Breaking News

Subaru stel WRX nommer vyf bekend

Die vyfde geslag van Subaru se ikoniese WRX-sportsedan is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die heel eerste WRX het in 1992 ‘n nuwe era vir verrigtingsmotors wêreldwyd ingelui en die nuwe model behou die kernwaardes van sy voorgangers, naamlik loutere bestuursgenot tesame met die hoogste moontlike veiligheidstandaarde. 

Die kenmerkende seshoekige Subaru-sierrooster oorheers die vooraansig, met veeelfunksie-ligdiodekopligte aan weerskante. Soos dit ‘n WRX betaam, is daar ook ‘n groot lugskort op die enjinkap om enjinverkoeling te verbeter. Aan die kant is daar uitgeboude modderskerms, en laee syskorte wat die motor se lae swaartepunt beklemtoon. Aan die agterkant is daar ‘n groot lugverdeler in die stamper en ‘n drukvlerk op die bagasiebakdeksel; dit beklemtoon nie net sy sportiewe stilering nie maar verbeter ook sy hantering wat, volgens die vervaardiger, die beste in sy klas is. Daar is vier uitlaatpype, twee aan die linkerkant en twee aan die regterkant. Daar is drie afwerkings vir die allooiwiele met 245/40 R 18-bande beskikbaar, naamlik donkergrys, swart in twee skakerings en dowwe grys.

Onder die enjinkap is ‘n turboaangejaagde Boxer-enjin met vier silinders en ‘n kapasiteit van 2,4 liter. Hierdie enjin lewer 202 kW teen 5 600 opm en het ‘n wringkrag van 350 Nm tussen 2 000 en 5 200 opm.

Twee ratkaste is beskikbaar, naamlik ‘n sesgang-handratkas of ‘n agtgang-palwisselratkas met ratspane agter die stuurwiel. Laasgeenoemde ratkas is splinternuut en staan as SPT (Subaru Performance Transmission) bekend. Dié ratkas skakel 30% vinniger van tweede na derde rat oor en 50% vinniger van derde na tweede rat. Die model met die SPT-ratkas staan as die tS ES bekend, en met hierdie model beoog Subaru om die gaping tussen werkwerrigting en weelde te verklein. Hierdie model beskik ook oor die Si-Drive-verrigtingsbestuurstelsel wat bestuurders in staat stel om hul motors se verrigtingspotensiaal verder te ontgin.

Benewens die Comfort- en Normal-bestuursmodusse is daar ook Individual-, Sport- en Sport+-modusse. Die Individual-modus stel die bestuurder om verstellings uit al die verskillende modusse te kies en ‘n unieke modus te skep.  Die Sport- en Sport +-modus is daarop gemik om ratwisseling te versnel. Sport + is die mees dinamiese modus en is op die ernstige en ervare geesdriftige gemik, terwyl Sport die motor se sportiewe karaktertrekke beklemtoon maar ‘n meer gebalanseerde bestuurservaring bied.

Aan die binnekant van die nuwe WRX is ‘n nuwe 11,6 duim Starlink-raakskerm wat toegang tot die inligting-en-vermaakstelsel , asook dinamiese inligting soos die verstellings van die bestuursmodusse, die Si-Drive-verrigtingsbestuurstelsel bied. Dit werk soos ‘n tablet en die skerm kan in twee verdeel word om toegang tot twee stelle inligting te gee. Slimfoontoepassings kan ook verskuif word om by die gebruiker se behoeftes aan te pas. Die leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel het ‘n plat onderkant en bied toegang tot die klankstelsel, die telefoon en die Eyesight-bestuurshulpstelsel. Die klankstelsel en ander funksies kan ook met stemopdragte beheer word. Die sitplekke is in Ultrasuede afgewerk en daar is verhitting vir die voor- en agtersitplekke. Die elektries verstelbare bestuurdersitplek kan op agt manière verstel word. Die ES voeg ook ‘n geheuefunksie by.

Soos met elke Subaru-model wat al ooit in Suid-Afrika beskikbaar was, is vierwielaandrywing standaard toerusting, maar die nuwe WRX spog ook met ander belangrike veiligheidskenmerke. ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp is uiteraard standaard toerusting. Die ES word toegerus met Subaru se toonaangewende EyeSight 4,0-bestuurshulpstelsel, met kenmerke soos voorbotswaarskuwing, outonome noodstuurhulp, aanpasbare spoed- en stuurbeheer, padtekenherkenning en ‘n intelligente spoedbeperker. Wanneer ‘n botsing moontlik sal plaasvind, sal die motor die bestuurder waarsku en wanneer daar niks daaraan gedoen word nie, sal die maksium remkrag moontlik outomaties aangewend word om die botsing te prober vermy. Die outonome noodstuurstelsel sal , waar moontlik, ‘n bosting met ‘n ander voertuig, ‘n voetganger of ‘n fietsryer voorkom. Die aanpasbare stuurbeheer maak ook dat die motor beter in die middel van ‘n baan op die oop pad geposisioneer kan word en die gedrag van ander motoriste kan maklik voorspel word, onder meer dié wat van die kant af by die verkeer aansluit. Albei modelle word toegerus met ‘n bestuurdergedragsmonitor wat bespeur as die persoon agter die stuur moeg is, of nie aandag gee aan wat op die pad gebeur nie. Die motor kan die gedrag van tot vyf verskillende bestuurders bespeur en gee ‘n hoorbare en sigbare waarskuwing wanneer dit tyd is om van die pad af te trek en te rus. 

Die pryse van die twee modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n instandhoudingsplan van drie jaar of 75 000 km insluit, is R 759 000 vir die handratmodel en R 859 000 vir die ES CVT.

%d bloggers like this: