Breaking News

Renault Triber kry AMT-ratkas

Sedert die Renault Triber in Februarie 2020 in Suid-Afrika bekendgestel is, is 2500 eenhede tot dusver te midde van die COVID 19-pandemie verkoop.

Nou is ‘n bykomende model, naamlik die Prestige Easy R AMT, by die reeks gevoeg.  Dié nuweling is meganies presies dieselfde as die Triber Prestige, maar spog met ‘n ratkas wat die beste eienskappe van ‘n hand- en outomatiese ratkas kombineer en spesifiek ontwikkel is vir stedelike toesatande. Die ratkas kan die behoefte om ratte te wissel, outomaties aanvoel, maar stel die bestuurder ook in staat om ratte met die hand te wissel sonder om ‘n koppelaar in te trap. Die gemiddelde brandstofverbruik van die AMT-model is 5,5 liter per 100 km.

Die hele Triber-reeks het sewe sitplekke, en die binneruim kan op verskillende maniere na gelang van behoefte aangepas word. Die derde ry sitplekke kan byvoorbeeld platgevou of verwyder word, en wanneer dit gebeur, is daar 625 liter se bagasieruimte terwyl vyf mense steeds vervoer kan word. Daar is ook verskeie bêreplek vir los goedere, onder meer ‘n laai onder die voorste passasier-sitplek .

Die Triber Prestige AMT spog met dieselfde toerustingsvlak as die handratmodel, wat tot dusver die vlagskip van die Suid-Afrikaanse reeks was. Aan die buitekant is daar opvallende projektor-kopligte, ligdiode-dagryligte, dakspore wat ‘n kapasiteit van 50 kg kan dra, en Renault se kenmerkende Flex-wiele. Die skermplate voor en agter herinner aan dié van ‘n sportnutsvoertuig  en sy grondvry-hoogte is  182 mm.

Aan die binnekant is die beste moontlike vlak van afwerking wat vir die Triber beskikbaar is; onder sy standaard kenmerke is ‘n agtduim MediaNav-raakskerm met Bluetooth, Apple Car Play- en Android Auto-verbinding, ‘n USB-kragpunt, 12  volt-kragpunte vir die tweede en derde ry sitplekke, ‘n digitale instrumente-paneel met ligdiode-beligting en sportiewe grafika, ‘n ritrekenaar wat toepaslike inligting soos oombliklike en gemiddelde brandstofverbruik, asook die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word, sleutellose toegang met ‘n aansit-knoppie, ‘n verkoelde onderste paneelkissie, asook ‘n trukamera. Die Prestige se veiligheids-kenmerke sluit onder meer twee lugsakke, ABS-remme, agterste parkeer-sensors en deure wat outomaties sluit as die voertuig wegtrek, in.

Soos die res van die reeks word die Triber Prestige AMT aangedryf deur ‘n een-liter enjiin met drie silinders wat 52 kW teen 6 250 opm  en wringkrag van 96 Nm teen 3 500 opm lewer. 

Die pryse van die hudige Triber-reeks,wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit, lyk só:

Triber 1,0 Expression: R 183 900

Triber 1,0 Dynamique: R 193 900

Triber 1,0 Prestige: R 203 900

Triber 1,0 Prestige AMT: R 209 900

%d bloggers like this: