Breaking News

Suzuki laat verkoopsrekords spat

Suzuki Auto Suid-Afrika kon 2022 nie op ‘n beter not begin het nie, aangesien hy al sy vorige verkoops-rekords in Januarie oortref het.

Volgens NAAMSA se jongste verkoopsyfers het dié maatskappy altesaam 3 232 eenhede van die hand gesit. Daarby het ‘n handvol nuwe handelaars hul deure in Januarie geopen, wat beteken dat die netwerk nou uit 78 handelaars landwyd bestaan.

Die topvyf handelaars het saam 530 eenhede verkoop, mettwintig van hulle wat elk meer as vyftig eenhede van die hand gesit het. Suzuki Bassonia in Johannesburg het ‘n rekordgetal van 161 eenhede verkoop, gevolg deur Northcliff met 104, Menlyn met 93, Bryanston met 89 en Bramley met 83. Die maatskappy se korporatiewe- en vlootverkoopspan het verder tot die rekordverkope bygedra deur 681 eenhede aan korporatiewe-, staats- en vlootklante te verkoop. 

In oorsig van die nasionale verkoopsyfers is dit opvallend dat die motorbedryf geleidelik besig is om te herstel van die gevolge van die COVID 19-pandemie. Plaaslike verkope het in die geheel met 19% gestyg in vergelyking met Januarie 2021, wat Suzuki se verbetering van 73% teenoor ‘n jaar gelede al hoe meer merkwaardig maak. 

Een van die redes vir Suzuki se rekordmaand is die feit dat dié maatskappy se gewildste modelreeks ‘n belangrike mylpaal bereik het. In Januarie het die Swift die eerste Suzuki-modelreeks geword waarvan daar meer as ‘n duisend eenhede verkoop is. Altesaam 1 069 eenhede van die Swift, wat elf eenhede van die Sport insluit, is in Januarie verkoop. Nog sewe modelreekse het verkope van ‘n honderd eenhede of meer behaal, naamlik die S-Presso, die Jimny, die Dzire, die Super Carry, die Vitara Brezza, die Ertiga en die Baleno. 

Die maatskappy het hard saam met die hoofkantoor in Japan gewerk om bestelvolumes en verkrygings-bestemmings te verbeter, die produkaanbod te vergroot en prysstygings in toom te hou. Die rekordverkope in Januarie behoort ‘n stewige grondslag vir 2022 te lê, en die maatskappy is van plan om ‘n aantal nuwe en opgeknapte modelreekse gedurende die jaar in Suid-Afrika bekend te stel.

%d bloggers like this: