Breaking News

Rallycross is 9 en 10 November in Kaapstad

Daar wag in November ‘n groot bederf vir Suid-Afrikaanse motorsportliefhebbers wanneer die FIA World Rallycross-kampioenskap se laaste ronde op 9 en 10 November deur Monster Energy by die Killarney-renbaan in Kaapstad aangebied word.

Andreas Bakkerud van Noorweë.

Die Sweedse renjaer Timmy Hansen, wat die voorlaaste ronde van die kampioenskap in Litaue gewen het, is nou net een punt agter die voorloper, Andreas Bakkerud van Noorweë. Timmy se jonger broer Kevin is net sewe punte verder terug, wat beteken dat hierdie laaste ronde beloof om ‘n skouspelagtige klimaks op te lewer.

Die mees opwindende Rallycross-kampioenskap tot nog toe het tot dusver ses wenners in nege rondes opgelewer; die reeks het in April in Abu Dhabi begin, ‘n draai in die Amerikas en Europa gaan maak en is nou op pad na Afrika.

“Ons is op pad na Kaapstad en ek hoop dat ek, Andreas en Kevin die skare op skoon en opwindende wedrenne oor die naweek sal trakteer,” het Timmy gesê nadat hy sy vierde oorwinning in sy Hnasen MJP Peugeot 208 op ‘n sopnat renbaan in Bikernierki behaal het en ‘n klein voorsprong in die kampioenskap opgebou het.  Volgens hom sal die beste renjaer die kampioenskap wen; dit sal die een wees wat kophou en die heeltyd sterk bly.

Volgens Bakkerud, wat met ‘n Monster RX Cartel Audi deelneem, is dit wonderlike nuus vir Suid-Afrikaanse aanhangers. Die plaaslike aanhangers kan na ongelooflike wedrenne uitsien; hy dink nie alles gaan verby wees totdat die geruite vlag die laaste keer gewaai word nie.

Die FIA World Rallycoss-kampioenskap is nou in sy vyfde seisoen en motors wat tot 400 kW se krag lewer en binne twee sekondes van 0 tot 100 km/h kan versnel, sal meeding in kort wedrenne wat sal plaasvind op ‘n renbaan wat ‘n kombinasie van grond- en teeroppervlaktes sal insluit.  Kaartjies vir die gebeurtenis kan by www.quicket.co.za bespreek word.

 

Lees meer oor Rallycross (Kruisrenne) hier: http://motorplus.co.za/motorsportverslag-oor-week-34/

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: