Breaking News

Suzuki knap Ignis op vir 2020

Een van Suzuki se gewildste modelle in Suid-Afrika, die Ignis, het ‘n paar veranderinge ondergaan om hom opdatum met die res van die Suzuki-reeks te bring.

Die nuwe Ignis se voorkoms skakel in by dié van die JImny, die Vitara en die onlangs bekendgestelde S-Presso. Die S-embleem aan die voorkant het nou vier verchroomde vierkantige gleuwe aan weerskante, en in die geval van die GLX is die rooster ook met chroom omlyn. Die nuwe rooster vul die ruimte tussen die kopligte om  ‘n eenheid van kant tot kant tussen die voorste modderskerms te vorm. Soos voorheen, word die GLX toegerus met dagryligte rondom die ligdiode-projektorkopligte. Daar is ‘n nuwe voorstamer met geïntedreerde kopligte en GLX spog met ‘n nuwe A-vormige silwer skermplaat. Aan die agterkant is daar ‘n soortgelyke skermplaat wat die swart stamper vevang. Die twee regop weerkaatsers rond die agterste veranderinge af. Die hele reeks het kleurbypassende buitespieëls; dié van die GLX het ingeboude rigtingwysers en kan ingevou word wanneer daar in nou ruimtes geparkeer word. Die GLX word verder onderskei deur middel van dakrelings, uitgeboude wielboë en allooiwiele.

Die binnekant bied steeds ‘n 60/40-verdeelde agtersitplekke, 260 liter bagasieruimte en oorgenoeg sitplek vir vyf insittendes.  Die hele reeks het ‘n gevorderde klankstelsel met ‘n USB-kragpunt en Bluetooth-verbinding asook ‘n multimedia-vertoonskerm en ‘n  veelfunksiestuurwiel as standaardtoerusting.

Omvattende veiligheidsaspekte soos twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, asook ‘n alarm-en-immobiliseerder is standaardtoerusting vir die hele reeks.

Die GLX voeg ‘n aantal kenmerke hierby: die inligting-en-vermaakstelsel spog met ‘n raakskerm en Android Auto- en Apple Car Play-verbinding. Klimaatbeheer, sleutelllose toegang met ‘n aansitknoppie en chroom en silwer afwerking op die handrem, rathefboomknop en deurhandvatsels is standaardtoerusting.  Daar is ook ‘n trukamera en parkeersensors agter.

Dieselfde enjin en ratkas word weer vir die nuwe Ignis gebruik; dié driesilinderenjin van 1,2 liter lewer 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 113 Nm teen 4 200 opm. Albei modelle het ‘n vyfgang-handratkas as standaardtoerusting maar die GLX bied ook ‘n geoutomatiseerde handratkas as ‘n opsie.

Daar is ‘n aantal nuwe kleure beskikbaar, en die kleur van die bakwerk word ook aan die binnekant weerspieël in die afwerking van die ratkastonnel en invoegsels op die voorpaneel.  Daar is ook nou keuses van silwer of blou afwerkingselemente binne, afhangende van die buitekleur. Soos voorheen, is daar ook tweekleurkombinasies beskikbaar. Die  nuwe Ignis is beskikbaar in pêrelwit, silwer, grys, turkoois-pêrelblou of swart met ‘n pêrelafwerking, Die twee tweekleurkombinasies is metaalpêrelblou of lemoenoranje met ‘n swart dak.

Die pryse van die nuwe Ignis-reeks, wat ‘n waarborg en padbystand van vyf jaar of 200 000 km, asook ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit, lyk só:

Pryse:
Ignis GL: R 182 900
Ignis GLX-handrat: R 204 900
Ignis GLX AMT: R 221 900

%d bloggers like this: