Breaking News

Padindrukke: Suzuki Baleno 1,5 GL

Prys: R 225 900

Maksiumum kraglewering: 77 kW @ 6 000 opm

Enjinkapasiteit: 1 462 cm³

Ons hou van: Pragtige voorkoms, waarde vir geld, ruimte, lae brandstofverbruik, goeie naverkoopdiens

Ons hou nie van: Die meeste mense sal eerder die Swift GLX of Starlet verkies

Suzuki Auto SA het pas sy nuwe Baleno in Suid-Afrika bekendgestel en ons het die geleentheid gehad om die mediabekendstelling van die nuwe model in Kwa Zulu Natal by te woon. Hier het ons die geleentheid gehad om veral die GL baie goed te leer ken, en hier is ons indrukke.

Daar is ‘n aantal pragtige  luikrugmotors in die B-segment waarin die Baleno meeding, en na ons mening is die Baleno vir seker een van die heel mooistes, nie net in hierdie segment nie, maar ook op die plaaslike mark oor die algemeen. Suzuki sê die nuwe Baleno is ‘n splinternuwe motor al lyk hy baie soos sy voorganger, maar dis goed dat daar nie veel aan die voorkoms getorring is nie. Die uitstaande kenmerke van die nuwe model is die nuwe driedimensionele sierrooster aan die voorkant en die nuwe verdeeelde agterligsamestellings. Die GL kry ook nou dieselfde chroomstrook onder die agterruit as die GLX, waarin die trukamera gehuisves word. 

Die nuwe GL se spesifikasievlak stem baie ooreen met dié van die vorige GLX, maar nie al daardiee model se toerusting is na die nuwe GL toe oorgedra nie. Die instrumentepaneel is byvoorbeeld nog dieselfde as voorheen, met die brandstofmeter tussen die spoedmeter en die toereteller en die uitleespaneel van die ritrekenaar net bokant dit. Die seweduim-raakskerm gee dieselfde inligting, onder meer gemiddelde brandstofverbruik en die afstand wat nog afgelê kan word met die brandstof wat nog in die motor is, en daar is ook ander funksies op die skerm wat maklik is om te gebruik. Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play word ook ingesluit en is maklik om te koppel. Ons sou wel nog minstens een bykomende USB-kragpunt wou hê, want tensy die 12 volt-kragpunt gebruik word, kan ‘n mens nie op die langpad tegelyk na musiek luister en ‘n selfoon laai nie. Die leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel gee ‘n mens ook maklike toegang tot die klankstelsel, die spoedbeheer en die telefoon. Een rede hoekom die Baleno eintlik gewilder behoort te wees, is dat daar oorgenoeg plek vir vier of vyf mense saam met hul bagasie is, wat dit die ideale motor vir ‘n groeiende gesin maak. Daar is oorgenoeg kop-een beenruimte voor en agter.

Onder die enjinkap van die nuwe Baleno word ‘n groter en kragtiger enjin as voorheen aangetref; dieselfde enjin as dié van die Vitara Brezza, Ciaz, Ertiga en Jimny word gebruik. Die kraglewering van die nuwe model is 9 kW beter as voorheen; dit het natuurlik ook ‘n positiewe invloed op sy krag-tot-massaverhouding. Die Baleno weeg minder as ‘n ton, wat die verhouding 81 kW per ton maak; ‘n baie indrukwekkende syfer vir ‘n motor in hierdie segment. Die vyfgang-handratkas is beslis ‘n beter keuse as die outomatiese viergangratkas; die motor is maklik om te bestuur, en ratwisseling is geen probleem nie. Die kontroles is lig en maklik om te gebruik en die stabiliteitsbeheer waarmee die hele reeks toegerus word, maak dit ‘n goeie keuse vir jong bestuurders. Die enjin is nie te raserig nie, een van wind- of padgeraas is daar weinig indien enige sprake.  Die gemiddelde brandstofverbruik is 6,2 liter per 100 km wat ‘n reikafstand van ongeveer 600 km met die klein 37 liter-brandstoftenk moontlik maak.

Hoewel die pryse van nuwe motors só gestyg het dat dit bloot ‘n droom vir die meeste mense is, is daar tog ‘n paar mededingers waarna ‘n mens ook kan kyk. Die VW Polo Vivo is ‘n gunsteling onder Suid-Afrikaanse kopers en die feit dat hy plaaslik vervaardig word, tel sterk in sy guns. Die intreeemodel in die reeks is die 1,4 Trendline, wat R 235 200 kos. Sy spesifikasievlak kan egter nie heeltemal met dié van die Baleno meeding nie en die gebrek aan ‘n diensplan is absoluut onverskoonbaar. Die Hyundai Grand I 10 is nog ‘n motor wat byval by die Suid-Afrikaanse publiek vind, maar hoewel die Motion, wat die intreeevlakmodel van die reeks is, goedkoper as die Baleno is, is hy kleiner en natuurlik nie naastenby so ruim nie. Die Grand i10 se prys sluit ‘n diensplan van een jaar of 15 000 km in; dit is heeltemal ontoereikend. Kia het nie ‘n luikrug wat tussen die kleiner Picanto en die groter Rio inpas nie; as jy ruimte nodig het en in ‘n Kia belangstel, sal die Pegas, wat net as ‘n sedan beskikbaar is, voldoende moet wees. Die intreemodel van die reeks is die LX, wat R 234 995 kos. Dan is daar natuurlik die twee vanselfsprekende alternatiewe; een wat op die Baleno gebaseer is en een wat op dieselfde vertoonlokaal staan. Die Toyota Starlet is ook pas opgeknap, en die model wat die beste met die Baleno GL vergelyk, is die Xi, wat R 226 200 kos; met ander woode net meer as die Baleno. Ongelukkig is die Starlet nie met ‘n trukamera toegerus nie, en sy waarborg en diensplan is korter.  Suzuki se handelaarsnetwerk het die afgelope tyd gegroei en die maatskappy hoef glad nie vir Toyota terug te staan wat naverkoopdiens betref nie. Dar is ook die Swift GLX, die vlagskip van Suzuki se effens kleiner reeks, wat die afgelope tyd geweldig in gewildheid toegeneem het. Die spesifikasievlak van die GLX stem baie ooreen met dié van die Baleno GL, maar allooiwiele is standaard toerusting en die keuse van ‘n motor met twee bakkleure sal veral by jonger kopers byval vind. 

Die Baleno is beslis een van die meer onderskatte motors op die Suid-Afrikaanse mark, en dis jammer, omdat hy, nou meer as ooit, soveel het om vir die Suid-Afrikaanse motoris te bied. Hoewel ons nog nie die Swift GLX getoets het nie, is ons vas oortuig dat die Baleno ‘n beter keuse is. Ons sal hom beslis ook bo die Starlet verkies, en in hierdie segment is hy trouens ons eerste keuse. Ons hou regtig baie van die nuwe Baleno GL, en  hou duim vas dat sy gewildheid al hoe meer sal toeneeem.

%d bloggers like this: