Breaking News

Padindrukke: Mazda se nuwe BT 50 3,0 Individual 4×4

Die Mazda BT 50 is die jongste bakkie op die Suid-Afrikaanse mark en slegs as ‘n dubbelkajuit beskikbaar. Die Mazda se BT 50 3,0 Individual 4×4-bakkie is die vlagskip in die Mazda se reeks bakkies. Dit beteken dit is Mazda se top bakkie is, wat met die ander bakkie-vervaardigers se glansbakkies moet meeding. Glansbakkies soos byvoorbeeld Ford se Stormtrak, Toyota se Hilux 2.8 GD6 4X4 Legend RS, Nissan se Navarra Pro 4-X, die Volkswagen se Amarok 3,0 V6 Extreme en selfs Isuzu se se huidige X-Rider 3,0 TD.

Mazda se nuwe BT 50 is op die nuwe Isuzu D-Max gebaseer.

Nadat Ford en Mazda jare lank saam bakkies ontwikkel het, het Mazda nou met Isuzu saamgespan vir die splinternuwe BT-50, wat in 2021 plaaslik bekendgestel is. Let op dat die BT 50 geskoei is op die nuwe Isuzu D-Max wat eers in 2022 na Suid-Afrika kom.

Die nuwe Mazda BT 50-reeks word in Thailand vervaardig en word as ‘n ontspanningsvoertuig eerder as ‘n werkesel bemark. Om hierdie rede sal die modelbenamings voortaan met dié van Mazda se passasiersmotors ooreenstem, wat beteken dat die verskillende modelle as die Active, Dynamic en Individual bekend sal staan.

Aan die buitekant is Mazda se Kodo-ontwerprigting wat ook vir die passasiersmodelle gebruik word, duidelik sigbaar. Daarom is dit dadelik herkenbaar as ‘n hedendaagse Mazda. Die ontwerp van die kopligte stem ooreen met dié van sportnutsvoertuie soos die CX-3 en die nuwe CX-30. Aan die agterkant het die ontwerpers weggedoen met die agterligte wat tot in die agterklap gestrek het, en gewone agterligte wat om die hoeke krul, word gebruik.  Die Active word met 17 duim-allooiwiele toegerus en die Dynamic en Individual spog met 18 duim-allooiwiele. Die hele reeks word toegerus met ligdiodekopligte en  dagryligte.

Die hele binnekant is herontwerp met die oogmerk om op die bestuurder gerig en  so gemaklik moontlik vir alle insittendes te wees. Só het die agterste insittendes toegang tot kenmerke soos ‘n USB-kragpunt, afsonderlike luguitlate vir die ventilasiestelsel, asook ‘n gryphandvatsel. Die instrumentepaneel beskik oor twee analoogwyserplate met ‘n 4,2 duim-uitleespaneel in die middel, Die paneelbord beskik oor ‘n raakskerm van sewe of nege duim, met Android Auto en Apple Car Play, asook ses of agt luidsprekers afhangende van die model.

Die Active word aangedryf deur ‘n 1,9 liter turbodieselenjin wat 110 kW en 350 Nm se wringkrag lewer. Hierdie model is die enigste een wat met ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar is. Die Dynamic en Individual se drieliter-turbodieselenjin lewer 140 kW en 450 Nm se wringkrag. Die Dynamic is net as ‘n 4×2-model beskikbaar terwyl vierwielaandrywing standaardtoerusting vir die Individual is.

Die hele reeks word toegerus met veiligheidskenmerke soos sewe lugsakke, deure wat outomaties sluit wanneer die voertuig wegtrek, ‘n trukamera, sleutellose toegang, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, wegtrekhulp, afdraandehulp en sleepswaaibeheer.

Die Active se standaardkenmerke sluit die volgende in: ‘n seweduim-raakskerm, twee USB-kragpunte, ‘n veelfunksiestuurwiel met kontroles vir die klankstelsel en die telefoon, stembeheer, swart en grys doekstofbekleedsel vir die sitplekke, handbeheerde lugversorging, elektries verstelbare buitespieëls wat met die hand ingevou kan word,’n sluitbare agterklap en ‘n agterste ewenaarslot.

Benewens die groter enjin voeg die Dynamic die volgende kenmerke by: ‘n negeduimraakskerm, verchroomde buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, silwer kanttrappies, parkeersensors voor en agter, ‘n stuurwiel en ratkieserknop wat met leer oorgetrek is, dubbelsone-outomatiese klimaatbeheer, ‘n agterste armleuning met bekerhouers, ‘n klankstelsel met agt luidsprekers, deurhandvatsels en ‘n agterklapknip wat in chroom afgewerk is, ruitveërs wat reën outomaties bespeur  en 18 duim-allooiwiele. Die enigste verskil tussen die Dynamic en die Individual is dat laasgenoemde model vierwielaangedrewe is.

Nou dat ons verstaan dat die Mazda BT50 is eintlik Isuzu se X-rider in 2022 se gewaad, maar tog met ‘n spatseltjie Mazda by. Nou dit is daardie spatseltjie wat my dalk eerder die Mazda sal koop as die Isuzu. Daardie “spatseltjie” sien ons in die pragtige instrumente paneel en die elektroniese ondersteuning. Dit is byvoorbeeld seepglad maklik om jou selfoon op die Mazda te koppel. Die aanboord-rekenaar is funksioneel en maklik om te werk. Dit is asof die huidige reeks Isuzu X-riders se elektronika laas met die Apollo 13 opgedateer is, terwyl Mazda op datum is met die jongste tegnologie.

Die 4×4 ry redelik hard, maar nadat ons ‘n paar sakke mielies agterop gelaai het, was die rit meer gemakliker. Sy enjin is besonder kragtig met die vrag agterop wat hom meer padvastheid gegee het, kon ons maklik ‘n snelheid van 160 km/u handhaaf.

Al werklike klagte van die BT 50 3,0 Individual 4×4 wat veronderstel is om Mazda se topmodel te wees is, is dat die sitplekke met materiaalstof oorgetrek is en nie met leer nie. Aan die ander kant weer is die BT 50 3,0 Individual 4×4 gemeet aan die pryse van sy mededingers redelik aan die goedkoop kant en daarom moes Mazda seker hier-en-daar bietjie spaar op die uitleg van die voertuig.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg en diensplan van drie jaar ongeag die voertuig se kilometerafstand insluit, lyk só:

1,9 Active -handrat: R 611 900
1,9 Active -outomaties: R 647 900
3,0 Dynamic 4×2: R 759 400
3,0 Individual 4×4: R 794 400

%d bloggers like this: