Breaking News

Suzuki se nuwe Celerio is hier

Drie maande nadat die nuwe Suzuki Celerio oorsee op die mark gekom het, het hy sy buiging in Suid-Afrika gemaak.

Toe die oorspronklike Celerio in 2015 bekendgestel is, was dit die intreemodel in Suzuki se Suid-Afrikaanse reeks en dié model het ‘n nuwe geslag kopers aan Suzuki blootgestel. Hierdie model het ook toekennings by Cars.co.za en die tydskrif Car gewen.

Die nuwe Celerio, wat tussen die S-Presso en die Swift inpas,  stel nuwe standaarde vir veiligheid, luuksheid en brandstof-ekonomie in sy prysklas en spog met ‘n splinternuwe ontwerp binne en buite asook ‘n nuwe Dual Jet eenliter enjin met drie silinders wat 49 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 89 Nm teen 3 500 opm lewer. Daar is ‘n keuse tussen ‘n vyfgang-handratkas en ‘n geoutomatiseerde (AMT)-handratkas; laasgenoemde is net vir die GL beskikbaar. Die Celerio is die eerste motor in sy marksegment wat met stop-en-ry-tegnologie toegerus word; dit verbeter brandstofverbruik en verminder uitlaatgasse. Dit word geaktiveer wanneer die motor tot ‘n stilstand kom, soos by ‘n stopstraat of ‘n rooi verkeerslig en en die enjin vat weer sodra die koppelaar in die handratmodel of die versneller in die geval van die AMT ingetrap word. Die  gemiddelde brandstofverbruik van die AMT-model is 4,2 liter per 100 km en dié van die handratmodel 4,4 liter per 100 km.

Verskeie nuwe veiligheidskenmerke is standaard toerusting vir die nuwe Celerio. Dit is die eerste motor in sy marksegment wat met elektroniese stabliliteitsbeheer toegerus word. Die ABS-remstelsel beskik oor elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp en daar is lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier. ISOFIX-hegpunte word vir die buitenste twee agtersitplekke aangebring. Die AMT-modelle word ook met wegtrekhulp toegerus.

Daar is twee spesifikasiemodelle beskikbaar. Die intreemodel is die GA, wat met die volgende kenmerke toegerus word; 14-duim staalwiele met wieldoppe, swart buitespieëls en deurhandvatsels, handbeheerde lugversorging, ‘n dakgemonteerde lugdraad, twee luidsprekers en bedrading vir ‘n radio, kontroles vir Bluetooth op die stuurwiel en kragstuur. Die GL beskik oor die volgende bykomende kenmerke: swart 15 duim-allooiwiele, voorste misligte, kleurgekodeerde buitespieëls en deurhandvatsels, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n seweduim-raakskerm, Android Auto en Apple Car Play, elektriese vensters, sentrale sluiting met afstandbeheer, ‘n vloeikristalpaneel langs die spoedmeter met die toereteller, ritrekenaar en brandstofmeter, agterste parkeersensors met sigbare waarskuwings, en ‘n paneel op die raakskerm wat inligting en waarskuwings in  verband met die motor vertoon. Die klankstelsel beskik oor vier luidsprekers pleks van twee, en daar is silwer afwerking op verskeie plekke in die binneruim. 

Die jongste weergawe van Suzuki se veelgeroemde HEARTECT-platform word vir die Celerio gebruik; dit kom ook in die Swift voor en sal vir die nuwe Baleno wat binnekort hier bekendgestel word, gebruik word. Hierdie platform is bekend vir sy strukturele stewigheid, uitstekende beskerming teen botsings en sy lae massa. Die wiele is so ver uitmekaar in die hoeke geplaas en dit verbeter die motor se padhouvermoë. Hierdie platform beteken ook dat die Celerio slegs 805 kg weeg; dit verbeter die motor se krag-tot-massaverhouding. 

Aan die binnekant is die Celerio ruimer as voorheen, en die bagasieruim se kapasiteit is 295 liter met die 60/40-verdeelde agtersitplek regop. Die pakkiesrak lig op wanneer die agterklap oopgemaak word en ‘n volgrootte-noodwiel is standaardtoerusting.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit, lyk só:

Celerio 1,0 GA: R 174 900

Celerio 1,0 GL: R 194 900

Celerio 1,0 GL AMT: R 209 900

%d bloggers like this: