Breaking News

Porsche se Cayenne word ‘n koepee

Porsche het sy uiters suksesvolle Cayenne-reeks pas uitgebrei met die bekendstelling van die Cayenne-koepee, wat meganies dieselfde as die gewone Cayenne is maar ‘n paar uniueke stilerings kenmerke het.

Die hoogtepunte van die Cayenne-koepee sluit onder meer ‘n aanpasbare drukvlerk, ‘n unieke, skuinser agterkant en ‘n agterste banksitplek met die eienskappe van twee afsonderlike sitplekke in. Daar is twee dak-keuses; ‘n panoramiese dak as standaard toerusting of ‘n opsionele koolveseldak. Volgens Michael Mauer, die visepresident van Porsche se stilerings afdeling, gee die skuinser agterkant die Cayenne-koepee ‘n meer dinamiese voorkoms en posisioneer dit die Cayenne-koepee as die mees sportiewe mededinger in sy marksegment. Die sportiewe voorkoms en kenmerkende koepee-silhoeët word verder beklemtoon deur die insluiting van ‘n drukvlerk op die dak, terwyl die herontwerpte agterdeure en uitgeboude wielboë agter die motor se skouers met 18 mm verbreed en die motor meer gespierd laat lyk. Die gewone Cayenne Turbo was die eerste sportnuts voertuig wat met ‘n aanpasbare dakdruk-vlerk toegerus is, maar die koepee voer dit nog verder. Die dakdruk-vlerk word gekombineer met ‘n laer gemonteerde drukvlerk wat deel van Porsche Active Aerodynamics (PAA) uitmaak. Dié drukvlerk, wat in die motor se silhoeët geïntegreer is, trek uit teen snelhede van 90 km/h of meer; dit verhoog die kontakdruk op die agteras terwyl PAA doel-treffendheid nog verder verbeter.

Die Cayenne-koepee spog met ‘n panoramiese dak met ‘n ingeboude rolblinder wat insittendes teen die son beskerm, as standaard toerusting, en ‘n koolveseldak, wat die motor die kenmerkende voorkoms van ‘n sportmotor, soortgelyk aan die Porsche 911 GT3 RS, gee, is opsioneel beskikbaar. Hierdie dak is ook in een van drie liggewig, sport-pakkette beskikbaar. Dit sluit sportiewe ontwerp kenmerke, onder meer allooiwiele van 22 duim met verminderde gewig, sitplekke in geruite materiaal, asook koolvesel- en Alcantara-aksente in die binneruim. Vir die Cayenne Turbo-koepee sluit dit ook ‘n sport-uitlaat stelsel in.

Daar is oorgenoeg plek vir vier mense in die Cayenne-koepee se kajuit. Die voorste sportsitplekke met geïntegreerde kopstutte kan op agt maniere elektries verstel word, en die agterste banksitplek het die eienskappe van twee afsonderlike sitplekke. Dieselfde banksitplek waarmee die gewone Cayenne toegerus word, is egter teen geen ekstra koste beskikbaar. Agterste passasiers sit 30 mm laer in die Cayenne-koepee as in die gewone model, en ten spyte van die skuins agterkant is daar genoeg kopruimte. Die gewone Cayenne-koepee se bagasiebak hou 625 liter met die agtersitplek regop en 1 540 liter as die platgeslaan is. Die Cayenne Turbo-koepee se syfers is onderskeidelik 600 en 1 510 liter.

Twee enjins sal van die begin af beskikbaar wees. Die gewone Cayenne-koepee se turbo aangejaagde met ses silinders lewer 250 kW en wringkrag van 450 Nm. Dié model kan in 6,0 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel (5,9 sekondes met die liggewig-sportpakket) en ‘n topsnelheid van 243 km/h behaal. Die Cayenne Turbo-koepee se vierliter V8-enjin het twee turboaanjaers en lewer 404 kW en wringkrag van 770 Nm. Hierdie model versnel in 3,9 sekondes van 0 tot 100 km/h en kan ‘n topsnelheid van 286 km/h behaal.

Die pryse van die twee Cayennne-koepee-modelle, wat Porsche se volle onderhouds plan van drie jaar insluit, is R 1 303 000 vir die Cayenne-koepee en R 2 277 000 vir die Cayenne Turbo-koepee. Die twee Cayenne-koepee modelle sa na verwagting in November 2019 hier beskikbar wees.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: