Breaking News

Padindrukke: Toyota RAV 4 2,5 AWD VX

In 1995 het Toyota ‘n splinternuwe marksegment geskep met die bekendstelling van die RAV 4, wat vierwiel-aandrywing gehad het maar nie met ‘n laestrek-ratkas toegerus is nie.

Hoewel die meeste vervaardigers intussen mededingers in hierdie segment bekendgestel het, het die RAV4 ‘n gunsteling gebly omdat die reeks voortdurend verander en vernuwe is. Die driedeurbakwerk is byvoorbeeld met die derde geslag aan die mark onttrek en voorwielaandrywing is mettertyd in die meeste modelle gebruik.

Vroeër vanjaar is die jongste RAV4 bekendgestel. Motor Plus het ‘n padtoets met ‘n verskil met die topmodel, die 2,5 AWD VX, uitgevoer deurdat ons van Pretoria na die plaas Kwaggalaagte tussen Kinross en Leandra in Mpumalanga en terug gereis het. Die vraag wat natuurlik ontstaan het, was of die RAV 4 die uitdaging van plaaspaaie kon hanteer en of hy dalk daarvoor sou terugdeins.

Die buitestilering van die nuwe RAV4 is effens meer hoekig as voorheen; daar is mense wat dalk nie daarvan hou nie, maar hoe meer ‘n mens hom op die pad sien, hoe makliker raak ‘n mens hom gewoond. Die wynrooi bakkleur en allooi-wiele van 19 duim met 235/55 R 19-bande van die toets-voertuig het besonder aantreklik gelyk. Die nadeel van die groot wiele is dat daar net plek vir ‘n ruimte-besparende noodwiel is. Die nuwe RAV 4 is meer hoekig en beslis nie meer die mode-bykomstigheid wat veral die eerste reeks was nie. Die RAV 4-reeks bestaan uit die 2,0 GX-handrat, die 2,0 GX CVT, die 2,0 GX-R AWD CVT, die 2,0 VX CVT en die onderwerp van hierdie verslag, die 2,5 AWD VX.

Die binneruim van die VX is baie goed toegerus; tussen die analoog-toereteller aan die linkerkant en brandstof- en temperatuur-meters aan die regterkant is ‘n groot spoed-meter met ‘n analoog-voorkoms maar digitale tegnologie. Hierdie spoedmeter word net in die VX gebruik.  In die middel daarvan is die uitleespaneel van een van die mees omvattende ritrekenaars van enige motor.Dit bevat onder meer inligting oor buite-temperatuur, brandstof verbruik, die afstand wat nog met die brandstof in die motor se tenk afgelê kan word en die frekwensie van die radiostasie waarna daar geluister word.  Die raakskerm wat ook in die Hilux gebruik word, is een van die hoogtepunte van die binnekant. Die tuisskerm wys die besonderhede van die slimfoon wat gekoppel is, die frekwensie van die radiostasie waarna daar geluister word of die besonderhede van die liedjie wat deur middel van die USB-stokkie gespeel word, die gemiddelde brandstof verbruik en die afstand wat nog afgelê kan word voordat brandstof ingegooi moet word. Daar is ongelukkig een onverskoonbare weglating: ‘n navigasie-stelsel skitter in sy afwesigheid en Toyota moet dringend ‘n plan maak om dit minstens vir die VX standaard-toerusting te maak. Voor die ratkieser is daar ‘n koordlose selfoon-laaier en daar is twee bekerhouers en ‘n ruim paneelkissie tussen die voorsitplekke. Die sitplekke self word elektries verstel en leerbekleedsel in swart of beige is standaard toerusting vir die VX. Die toesvoertuig het swart bekleedsel gehad en dis miskien die meer praktiese keuse. Die VX het een USB-kragpunt voor en twee agter. Daar is ook twee 12-volt kragpunte.  Die agterklap word met die druk van ‘n knoppie oopgemaak en daar is ‘n knoppie binne-in waarmee dit toegemaak kan word. 

Onder die enjinkap is daar ‘n petrol-enjin van 2,5 liter met vier silinders; die nuwe RAV 4 is glad nie met ‘n diesel-enjin beskikbaar nie. Hierdie enjin lewe 152 kW teen 6 600 opm en 243 Nm teen tussen 4 000 en 5 000 opm. Die 2,5 VX is die enigste model in die reeks met vierwiel-aandrywing en ‘n outomatiese ratkas; die twee-liter modelle is beskikbaar met ‘n hand- of CVT-ratkas. Die ratwisseling is uiters glad en dis uiters maklik om die handrat-funksie te gebruik. Daar is agt ratte, wat eintlik oorgenoeg is. Die vierwiel-aandrywingstelsel is een van verskeie veiligheids-kenmerke wat standaard toerusting is; daar is ‘n blindekol-monitor, sensors wat hindernisse voor en agter die voertuig bespeur, ‘n voorbots-waarskuwing, ‘n trukamera, parkeer-sensors voor en agter, stabiliteits-beheer, baanhou-hulp en afdraande-hulp. Dit alles maak die VX een van die veiligste motors in sy klas. Hoewel die GX-R eintlik die veldrymodel in die reeks is, staan die VX nie juis vir hom terug nie, selfs al is sy grondvry-hoogte nie so goed soos dié van die GX-R nie. Die plaaspad bevat ‘n paar hobbels, maar die RAV 4 het hoegenaamd nie gesukkel om dit baas te raak nie. Die toets-voertuig se gemiddelde brandstof verbruik toe ons met die toets begin het, was 9,2 liter per 100 km, maar die beste volhoubare syfer wat ons behaal het, was 8,0 liter per 100 km. Dit beteken dat ‘n reikafstand van 600 tot 660 km met ‘n brandstoftenk van 55 liter moontlik is.

Daar is geen tekort aan teenstanders vir die RAV 4 nie; selfs die VX ding mee teen ‘n aantal uiters aantreklike sportnutse. MotorPlus het die Honda CR-V 1,5 T AWD Exclusive vier weke lank getoets en ons was baie beïndruk met hom, maar sy prys van R 671 900 is heeltemal te hoog. Dalk is die goedkoper Honda CR-V Executive teen R 626 900 ‘n beter kopie. Die Hyundai Tucson 1,6T Elite is nie met vierwiel-aandrywing beskikbaar nie, maar as dit nie ‘n voorvereiste is nie, is dit goeie waarde vir geld teen R 598 900.  Die Mazda CX-5 is een van ons gunstelinge in hierdie klas, en die 2,5 AWD Individual kos R 569 100. Nog ‘n mededinger wat ons goed ken, is die Nissan X-Trail 2,5 4×4 Tekna, wat R 523 800 kos. Dit maak van hom ‘n winskoop, veral omdat hy sewe sitplekke het, maar die CVT-ratkas sal nie by almal byval vind nie. Daar is natuurlik ook ‘n mededinger uit Toyota se eie geledere, naamlik die Fortuner, seker die gewildste sportnuts-voertuig op die mark. Die 2,8 GD-6 is met ‘n keuse van ‘n 4×2 en ‘n 4×4 beskikbaar, en die pryse van die modelle met die outomatiese ratkas is onderskeidelik R 632 600 en R 678 800. Die model wat ‘n mens gaan kies, hang van persoonlike behoefte en voorkeur af, en die verskil in maandelikse paaiemente tussen die RAV 4 en een van die Fortuners is sekerlik nie te groot nie.

Dit is maklik om te verstaan hoekom die nuwe RAV 4 dadelik so gewild in Suid-Afrika geword het. Dit is ‘n maklike voertuig om mee saam te leef en as ‘n laestrek-ratkas nie ‘n vereiste is nie, kan hy beslis ernstig oorweeg word. Die 2,5 AWD VX kos R 604 100; dit sluit ‘n diensplan wat vir ses versienings of 90 000 km geldig is, in. Hierdie prys klink hoog, maar die veiligheids-kenmerke waarmee hy toegerus word, maak hom die moeite werd, tensy ‘n Fortuner beter  aan jou behoeftes voldoen. Andersins kan ‘n mens dalk na een van die goedkoper modelle kyk as die VX te duur is.

Lees meer oor die nuwe RAV 4 hier.

%d bloggers like this: