Breaking News

Padindrukke: Renault Kwid 1,0 SCe Climber en Expression AMT

Toe Renault die Kwid in 2016 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel het, moes dié vervaardiger venynige en soms genadelose kritiek verduur as gevolg van sy gebrek aan veiligheids-kenmerke, maar dit het nie gekeer dat hy een van die gewildste motors op die plaaslike mark geword het nie.

Nadat ABS-remme vroeër vanjaar standaard toerusting geword het, is die jongste weergawe, met ‘n paar ingrypende veranderinge, pas in Suid-Afrika bekendgestel. MotorPlus het twee modelle, die Climber-handrat en die Exporession AMT, vir kort toetsritte geneem.

Seker die belangrikste verbetering op die nuwe model is die wiele, wat van dertien na veertien duim vergroot is. Dit maak ‘n groot verskil aan sy padhou-vermoë, die nuwe model is baie meer padvas en bakrol word tot ‘n minimum beperk. Die ABS-remstelsel is nog ‘n welkome verbetering.  Ongelukkig skitter ‘n agterste ruitveër en -verwarmer steeds in hul afwesigheid; dit is onverskoonbaar selfs al is dit die moderne neiging in hierdie marksegment.

Die handrat-model is maklik genoeg om te bestuur, die koppelaar is lig en dis maklik om ratte te wissel. Die een-liter enjin lewer oorgenoeg krag vir stedelike omstandighede maar dit sal eers moontlik wees om vas te stel of hy geskik is vir langer afstande deur op die oop pad met hom te ry. Dit was op hierdie stadium nog nie moontlik nie. Die AMT, wat die Easy R-kenteken op die agterklap het, het nie ‘n konvensionele ratkieser nie; eerder ‘n draaiknop met drie funksies, naamlik Neutral, Reverse en Drive. Die feit dat daar nie ‘n Park-funksie is nie, skep ‘n probleem. Gelukkig is daar ‘n ratwyser op die instrumente-paneel. Die AMT-modelle is R 10 000 duurder as die vergelykbare handratmodelle en tensy omstandighede ‘n outomatiese ratkas noodsaak, is dit beter om die handratmodel te kies.

Die binnekant spog ook met ‘n aantal verbeteringe. Die instrumente-paneel is baie makliker om te lees as in die verlede en beskik ook nou oor ‘n toereteller. Die knoppie waarmee die verskillende funksies van die ritrekenaar gekies word, verdien egter kritiek; dit is binne-in die instrumente-paneel net langs die brandstof-en temperatuur-meters. Ander Renault-modelle se knoppie vir hierdie funksies is aan die punt van die beheerstokkie vir die ruitveërs; dit sou beter gewees het as die Kwid dieselfde kenmerk kon hê. Die Dynamique en Climber het ook ‘n trukamera, asook Android Auto en Apple Car Play. Die bekleedsel van die Dynamique en die Climber is ‘n aangeleerde smaak; die rugleunings van die Dynamique se voorsitplekke is rooi, en daarom is dit nie noodwendig gepas vir elke bakkleur waarin hy beskikbaar is nie. Só sal dit byvoorbeeld nie by ‘n blou motor pas nie. Die Climber het oranje insetsels oral, ook op die sitplekke, en hierdie model sal dalk eerder by jonger kopers byval vind. Die Climber is nie in rooi beskikbaar nie en ook nie in silwer nie; die kombinasie van silwer en oranje kon mooi gelyk het.

Die pryse van die twee toetsmodelle is R 154 995 vir die Expression AMT en R 174 995 vir die Climber. Metaal-verf kos R 2 500 ekstra. Die Climber se vernaamste teenstanders is die nuwe Mahindra KUV 100 NXT K2 #DARE, die Datsun Go Lux en die Hyundai Atos terwyl die Expression AMT hoofsaaklik met die Suzuki Celerio GL AMT en die Kia Picanto 1,0 Start-outomaties meeding.  Die nuwe Datsun Go Lux CVT is effens duurder en is eerder ‘n teenstander vir die Dynamique of die Climber.

Die vraag is nou of Renault genoeg gedoen het om die kritici van mening te laat verander. Die nuwe Kwid is baie beter as sy voorganger; die groter reeks modelle en bykomende veiligheids-en geriefs-kenmerke maak ‘n groot verskil en sy padgedrag en remvermoë het baie verbeter. Daarby is sy grond-vryhoogte geskik vir minder goeie pad-oppervlaktes en sy bagasiebak is een van die ruimstes in sy klas. Een ernstige punt van kritiek wat nie aandag gekry het nie, is die baie klein brandstof-tenk, wat net 28 liter hou. Dis kleiner as dié van sommige motorfietse, en  dit sal ‘n gesukkel wees om 400 km uit ‘n tenk te kry. Daarby is daar geen strukturele veranderinge aangebring, met die uitsondering van die groter wiele, nie. 

%d bloggers like this: