Breaking News

Padindrukke: Suzuki Dzire 1,2 GL

Prys: R 200 900

Maksimum kraglewering: 61 kW @ 6 000 opm
Wringkrag: 113 Nm @ 4 200 opm
Enjin kapasiteit: 1 197 cm³

Ons hou van: Waarde vir geld, brandstof-doeltreffendheid, goeie naverkoopdiens, aantreklike voorkoms
Ons hou nie van: Agtersitplek kan nie platgevou word nie; GLX-afwerking nie beskikbaar nie, onregverdige Uber-stigma soos met ander soortgelyke motors

Die marksegment vir sedans het al hoe meer begin krimp te midde van die toenemende gewildheid van oorkruismotors en sportnutsvoertuie, maar daar is wel ‘n paar vervaardigers wat meer as een mededinger in hierdie segment in die veld stoot.

Een daarvan is Suzuki, wat sy Dzire teen die einde van 2020 opgeknap het. Motor Plus het  die GL-handratweergawe ‘n week lank getoets. Die Dzire was voorheen ‘n Swift-gebaseerde model, en die eerste geslag, wat as die Swift Dzire bekendgestaan het,  het ‘n bagasiebak gehad wat aangeplak gelyk het, asof die ontwerpers vergeet het om dit by te voeg. Die nuwe model, wat ‘n model in eie reg is hoewel dit steeds op die Swift-onderstel vervaardig word, stel hierdie saak reg; dit is ‘n uiters aantreklike motor met ‘n baie meer gentegreerde ontwerp. Die neus is dieselfde as dié van die Swift, maar die breë chroomstroook wat op die nuwe Swift se sierrooster aangebring word, is nie op die Dzire te sien nie. Die Dzire se ontwikkelingsiklus stem, om die waarheid te sê, nie met dié van die Swift ooreen nie, en die opgeknapte Dzire het ‘n paar maande voor die jongste weergawe van die Swift op die mark gekom. Een nuwe kenmerk van die GL, die vlagskip van die reeks, verdien die hoogste lof. Die plastiek wieldoppe waarmee die vorige Dzire toegerus is, het plek gemaak vir netjiese allooiwiele met 185/80 R 15 Apollo-bande. Die toetsmotor was donkerblou, en omtrent almal wat dit gesien het, het positiewe kommentaar gelewer. Dié kleur laat ‘n motor wat nie te duur is nie, besonder spoggerig lyk.

Die binnekant van die Dzire is goed toegerus, selfs al is die GL-afwerking die beste wat vir dié reeks beskikbaar is. Die klankstelsel spog met Bluetooth-verbinding, en die insluiting van ‘n CD-speler verdien drie hoera’s! Dit beteken dat dit moontlik is om terselfdetyd op die lang pad na musiek te luister en ‘n selfoon te laai. Die USB-kragpunt, asook die voorste van die twee 12 volt-kragpunte, is heel voor in die middelkonsole geleë; gevolglik kan ‘n mens ‘n selfoon wat besig is om gelaai te word, uit die pad hou sonder dat dit die bestuurder se aandag aftrek. Daar is ook ‘n tweede 12 volt-kragpunt tussen die sitplekke vir agterste insittendes, hoewel ‘n tweede USB-kragpunt ‘n beter idee sou wees. Die ritrekenaar gee die motor se oombliklike en gemiddelde brandstof-verbruik asook die afstand wat nog met die brandstiof in die tenk afgelê kan word. Ongelukkig sal kopers van die Dzire sonder ‘n raakskerm, Android Auto en Apple Car Play, en ‘n trukamera oor die weg moet kom, aangesien die GLX-afwerking nie vir die Dzire beskikbaar is nie. Die agtersitplekke bied voldoende ruimte vir twee tieners, maar die bagsieruim kan nie vergroot word nie omdat die agtersitplek nie platgevou kan word nie. Die bagasiebak is egter groot genoeg vir die meeste mense en dit sal selde gebeur dat ‘n mens meer ruimte nodig het. 

Dieselfde 1,2 liter vier-silinder enjin as dié van die Swift is standaard toerusting vir die hele Dzire-reeks, en die motor se lae massa verbeter sy krag-tot-massa-verhouding en daarom ook sy werkverrigting. Die toetsmodel het die vyfgang-handratkas gehad, en daar moet ‘n baie goeie rede wees hoekom ‘n mens die AMT, vir alle praktiese doeleindes ‘n handrat sonder ‘n koppelaar, sal verkies. Die motor se kontroles is lekker lig, en daarom is dit maklik om hom te bestuur. Die kompakte afmetings beteken dat die gebrek aan ‘n trukamera nie ‘n groot probleem is nie. Ons het gedurende die toets van Pretoria af Johannesburg toe en terug met hom gery; die motor het hom baie goed op die oop pad gedra en die snelheidsperk van 120 km/h gemaklik gehandhaaf.  Die brandstof-verbruik wat ons met hom behaal het, was verstommend, naamlik  gemiddeld 20,8 kilometer per liter, wat beteken dat ‘n algehele reikafstand van 770 km met die 37 liter-brandstoftenk moontlik is. Die toetsvoertuig het omtrent 7 000 km afgelê; daarom is dit die tipe syfer wat ‘’n mens kan verwag as die motor behoorlik ingeloop is. Die nuwe Dzire word met stabiliteits-beheer toegerus, wat hom ‘n goeie keuse vir onervare bestuurders maak, asook ABS-remme en twee lugsakke. 

Hoewel Toyota die Etois-sedan nie vervang het nie, is daar ‘n paar mededingers in die Dzire se marksegment.  Die Honda Amaze is dié vervaardiger se intreemodel, en ‘n mens kan maar net die besluit om slegs ‘n sedan aan die onderkant van die reeks bekend te stel, bevraagteken. Hoe ook al; die prys van die Comfort, wat die duurste model in die reeks is, is R 227 800, en sy waarborg en diensplan is dieselfde as dié van die Dzire, naamlik vyf jaar of 200 000 km en twee jaar of 30 000 km onderskeidelik. Die ander mededinger in hierdie klas is die Ford Figo, wat beskikbaar is met die Ambiente- of Trend-afwerking. Die Trend se prys is R 235 800, en is beslis die moeite werd as ‘n mens sy spesifikasievlak met dié van die Ambiente, wat R 226 400 kos, vergelyk. Die Figo se diensplan van vier jaar of 60 000 km tel baie sterk in sy guns, en mag dalk net ‘n koopbesluit beïnvloed.  Hierdie twee mededingers laat die Dzire, wat R 200 900 kos, na uitstekende waarde vir geld lyk.

Die Dzire is vir seker een van die mees onderskatte modelle in Suzuki se reeks, dalk omdat hy nie die byderwetse beeld van die Swift uitstraal nie, en omdat meer mense deesdae luikrug- of oorkruis-motors verkies. Daarby is dit ‘n skande dat die Uber-stigma aan sedans in hierdie segment kleef. Suzuki het die afgelope tyd verskeie toekennings vir naverkoopdiens gewen en verbeter gereeld sy eie verkoopsrekords. Daarom gaan ‘n mens nie die Dzire koop om aandag te trek of mense te beïndruk nie, maar omdat dit ‘n motor is wat uitstekende waarde vir geld en lae loopkostes  bied, en tot jare se goeie diens in staat is. Daarmee is daar hoegenaamd niks verkeerd nie.

%d bloggers like this: