Breaking News

Suzuki word Suid-Afrika se topverkoper

Suid-Afrika het ‘n nuwe topverkoper vir passasiersvoertuie en dit is ‘n Suzuki.

Suzuki Auto Suid-Afrika het weer ‘n verkoopsrekord opgestel en sy verkope vir Mei 2022 was 630 meer as in April. Dit het beteken dat altesaam 4 331 Suzuki-motors in Mei in Suid-Afrika verkoop is.

Die maatskappy het in 2008 sy deure in Suid-Afrika oopgemaak en vandag is daar 81 handelaars landwyd. Die handelaars het 3100 eenhede verkoop, terwyl die groep regering-, vloot- en verhuringsmaatskappy-verkoopsafdeling vir die res verantwoordelik was. As die algehele verkope van voertuie, wat handelsvoertuie insluit, in aanmerking geneem word, is Suzuki die derde gewildste fabrikaat in Suid-Afrika.

Die Swift was die algehele topverkoper onder nuwe motors, met 1 764 eenhede. Die ander Suzuki-modelle wat goed presteer het, was die S-Presso (783 eenhede), die Vitara Brezza (530 eenhede), die Jimny (428 eenhede) en die Ertiga (305 eenhede). 

Die volgende model wat Suzuki in Suid-Afrika sal bekendstel, is die nuwe Baleno wat, volgens die vervaardiger, met baie luukshede sal spog en uitsonderlike waarde vir geld sal bied. Onder die kenmerke wat vir die vlagskipmodel beskikbaar sal wees, is ‘n rondomkamera en ‘n voorruit-inligtingskerm.

Die aankondiging van Suzuki se rekordverkope kom kort voordat die handelaar van die jaar aangewys word. Volgens die vervaardiger is die mededinging elke jaar al hoe strawwer , veral namate al hoe meer handelaars in die Platinum- en Elite-kategorieë verwelkom word. Daarby is daar ‘n groot en doeltreffende  verspreidingsnetwerk vir onderdele. 

%d bloggers like this: