Breaking News

Suzuki Vitara Brezza is hier

Suzuki het pas die gewildste sportnutsvoertuig in Indië ook in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Vitara Brezza is reeds in 2016 in Indië bekendgestel en in  2020 het die Brezza ‘n opknappingskuur ondergaan. Dit is juis die nuutste weergawe van die Brezza, wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is.

Dit is ‘n bykomende modelreeks wat die gaping tussen die Ignis en die “groot”Vitara, wat op die mark bly, vul. Die Brezza is omtrent dieselfde grootte as die oorspronklike Vitara, wat in 1988 internasionaal bekendgestel is.

Aan die voorkant is die omgekeerde U-ontwerp  van die laer deel van die sierrooster, wat ook op modelle soos die S-Presso en die Ignis teenwoordig is en ‘n stileringskenmerk eie aan Suzuki, ook op die Vitara Brezza te sien. Aan die bokant is daar ‘n breë chroom-sierrooster tussen die twee kopligte; die GL word toegerus met halogeenligte terwyl dié van die GLX lidgiode-tegnologie kry. Aan die onderkant van die stamper is daar ‘n afrondingstrook in swart op die GL en silwer op die GLX. Die agterstamper wat oor ‘n skermplaat beskik, ‘n spieëlbeeld van die vooraansig, terwyl daar ‘n drukvlerk aan die bokant van die agterklap gemonteer is.

Die hele reeks spog met ‘n raakskerm van sewe duim, met Android Auto en Apple Car Play en Bluetooth-verbinding asook ‘n trukamera. Daar is ook ‘n veelfunksiestuurwiel en stembeheer vir al die modelle. Die inligtingstelsel is die jongste geslag en bied voertuiginligting soos wanneer ‘n deur nie heeltemal toe is nie, of as die voertuig se brandstofvlak laag is. Daarby is outomatiese klimaatbeheer, elektriese vensters, ‘n hoogteverstelbare sitplek vir die bestuurder, agterste parkeersensors en  sentrale sluiting met afstandbeheer standaardtoerusting  vir die hele reeks. Die GLX voeg kenmerke soos ‘n leerstuurwiel, spoedbeheer, ‘n aansitknoppie, ‘n armleuning tussen die twee voorsitplekke, ‘n verkoelde boonste paneelkissie, wegvoubare buitespieëls, outomatiese ruitveërs, ‘n 12 volt-kragpunt in die bagasieruim en ekstra hoëfrekwensie-luidsprekers by. Die spoedmeter en toereteller, met ‘n digitale vertoonpaneel tussenin, beskik oor verstelbare atmosfeerbeligting in een van vyf veranderbare kleure, terwyl daar ook bykomende beligting by die voetholte, paneelkissie en laairuim is.

Die Vitara Brezza word toegerus met dieselfde veiligheidskenmerke as die res van die Suzuki-reeks, met twee lugsakke,ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke. Suzuki se Total Effective Control Technology (TECT)-bakwerkstruktuur is standaardtoetrusting; Suzuki het dit ontwerp om sterk te wees te midde van ‘n ligte gewig en syslagstawe word daarby ingesluit. Al die modelle het ‘n hoog gemonteerde remlig, asook ‘n agterruitveër en -ontwasemer.

Al die modelle word aangedryf deur dieselfde K 15 B-enjin wat ook in die Jimny, Ertiga en Ciaz gebruik word. Hierdie 1,5 liter-enjin spog met ‘n veelpunt-brandstofinspuiting en vier Kleppe per silinder en lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm. Daar is ‘n keuse tussen ‘n vyfgang-handratkas en ‘n outomatiese ratkas met vier gange vir die GL en GLX. In die outomatiese model is die vierge gang ‘n snelrat, wat met ‘n skakelaar by die ratkieser ontkoppel kan word.

Daar is ses een- en drie tweekleuropsies beskikbaar. Die standaardopsies is wit, silwer, grys en oranje terwyl kopers van die GL ook blou of rooi kan kies. Die GLX is beskibaar met drie tweekleur-afwerkings, naamlik rooi of blou met ‘n swart dak of grys met ‘n oranje dak.

Die pryse van die Vitara Brezza-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km asook ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit, lyk só:

GL-handrat:  R 244 900
GL-outomaties: R 264 900
GLX-handrat: R 289 900

GLX-outomaties: R 309 900

%d bloggers like this: