lourens by CMH Haval Silver Lakes, hoek van Solomon Mahlangu-rylaan en Bendeman Boulevard in Pretoria gesels. Sy telefoon nommer is 083 214 0642.

Belangrike syfers: Haval H6C 2,0 T Luxury 6-DCT:

Prys: R 404 900
Enjinkapasiteit: 1967 cm³

Kraglewering: 140 kW teen 5 200 opm

Wringkrag: 310 Nm teen 2 000 opmBrandstofverbruik:  13,0 liter per 100 km (werklike verbruikO
                                    11,6 liter per 100 km (volgens vervaardigers)
Brandstoftenkkapasiteit: 61 liter
Reikafstand: Ongeveer 520 km (volgens vervaardiger)

Waarborg: 5 jaar of 100 000 km
Diensplan: 5 jaar of 60 000 km.

%d bloggers like this: