Breaking News

Suzuki nommer drie in Suid-Afrika

Te midde van die beperkings rondom COVID 19 is daar een vervaardiger wat die een verkoopsrekord na die ander opstel.

Die Nasionale Vereniging vir Motorvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) het pas sy verkoopsyfers vir September 2021 bekendgemaak, en hoewel die twee markleiers hul posisies behou het, het een vervaardiger vir ‘n groot verrassing gesorg deur die derde plek in algehele verkope van passasiersvoertuie in te neem.

Suzuki Auto Suid-Afrika het sy maandoue verkoopsrekord oortref en 600 eenhede meer as in Augustus verkoop. Dit was Suzuki se heel beste verkoopsmaand tot nog toe, en altesaam 3 314 eenhede is verkoop. Feitlik elke nuwe motor wat die maatskappy aan die handelaars gelewer het, het ‘n eienaar gevind.

Dit was die eerste keer wat Suzuki die 3 000-kerf kon verbysteek; om dit in perspektief te sien, moet ‘n mens onthou dat Suzuki in Julie 2019 ‘n destydse rekordgetal van 1 577 eenhede verkoop het terwyl die maatkappy in Oktober 2020 die 2 000-kerf die eerste keer verbygesteek het toe 2 032 eenhede verkoop is. Daardie rekord het nie lank gestaan nie; in Februarie 2021 is dit verbeter en weer in Maart 2021. Die nuwe rekord is opgestel te midde van die uitwerking van die wêreldwye pandemie en plaaslike verkoopsontwrigtings. In hierdie tyd is inperkingsmaatreëls verskerp, die plundery in Kwa Zulu Natal en Gauteng het verdere ontwrigtings veroorsaak, tesame met die kuberaanval op Transnet, wat gemaak het dat hawens gesluit moes word. 

Met totale verkope van meer as 3 000 eenhede verteenwoordig Suzuki nou 7,2% van die Suid-Afrikaanse mark; as ‘n mens die 82 eenhede wat van die Super Carry-bakkie verkoop is, buite rekening laat, verteenwoordig die maatskappy 10,3% van die mark vir passasiersmotors.

Die rekordverkope was veral te danke aan die gewildheid van die Swift, waarvan 935 eenhede verkoop is, gevolg deur die S-Presso op 504 en die Ertiga op 387. Die Vitara Brezza, Indië se gewildste motor, het 455 eenhede bygedra. 

Suzuki se handelaarsnetwerk bestaan tans uit 75 handelaars landwyd, en volgens Henno Havenga, die verkoopsbestuurder van Suzuki Auto Suid-Afrika het die handelaars alles in hul vermoë gedoen om voertuie vir voornemende kopers te vind en tegniese ondersteuning te bied. Verder sê hy dat die handelaars sal voortgaan om hierdie sort klantediens te lewer, selfs al word die beperkings opgehef en handel onverpoos kan voortgaan.

%d bloggers like this: