Breaking News

Suzuki Swift verbeter

Sedert die huidige geslag Suzuki Swift in 2018 in Suid-Afrika bekendgestel is, het dit ‘n topverkoper geword en Suzki gehelp om die een verkoopsrekord na die ander in Suid-Afrika te verbeter.

Die Swift het egter nou die middel van sy modelsiklus bereik, en Suzuki Auto SA het pas die jongste modelreeks, met ‘n vars nuwe voorkoms en verbeterde spesifikasievlak hier bekendgestel. Die nuwe Swift word van sy voorganger onderskei deur middel van ‘n chroomlyn wat die sierrooster verdeel. Die Suzuki-kenteken kom aan die bokant voor en die nommerplaat word aan die onderkant gehuisves. Die rooster self spog met ‘n nuwe kruispatroon wat sy sportiewe voorkoms beklemtoon en die GL en GLX word met voorste misligte toegerus.

Daar is drie spesifikasievlakke in die reeks; die GA, die GL en die GLX. Al drie word aangedryf deur dieselfde 1,2 liter-enjin met vier silinders wat 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 112 Nm teen 4 200 opm lewer. Al drie modelle het ‘n vyfgang-handratkas as standaard toerusting terwyl ‘n AMT-ratkas teen ekstra koste vir die GL en GLX beskikbaar is.

Al die modelle word voortaan met elektroniese stabiliteitsbeheer toegerus, terwyl voorste lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp en ISOFIX-ankerpunte vir die agtersitplekke standaard toerusting is. Die AMT-modelle word ook met wegtrekhulp toegerus.

Die GA is die intreemodel van die reeks, en spog met kenmerke soos elektriese vensters, lugversorging, sentrale sluiting en, vir die eerste keer, ‘n pakkiesrak vir die bagasieruim, asook parkeersensors en volle wieldoppe. Daar is ook ‘n paar bykomende kenmerke vir die GL, onder meer parkeersensors, voorste misligte, ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding asook USB- en AUX-kragpunte, asook ‘n toereteller en elektries verstelbare buitespieëls. Die GLX is die vlagskip van die reeks, en ‘n kleur-raakskerm met ‘n trukamera, Apple Car Play en Android Auto is standaardtoerusting, tesame met sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, nuwe 15-duim allooiwiele en buitespieëls wat ingevou kan word.

Toe die Vitara Brezza onlangs bekendgestel is, het die tweekleur-verfwerk waarmee hierdie reeks beskikbaar is, groot byval gevind, en die GL en GLX-modelle is ook nou met hierdie keuse beskikbaar. Drie tweekleur-keuses is beskikbaar, rooi met ‘n swart dak, pêrelwit met ‘n swart dak en pêrelblou met ‘n wit dak.  Die buitespieëls is dieselfde kleur as die dak. Die gewone kleure waarmee die hele reeks beskikbaar is, is rooi, pêrelblou, metaaloranje, pêrelwit, metaalsilwer, metaalgrys en pêrelswart. 

Die pryse van die nuwe Swift-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit, lyk só:

 

1,2 GA: R 180 900
1,2 GL: R 199 900
1,2 GL AMT: R 214 900
1,2 GLX: R 218 900
1,2 GLX AMT: R 234 900

%d bloggers like this: