Breaking News

Spesiale Land Cruiser weer beskikbaar

Toe Toyota teen die einde 2019 die Land Cruiser Namib by die reeks gevoeg het, was hy so gewild dat die sestig eenhede, almal dubbel-kajuite, gou uitverkoop het.

Daarom het Toyota opgrag gegee dat nóg ‘n besending beskikbaar gestel moes word, hierdie keer met die keuse van ‘n enkel-of dubbel-kajuit in reaksie op klante se versoeke. Albei modelle sal ‘n gemeenskaplike pakket deel om hulle van die res van die reeks te onderskei en die bekende 4,5 liter V8-turbo-diesel enjin wat 151 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 430 Nm teen tyussen 1 200 en 3 200 opm lewer, is standaard toerusting.  

Aan die buitekant word die Namib toegerus met bykomende kenmerke soos ‘n sier-rooster met die Toyota-naam soos op die FJ Cruiser, eerder as die Toyota-kenteken, Namib-kentekens op die wielnisse en agterklap, ‘n swaardiens-voorstamper met ‘n ingeboude bosbreker en kolligte, ligdiode-kopligte met skerms, ‘n buisagtige agtertrap met ‘n ingeboude trekstang en rubber-voering vir die laaibak.

Die binnekant spog met ‘n verkoelde paneelkissie, beskermende sitplek-oortreksels van seil met die Namib-kenteken en wrywing-bestande invoegsels en dakgemonteerde bergruimtes en ligdiode-beligting. Aan die tegniese kant is daar opgegradeerde veldry-vering en 265/75 R 16 Cooper Discovery-bande met wit letters. Net twee kleure, naamlik ivoorwit en Sand Beige is beskikbaar.

Verder behou die Namib-modelle dieselfde standaard toerusting  as die res van die reeks, onder meer ‘n raakskerm-klankstelsel met satelliet-navigasie en Bluetooth, ‘n voorste kragsok, elektriese vensters, ‘n verstelbare stuurkolom en sentrale sluiting met afstand beheer. Bestuurder- en passasiers-lugsakke en ABS-remme is standaard toerusting.

Daar sal altesaam sestig modelle elk van die enkel- en dubbel-kajuit modelle beskikbaar wees. Die pryse, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km insluit, lyk soos volg:

 

Land Cruiser 79 Namib 4,5 LX Enkelkajuit: R 842 200

Land Cruiser 79 Namib 4,5 LX Dubbelkajuit: R 911 500

Hierdie pryse sluit nie ‘n diensplan in nie maar kopers kan ‘n bykomende diensplan na gelang van hul  behoeftes koop.

%d bloggers like this: