Breaking News

Suzuki brei Jimny-reeks uit

Suzuki Auto Suid-Afrika het pas sy Jimny-reeks uitgebrei met die toevoeging van die Jimny GL.

Die Jimny GL voldoen aan die behoeftes van diegene wat op soek is na ‘n model wat beter as die GA toegerus is, maar nie die luukse GLX kan bekostig nie. Dieselfde enjin as die res van die reeks word vir die GL gebruik, naamlik ‘n viersilinderenjin van 1,5 liter wat 75 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 130 Nm teen 4 000 opm lewer. Soos met die GLX is daar ‘n keuse tussen ‘n vyfgang-handratkas en ‘n outomatiese ratkas met vier gange, terwyl ‘n leerraamonderstel en Suzuki se All Grip-aandrywingstelsel gebruik word. Dit gebruik die stabiliteitsbeheerstelsel en remme om moeilike veldrytoestande baas te raak, en ‘n laestrek-oordraratkas, asook afdraandehulp,  is standaardtoerusting. 

Dit beteken dat die Jimny-reeks nou uit vyf modelle bestaan, naamlik die GA-handrat en die GL en GLX, wat albei die keuse van die hand- of outomatiese ratkas bied. Die GA word met die volgende kenmerke toegerus: Suzuki se All Grip-aandrywingstelsel, kragstuur, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en elektroniese stabiliteitsbeheer. Die GL voeg die volgende kenmerke by: elektriese vensters en buitespieëls, allooiwiele (wat die noodwiel insluit), ‘n veelfunksiestuurwiel, ‘n klankstelsel met Blueetooth en ‘n USB-kragpunt en  sentrale sluiting met afstandbeheer.

Die vlagskip van die reeks is die GLX, wat met die volgende bykomende kenmerke toegerus word: outomatiese ligdiode-kopligte, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, ‘n leerstuurwiel, ‘n klankstelsel met ‘n raakskerm, Android Auto en Apple Car Play, asook ‘n laairuim-gemakspakket met ‘n bykomende 12 volt-kragpunt, ‘n agterste kajuitliggie en harde plastiekbedekking op die agtersitplekke.

Terselfdetyd het die maatskappy aangekondig dat die Rhino Edition-pakket vir enige Jimny-model bestel kan word. Dit laat die bekende Jimny renoster-embleem wat reeds die afgelope veertig jaar met diee Jimny geassosieer word, herleef. Die Rhino Edition bevat die volgende kenmerke: renoster-kentekens, ‘n noodwiel-skerm met die renosterkenteken daarop, die Suzuki-sierrooster soos die Jinmy-modelle van weleer, rooi Suzuki-modderklappe en wind- en-reënskerms op die deure. 

Suzuki Auto Suid-Afrika sal ook met sy internasionale moedermaatskappy hande en filiale regoor die wêreld hande vat om renosters in Suid-Afrika en die res van Afrika te bewaar. 

%d bloggers like this: