Breaking News

Peugeot se nuwe bakkie in 2021 hier.

In die 1960’s en 1970’s was die Peugeot 403 en 404-bakkies uiters gewild in Suid-Afrika; die 404 was trouens die eerste bakkie wat in Suid-Afrika met ‘n diesel enjin bekendgestel is.

Nou het dié Franse maatskappy aangekondig dat ‘n nuwe bakkie, bekend as die “Landtrek”, in 2021 in Suid-Afrika bekendgestel sal word. Hoewel die samestelling van die Suid-Afrikaanse reeks eers nader aan die tyd bekend sal wees, is die Landtrek oorsee beskikbaar in ‘n enkel- of dubbelkajuit, ‘n werkesel of ‘n veeldoelige weergawe, twee- of vierwiel-aandrywing en petrol- of diesel enjins. 

Volgens die vervaardiger beskik die Landtrek oor ‘n robuuste ontwerp wat geskik is vir werk en ontspanning; hy is oor altesaam 2 miljoen kilometer in alle weerstoestande en onder alle moontlike omstandighede getoets. Die laai-areas van die enkel- en dubbel-kajuit modelle is onderskeidelik 5,39 en 5,33 meter lank en 1,92 meter breed.  Die dubbel-kajuit kan twee Euro-palette vervoer en die enkel-kjajuit drie. Die loonvrag is tussen 1 en 1,2 ton afhangende van die model, en in sommige weergawes is daar ‘n 12-volt kragpunt en ligdiode-beligting in die laai-area. Die werkesel is sonder ‘n agterstamper beskikbaar; dit beteken dat die agterklap tot 180 grade oopgemaak kan word. Die hele reeks beskik oor ‘n sleep-kapasiteit van drie ton. 

Die buite-ontwerp skakel by Peugeot se huidige ontwerprigting in en daar is ‘n groot leeu-kenteken op die neus. Sommige modelle beskik oor vertikale ligdiode-dagryligte.  Aan die binnekant is daar ‘n klein tweespeek-stuurwiel soos wat in die 5008 gebruik word en ‘n tienduim-raakskerm bo aan die paneelbord, soos waarmee die 508, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, toegerus word. Die agtersitplek in die dubbel-kajuit modelle kan in ‘n 60/40- of ‘n 50/50-verhouding verdeel word en wanneer dit platgevou is, kan dit ‘n massa van tot 100 kg ondersteun. Die agtersitplekke bevat ook twee ISOFIX-hegpunte. Aan die voorkant van die kajuit is daar ‘n keuse tussen twee afsonderlike sitplekke of ‘n gesplete banksitplek met plek vir drie mense. Laasgenoemde keuse is deur Peugeot se kundigheid met handelsvoertuie geïnspireer en  maak dit vir die bestuurder moontlik om die middelste rugleuning plat te vou om as armleuning of werkstafel te gebruik. Daar is ook altesaam 27 liter se bêreplek vir los goedere. Sommige modelle het plek vir altesaam ses insittendes en sewe handvatsels in die passasierskajuit maak toegang makliker. 

Onder die veiligheidskenmerke wat standaard toerusting is, is elektroniese stabiliteits-en vastrapbeheer , afdraande-hulp en sleepswaai-beheer wat die stabiliteits-beheer laat inskop sodra die woonwa of sleepwa wat gesleep word, begin swaai. Sommige modelle word ook met ‘n hoorbare en sigbare baandwaal-waarskuwing toegerus. Daarby is een tot vier kameras beskikbaar, asook ‘n veldry-kamera in die passasier se buitespieël wanneer hindernisse of smal terrein aangedurf word. Dit kan outomaties geaktiveer word vir wanneer hindernisse bespeur word.

Twee enjins sal beskikbaar wees. Die 1,9 liter-turbo-diesel enjin wat 112 kW en  350 Nm lewer en wat aan ‘n Getrag-handratkas met ses gange gekoppel is. Daar is ook ‘n turbo-petrol enjin van 2,4 liter, met 156 kW kraglewering en 320 Nm wringkrag, beskikbaar. Hierdie enjin bied die keuse van dieselfde handratkas, of ‘n outomatiese ratkas met ses gange, met ‘n handratfunksie.  Die 4×4-modelle sal hoë- en laestrekfunksies bied en ‘n sluitbare agterewenaar bied ekstra vastrapvermoë as een wiel tol. 

Die Landtrek sal aanvanklik in Latyns-Amerika en in Afrika Suid van die Sahara-woestyn beskikbaar wees en daar is tans nog geen planne om hom in Europa bekend te stel nie. Die Landtrek sal in 2021 in Suid-Afrika op die mark kom.

%d bloggers like this: