Breaking News

Suzuki se klein sedan opgeknap

Suzuki Auto SA het pas sy Dzire-reeks vir die 2021-modeljaar opgeknap sonder om die prys te verhoog.

Hoewel die Dzire steeds sy platform met die uiters gewilde Swift deel, het dit in 2018 ‘n afsonderlike modelreeks sonder die Swift-naam geword en sedertdien is ‘n keuse van twee spesifikasie-vlakke en twee ratkaste beskikbaar. 

Die grootste verandering aan die buitekant is die herontwerpte sierrooster en voorstamper. Die nuwe rooster kombineer die ontwerp van die vorige een en wye onderste lug-uitlaat in een groot ses-hoekige rooster wat van bon a onder strek en ‘n dwarsbalk waarop die voorste nommerplaat gemonteer word, bevat.  Die rooster word op die GA in swart en silwer afgewerk en op die GL in swart en chroom. Die GL beskik ook oor nuwe mislighulsels,asook ‘n herontwerpte onderste stamperstrook wat in silwer afgewerk is. Twee nuwe kleure, naamklik nuwe skakerings van silwer en metaalrooi, is vir die Dzire beskikbaar, tesame met bestaande kleure soos bruin, wit, blou en grys.  Die GL spog met bykomende kenmerke soos 15 duim-allooiwiele pleks van die 14-duim staalwiele en wieldoppe wat steeds vir die GA gebruik word, kleurgepaste deurhandvatsels, chroomafwerking binne en buite en modderflappe. 

Albei spesifikasie-vlakke spog met binnekenmerke soos elektriese vensters, lugversorging, kragstuur, ‘n immobiliseerder en sentrale sluiting. Die GL se bykomende kenmerke sluit voorste misligte, ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding, USB-kragpunte , verstelbare agterste luguitlate en ‘n agterste armleuning met bekerhouers in. 

Die hele Dzire-reeks spog voortaan met elektroniese stabiliteits-beheer, en dieselfde veiligheids-kenmerke is standaard toerusting op albei modelle. Dit sluit onder meer ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding, geïntegreerde syslagstawe vir die voor- en agterdeure, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke en twee lugsakke in. 

Die enigste model wat aanvanklik beskikbaar sal wees, is die GL-sedan met ‘n vyfgang-handratkas, maar die GL met ‘n AMT-ratkas, asook die GA-modelle met die keuse van albei ratkaste sal hulle gou by die reeks aansluit.  Die hele reeks word toegerus met dieselfde 1,2 liter-vier-silinder enjin met wisselende kleptydreëling wat in die Swift gebruik word. Hierdie enjin lewer 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 113 Nm teen 4 200 opm. 

Die pryse van die Dzire GL-handrat, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit, is  R 196 000. Die ander modelle se pryse sal aangekondig word wanneer hulle bekendgestel word.

%d bloggers like this: