Breaking News

Subaru se nuwe Outback nou beskikbaar

In 1994 het die heel eerste Subaru Outback op die mark gekom, en sedertdien het dit ‘n gewilde keuse onder avontuurlustige motoriste wat op soek is na ‘n kombinasie van veldryvermoë en gerief geword.

Die nuwe weergawe van die Outback is pas in Suid-Afrika bekendgestel, en vir die eerste keer is twee spesifikasievlakke beskikbaar. Die gedagte is dat die voornemende koper die model kies wat sy of haar leefstyl die beste weerspieël. Daarby is nuwe kenmerke soos ‘n agterklap met kraghulp, ‘n stelsel wat keer dat die bestuurder se aandag afgetrek word en ‘n nuwe raakskerm van 11,6 duim standaard toerusting vir albei modelle.

Die Field is gemik op die avontuurlustige koper terwyl die Touring vir die stedelike motoris bedoel is. Die Field spog met swart 18 duim metaal-allooiwiele, ‘n swart skermplaat onder aan die bakwerk, swart dakspore met groen insetsels en swart buitespieëls. Die Touring het silwer afwerking oral waar dit swart op die Field is, asook silwer 18 duim-allooiwiele.

Dieselfde 2,5 liter bokser-enjin met vier silinders en regstreekse inspuiting word in albei modelle gebruik. Hierdie enjin lewer 138 kW teen 5 800 opm en wringkrag van 245 Nm teen tussen 3 400 en 4 600 opm. Die Lineartronic-palwissel (CVT)-ratkas wat vir albei modelle gebruik word, weeg  minder as voorheen en sy ratverhoudings is aangepas om versnelling te verbeter, maar ook vir verveterde brandstof-doeltreffendheid te sorg. Die ratkas beskik oor ‘n handratfunksie met agt gange, wat deur ratspane agter die stuurwiel beheer word. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstofverbruik 7,3 liter per 100 km. 

Aangesien die Outback ‘n veldryer is, is afdraandehulp en Subaru se X-Mode standaard toerusting. Die X-Mode kan deur die bestuurder gekies word om moeilike oppervlaktes soos rotse, sneeu, modder of gras baas te raak.  Die stelsel beskik oor twee verstellings wat gekies kan word afhangende van die moeilikheidsgraad van die terrein en stuur die meeste wringkrag na die wiele met die minste vastrapvermoë. 

Die nuwe Outback se kajuit is groter as voorheen, en been-, kop- en skouerruimte is beter as in die vorige model.  Die bagasieruim kan 522 liter hou, of 1267 liter as die agtersitplekke platgevou word. Die bagasiebak beskik oor ‘n hoogteverstelbare pakkiesrak en die nuwe kragbeheerde agterklap , wat oopgemaak word deur ‘n hand voor die Subaru-kenteken te plaas, maak dit makliker om bagasie in en uit te laai. 

Die binneruim van die kajuit is luukser afgewerk as voorheen, en die eerste kenmerk wat ‘n mens opval, is die 11,6 duim-raakskerm in die middel van die konsole. Hierdie skerm werk met ‘n raak- of vee-aksie maar daar os steeds knoppies vir die funksies wat die meeste gebruik word, soos die volume van die klankstelsel en die klimaatbeheer. Benewens die media-, navigasie- en radiofunksies beskik die stelsel oor Android Auto en Apple Car Play, en daar is vier USB-kragpunte, twee voor en twee agter. Die jongste Harman/Kardon-klankstelsel met twaalf luidsprekers is standaard toerusting. Die Field word toegerus met silwer materiaal-sitplekke en die Touring met Nappa-leersitplekke terwyl die elektriese  bestuurdersitplek vir albei modelle agt verstellings en ‘n geheue het. Daar is ook verwarmers vir die stuurwiel asook vir die voorste en agterste sitplekke.  Altesaam vyf verstellings vir die sitplekke, die klimaatbeheer, die klankstelsel, klimaatbeheer en buitespieëls kan vooraf deur middel van gesigsherkenning ingestel word.

Soos wat ‘n mens van ‘n Subaru kan verwag, is verskeie veiligheidskenmerke standaard toerusting. Die nuwe Outback is die heel eerste Subaru wat toegerus word met die Driver Focus Distraction Mitigation System. Dit gebruik gesigsherkennings-tegnologie om te bespeur wanneer die bestuurder nie aandag gee aan wat op die pad gebeur nie en waarsku die bestuurder wanneer dit gebeur. Die jongste weergawe van Subaru se EyeSight-bestuurshulpstelsel is standaard toerusting vir albei modelle.  Die hulpstelsels wat deel vorm hiervan, is onder meer voorbotswaarskuwing, baandwaal-waarskuwing en baanhouhulp en aanpasbare spoedbeheer.  Die kameras wat deel van hierdie stelsel is, dek nou ‘n breër veld; gevolglik kan botsings by kruisings voorkom word, en outonome stuurhulp vorm deel van die voorbots-waarskuwing. Dit is ook nou makliker om die motor in die middel van ‘n baan op die oop pad te hou, en spoedbeperkings-waarskuwing is ook nou deel van die stelsel. Verder is dwarsverkeer-waarskuwing agter, asook ‘n blindekolmonitor ook standaard toerusting. 

Die pryse van die nuwe Outback, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n onderhoudsplan van drie jaar of 75 000 km insluit, is R 699 000 vir die Field en R 729 000 vir die Touring.

%d bloggers like this: