Breaking News

Só lyk Mitsubishi se planne vir 2020

Voordat die inperking weens COVID 19 aangekondig is, het Mitsubishi die nuwe ASX, die Eclipse Cross Turbo en die nuwe Outlander in Suid-Afrika bekendgestel.

Dié vervaardiger is egter nie van plan om stil te sit nie, en drie nuwelinge sal binnekort hul plaaslike debuut maak. Die heropening van handelaars tydens vlak 3 van die inperking het Mitsubishi SA in staat gestel om tot die hulp van Suid-Afrikaanse motorkopers te kon kom met ‘n aantal spesiale aanbiedinge. Sommige modelle kan gefinansier word sonder dat ‘n deposito nodig is, terwyl bestellings wat voor of tydens die inperking geplaas is, steeds eerbiedig sal word. 

Die eerste nuweling wat verwag word, is die Triton Xtreme, wat net as ‘n 4×4 dubbelkajuit met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar sal wees en ‘n bietjie duurder as die gewone model sal wees. Hierdie model sal ‘n reeks bykomstighede ter waarde van R 100 000 as standaard toerusting bied, maar sal net R 40 000 duurder as die gewone model wees. 

Die opgeknapte Pajero Sport sal betyds vir die 2020 Desember-vakansie beskikbaar wees.  Die nuwe model sal met ‘n herontwerpte neus en ander nuwe stilerings-kenmerke spog, terwyl ‘n Exceed-model met meer tegnologiese kenmerke by die reeks gevoeg sal word. Intussen is die bestaande modelle beskikbaar met ‘n finansierings-pakket waarvoor geen deposito nodig is nie; die voertuig kano or 72 maande afbetaal word, en ‘n reswaarde van 35% is betaalbaar. Die nuwe model sal dalk duurder as die huidige een wees; alles sal afhang van die wisselkoers. 

Die een splinternuwe model wat Mitsubishi na Suid-Afrika bring, is die Xpander , wat aanvanklik later vanjaar hier bekendgestel sou word, maar eers vroeg aanstaande jaar verwag word.  Dit is ‘n klein mense-karweier met sewe sitplekke wat aangedryf word deur ‘n 1,5 liter-enjin en die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas sal bied. Die proses ter voorbereiding van sy plaaslike bekendstelling is reeds aan die gang. Volgens Nic Campbell, die algemene bestuurder van Mitsubishi Motors, is die Xpander, wat net in ‘n 4×2-weergawe beskikbaar sal wees en in Indonesie vervaardig word, ‘n praktiese en veelsydige voertuig met sportnutsvoertuig-agtige stilering wat ‘n plesier is om te bestuur.  Die tweede en derde rye sitplekke sal platgevou kan word om ‘n baie groot laairuimte vir sporttoerusting of ander groot items te skep. 

Mitsubishi was ook van plan om die nuwe weergawe van die Mirage in Suid-Afrika bekend te stel, maar geen aankondiging is nog hieroor gedoen nie.

Aan die internasionale kant het Mitsubishi aangekondig dat sy reeks aansienlik uitgebrei gaan word, met nie minder nie as vyf nuwe sportnuts-voertuie in vyf jaar, met die klem op voertuie van hoogstaande gehalte vir puntenerige kopers. Later sal daar ook ‘n aantal elektriese voertuie bekendgestel word, onder meer twee ten volle elektriese sportnutsvoertuie.

%d bloggers like this: