Breaking News

Renault Triber

Meer spasie, meer ekonomie.

Renault se eerste nuweling vir 2020 is pas bekendgestel, en volgens die vervaardigers is dit iets heeltemal anders op die Suid-Afrikaanse mark.

Die Triber, wat op ‘n aangepaste weergawe van die Kwid se onderstel gebou word, kan as ‘n kruising tussen ‘n sportnutsvoertuig en ‘n veeldoelvoertuig beskryf word.Sy grondvryuhoogte van 182 mm word as die beste in sy klas beskryf en sy sitplekuitleg van op meer as ‘n honderd maniere aangepas word om by enige moontlike behoefte aan te pas. Die sitplekke kan trouens verwyder word sonder dat gereedskap gebruik hoef te word. Daar is oorgenoeg sitplek vir sewe insittendes.

Die Triber word aangedryf deur ‘n kragtiger weergawe van die enjin waarmee die Kwid toegerus word en al die modelle het ‘n vyfgang-handratkas as standaardtoerusting. Die eenliter-enjin met drie silinders lewer 52 kW teen 6 250 opm en het ‘n wringkrag van 96 Nm teen 3 500 opm.  Die gemiddelde amptelike brandstofverbruik is 5,5 liter per 100 km  en sy brandstoftenk kan 40 liter hou.

Daar is drie modelle in die reeks. Die intreemodel staan  as die Expression bekend, en word toegerus met kleurgekodeerde stampers, projektor-kopligte, twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, ‘n sentrale sluitstelsel wat die deure outomaties sluit sodra die voertuig wegtrek en vanself oopsluit nadat ‘n ongeluk plaasgevind het, elektriese vensters voor, ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding en twe luidsprekers, agterste parkeersensors, ‘n omvattende ritrekenaar, USB-, 12 volt- en AUX-kragpunte, ‘n agterste ruitveër en -verwarmer en ‘n digitale instrumentepaneel met ‘n ratwyser.

Die middelste model is die Dynamique. Onder die standaardkenmerke wat hom van die Expression onderskei, is dakspore, elektries verstelbare buitespieëls, elektriese vensters agter, ‘n opgegradeerde klankstelsel met Android Auto en Apple Car Play asook twee bykomende luidsprekers, ‘n verkoelde onderste paneelkissie en ‘n laai onder die passasiersitplek vir los goedere.

Die Prestige is die vlagskip van die reeks. Die Expression en Dynamique word toegerus met staalwiele van 14 duim, maar die Prestige het Flex-wiele van 15 duim. Onder die ander kenmerke wat hom onderskei, is sleuteloose toegang met ‘n aansitknoppie, elektriese vensters wat toegemaak kan word deur die knoppie net een keer te druk, twee bykomende lugsakke aan die kante, ligdiode-dagryligte en ‘n trukamera.

Die sitplek-uitleg kan só verander word dat enge iets tussen twee en sewe insittendes vervoer kan word. Wanneer die Camp-modus gekies word, is daar plek vir twee insittendes en die bagasieruimte kan optimaal benut word.  Die Surf-modus kan gekies word wanneer net vier sitplekke nodig is, die Life-modus vir vyf en die Tribe-modus vir al sewe sitplekke.  Daarby is daar tot 31 liter se bêreplek vir los goedere en die onderste paneelkissie van die Dynamique en die Prestige is verkoel.

Die pryse vir die Triber-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km, ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km en ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar insluit, lyk só:

Renault Triber Expression:  R 164 900
Renault Triber Dynamique: R 174 900
Renault Triber Prestige: R 189 900

 

%d bloggers like this: