Breaking News

Peugeot se nuwe 208 eindelik bekendgestel

Die Europese Motor van die Jaar vir 2020 is nou in Suid-Afrika bekskikbaar, nadat die COVID 19-pandemie sy bekendstelling uitgestel het.

Die nuwe Peugeot 208 het, sedert sy Europese bekendstelling, reeds groot belangstelling gaande gemaak, en dit was die top verkoper in Europa vir die eerste paar maande van 2021.  Daarby het meer as vyftig vroulike joernaliste van vyf kontinente hom as die beste stadsmotor van die jaar aangewys.

Die nuwe 208 is die jongste model wat Peugeot se hedendaagse ontwerprigting weerspieël, en spog met  ‘n breë, ten volle geïntegreerde sierrooster, dagryligte wat laag in die voorstamper gemonteer is, tweekleur-kopligte en herontwerpte misligte. Aan die agterkant is daar herontwerpte agterligte wat die kloue van ‘n leeu weerspieël en ‘n swart strook wat die twee stelle agterligte met mekaar verbind. Daar is ‘n chroom-sierrooster wat, afhangende van die model, in swart of glansswart afgewerk is.

Altesaam vier modelle is beskikbaar, en almal word aangedryf deur ‘n 1,2 liter PureTech drie-silinder enjin  met verskillende kraglewerings. Die Active is die intreemodel en die enigste een wat nie met ‘n turbo-aanjaer toegerus word nie. Die Active se enjin lewer 55 kW teen 5 750 opm en wringkrag van 116 Nm teen 2 750 opm en word aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel. Twee weergawes van die Allure is beskikbaar; die handratmodel se turbo-aangejaagde enjin lewer 74 kW teen 5 750 opm en wringkrag van 205 Nm teen 1 750 opm. Die outomatiese Allure en die GT, die vlagskip van die reeks, deel ‘n enjin wat 96 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 230 Nm teen 1 750 opm lewer, en gekoppel word aan ‘n outomatiese ratkas, ook met ses gange.

Aan die buitekant word die Active onderskei deur middel van 15 duim-staalwiele met volle wieldoppe en die ruimte-besparende noodwiel is byna so groot soos die gewone wiele. Verder beskik die Active oor outomatiese halogen-kopligte met ‘n volg-my-en-lei-my-funksie, en rigtingwyders in die trusipeëls. Die kajuit word toegerus met Peugeot se kenmerkende kompakte stuurwiel, handbeheerde lugversorging, ‘n seweduim-raakskerm, Android Auto- en Apple Car Play met Mirror Screen, wat die skerm van die gebruiker se slimfoon op die raakskerm weerspieël, ‘n ritrekenaar, ‘n aansitknoppie, en ‘n klankstelsel met ses luidsprekers en ‘n MP 3-speler asook een USB- en een 12 volt-kragpunt. Daar is klavieragtige skakelaars vir die belangrikste funksies van die klankstelsel en die stuurwiel is met leer oorgetrek. 

Die volgende spesifikasievlak is die Allure, wat met 16 duim-allooiwiele toegerus word. Verdere standaard-kenmerke wat hom van die Active onderskei, is elektriese vensters voor en agter, ligdiode-kopligte, ‘n trukamera, ‘n digitale instrumentepaneel wat volgens die bestuurder se behoeftes verander kan word, asook ‘n tweede USB-kragpunt vir die voorste insittendes.  

Die vlagskip van die reeks is die GT, met swart afwerking vir die truspieëls en die dak, 17 duim allooiwiele met ‘n klein ruimtebesparende noodwiel, verstelbare beligting aan die binnekant met agt verskillende kleurkeuses, voorste sportsitplekke wat verhit kan word, ‘’n C-tipe USB-kragpunt vir die voorste insittendes, saam met die gewone een, asook twee bykomende USB-kragpunte vir die agterste insittendes, skermplate van vlekvrye staal in die deure, aluminium-pedale, ‘n elektroniese parkeerrem, ‘n koordlose selfoon-laaier  en  handgebaarbeheer vir die funksies van die raakskerm. Die raakskerm self is tien duim groot. 

Verskeie veiligheids-kenmerke is standaard toerusting vir die hele reeks, onder meer ABS-remme, voorste-, kant- en-gordynlugsakke, stabiliteitsbeheer met wegtrekhulp, noodflikkers wat dadelik geaktiveer word wanneer daar hard gerem word  en deure wat outomaties sluit wanneer die motor wegtrek. Die Allure en GT-modelle word ook met skyfremme voor en agter, asook agterste parkeersensors  toegerus. Die GT se bykomende veiligheids-kenmerke sluit die volgende in: voorbotswaarskuwing met noodremhulp, ‘n blindekolmonitor, baanhouhulp, padteken- en snelheidsperk-herkenning, hoëstraalhulp vir die kopligte, voorste parkeersensors en ‘n waarskuwing wanneer die motor bespeur dat die bestuurder nie sy of haar volle aandag op die pad gee nie.

Só lyk die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km insluit:

Active: R 289 900
Allure handrat: R 349 900
Allure outomaties: R 379 900
GT: R 424 900

 

%d bloggers like this: