Breaking News

Plek vir sewe in Hyundai se “groot” Creta

Hyundai Suid-Afrika het pas ‘n nuwe, groter weergawe van sy gewilde Creta in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Grand Creta staan in ander dele van die wêreld as die Alcazar bekend, en beskik oor ‘n langer asafstand as sy kleiner stalmaat asook sewe sitplekke. Daar is ook ander verskille tussen hierdie twee modelreekse. Die vooraansig lyk dieselfde as dié van die Creta maar daar is ‘n herontwepte agteraansig met ‘n chroomstrook tussen die hoog gemonteerde agterligte.

Een van die belangrikste verskille tussen die Creta en die Grand Creta is die enjinkeuses. Die Grand Creta is beskikbaar met twee enjins, naamlik die tweeliterpetrol enjin uit die Tucson wat 117 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 191 Nm teen 4 500 lewer, asook ‘n 1,5 liter turbodiesel enjin wat 85 kW teen 4 500 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 opm lewer. Die petrol enjin bied die keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk terwyl die outomatiese sesgangratkas standaard toerusting vir die diesel-modelle is.

Twee spesifikasievlakke is beskikbaar, naamlik die Executive en die Elite. Die Executive bied die keuse van die hand- of outomatiese ratkas vir die petrolmodel terwyl die outomatiese ratkas standaard toerusting vir die  petrol- en dieselweergawes van die Elite is. Die Executive word met die volgende standaard kenmerke toegerus: allooiwiele met 215/65 R 17-bande, handbeheerde lugversorging, ‘n klankstelsel met ‘n agtduim-raakskerm, Apple Car Play en Android Auto asook ses luidsprekers, elektries verstelbare en invoubare buitespieëls, dakspore, ‘n koordlose selfoonlaaier, kunsleerbekleedsel vir die sitplekke, met die tweede ry wat in ‘n 60/40-verhouding verdeel word, en die derde ry in ‘n 50/50-verhouding en spoedbeheer.

Die Elite is die vlagskip van die reeks en voeg die volgende kenmerke by: allooiwiele met 215/55 R 18-bande, elektris verstelbare en geventileerde voorsitplekke, sakke en opvoubare tafeltjies in die rugleunings van die voorsitplekke, outomatiese klimaatbeheer, ‘n TFT-vloeikristal-instrumentepaneel met ‘n 10,25 duim skerm, gordyne vir die agterste kantvensters, verdonkerde glas, ‘n elektroniese parkeerrem, ‘n aansitknoppie en ‘n elektriese sondak. Die Elite bied ‘n keuse van verskillende bestuursmodusse , naamlik Eco, Sport en Normal terwyl die vastrapbeheer ingestel kan word om die beste moontlike klouvermoë in sneeu, modder of sand te verseker. 

Die volgende veiligheidskenmerke is standaardtoerusting vir die hele reeks: voorste-, kant- en gordynlugsakke, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkragverspreiding, stabilitieitsbeheer, wegtrekhulp, ‘n trukamera, ligdiode-kopligte wat outomaties aan- en afgeskakel word en ligdiode-dagryligte. Die Elite voeg ligdiode-misligte en parkeersensors voor en agter by.

Só lyk die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit: 

2,0 Executive handrat: R 449 900

2,0 Executive outomaties: R 489 900’

1,5 Executive Diesel outomaties: R 509 900

2,0 Elite outomaties: R 539 900

1,5 Elite Diesel outomaties: R 559 900

%d bloggers like this: