Breaking News

Top 10 onderskatte motors op die Suid-Afrikaanse mark

Te midde van die swak ekonomie en COVID 19 is daar ‘n handjievol motors waarvan daar elke maand ‘n paar honderd, of in sommige gevalle meer as ‘n duisend, eenhede verkoop word.

Daar is egter ook die ander kant van die saak; sommige motors staan net en stof vergader op die handelaars se vertoonlokale en in baie gevalle is dit motors wat onregverdig deur die Suid-Afrikaanse publiek geïgnoreer word. Hier is tien van hulle, in alfabetiese volgorde: 

 

1) Alfa Romeo Giulia

Die Suid-Afrikaanse publiek is berug vir hul voorliefde vir Duitse motors soos Mercedes-Benz, BMW, Volkswagen en Audi. Daarom is dit ‘n stryd vir ‘n motor wat van enige ander land afkomstig is om ‘n goeie indruk te maak. Een so ‘n voorbeeld is die Alfa Romeo Giulia; ‘n uiters aantreklike motor wat op die geesdriftige motoris gemik is, maar anders as voorgangers soos die Giulietta van 1979 tot 1985 en die 156 nie die mas kan opkom wat verkope betref nie. Miskien is die publiek skrikkerig vir ‘n Italiaanse motor of hulle heg prestige-waarde aan ‘n Duitse kenteken. Hoe ook al, die Giulia verdien om baie beter te verkoop as wat tans die geval is.

 

2) BAIC D 20

“Wat is ‘n BAIC?”, vra die meeste mense dalk. Hierdie Chinese vervaardiger het reeds in 2017 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree en sy intreevlak-modelreeks is die D 20, wat beskikbaar is as ‘n vyfdeurluikrug en ‘n vierdeursedan. Die pryse van hierdie motors is heel aantreklik, en min mense weet dat hulle ‘n onderstel met ‘n Smart ForFour deel. Hulle word selfs in die Nelson Mandelabaai-metrogebied in die Oos-Kaap vervaardig. Die bemarking van hierdie reeks voertuie laat egter te veel te wense oor, en min mense is bewus van die feit daar ‘n fabriek in Suid-Afrika is. Die handelaarsnetwerk kan gerus ook uitgebrei word.

3) Fiat Tipo

Fiat het al sy suksesse en mislukkings in Suid-Afrika gehad, en veral die Uno, Palio en Siena het gewild onder plaaslike kopers geword. Die Tipo is egter nie so gewild nie. Die reeks se pryse is heeltemal te hoog, en daarom moet hulle meeding teen produkte wat beter in die Suid-Afrikaanse mark gevestig is. Daar is regtig min rede om die Tipo bo enige van sy mededingers te kies. 

4) Honda Civic

Honda het die afgelope veertig jaar ‘n baie goeie reputasie in Suid-Afrika opgebou vir betroubaarheid, duursaamheid en gehalte; met ander woorde die belangrikste faktore wat ‘n rasionele koper in aanmerking neem. Die Civic-modelnaam is in 1996 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel, en nadat Honda Suid-Afrika as onafhanklike maatskappy begin funksioneer het, het die Civic die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie in 2007 gewen. Die gewildheid van sedans het egter afgeneem aangesien al hoe meer mense sportnutsvoertuie kies. Nogtans is die Civic steeds op die mark, teen ‘n prys wat glad nie so mededingend soos voorheen is nie. Die nuwe Civic is reeds oorsee bekendgestel, en Honda sal meer as net twee keer moet dink voordat hy besluit of hierdie nuwe model ook hier op die mark sal kom.

5) Mitsubishi Outlander

Byna twintig jaar lank probeer Mitsubishi al om die Outlander in Suid-Afrika te bemark; dit is ‘n uiters bevoegde sportnutsvoertuig, maar met elke geslag tot dusver was daar net een enjinkeuse, en ‘n dieselenjin was nog nooit in Suid-Afrika beskikbaar nie. Die Outlander se brandstofverbruik is ‘n belangrike rede vir sy gebrek aan sukses. Tensy vierwielaandrywing ‘n vereiste is, is ‘n Pajero Sport 4×2 teen ‘n prys wat nie veel hoër is nie, ‘n beter keuse.

6) Nissan Almera

Toe Nissan sy planne vir Suid-Afrika aangekondig het, het hy dit duidelik gestel dat die B-segment vir sedans uiters belangrik is. Die Almera is reeds sedert 2014 op die mark, en hoewel ons in 2018 vir hom ‘n gunstige verslag gegee het toe ons hom ‘n paar dae lank getoets het, is die harde werklikheid dat mededingers soos Toyota, Suzuki en Honda se produkte só verbeter het dat ‘n mens wonder hoe Nissan dit regkry om hom steeds te kanm bemark. Die volgende Almera, blykbaar gebaseer op die huidige Micra, kan nie gou genoeg in Suid-Afrika bekendgestel word nie.

7) Subaru Impreza

As daar één motor is wat die publiek regtig onregverdig behandel, is dit die Subaru Impreza. Ons het hom in 2017 getoets en was baie beïndruk met sy toonaangewende veiligheidskenmerke, veral die Subaru Eyesight-stelsel wat intussen verder verfyn is. Die vierwielaandrywing kniehalter sy werkverrigting maar veiligheid is baie belangriker as versnelling of topsnelheid en die WRX is buite al hoe meer mense se bereik. Baie mense hou nie van ‘n CVT-ratkas nie maar ons beskou dié van die Impreza as een van die beter ratkaste van sy soort.

8) Suzuki Celerio

Geen vervaardiger is beter verteenwoordig aan die onderkant van die mark as Suzuki nie. Die S-Presso het die mark in 2020 soos ‘n bom getref en was die regte motor vir die moeilike omstandighede wat die wêreld steeds ervaar. Die vraag is of daar regtig ‘n gaping tussen die S-Presso en die Swift is. Die Celerio is al sedert 2015 hier op die mark en hoewel hy aanvanklik gewild was, het verkope die afgelope tyd drasties afgeneem. Die nuwe Celerio, wat tussen die S-Presso en die Swift sal inpas, is blykbaar binnekort op pad na Suid-Afrika en ‘n mens kan net hoop dat hy weer aanklank by die Suid-Afrikaanse mark sal vind.

9) Toyota GR Supra

Baie geesdriftiges het uitgesien na die bekendstelling van die Toyota GR Supra, wat op die BMW Z4 se onderstel gebou word. Goed, ‘n mens moet toegee dat die GR Supra op ‘n nismark gemik is, en dis trouens die enigste motor onder hierdie tien wat in daardie kategorie val. Die meeste sportmotorkopers in hierdie prysklas het egter lank reeds hul besluit geneem; die Ford Mustang is verreweg die gewildste sportmotor op die plaaslike mark. Die effens beknopte tweesitplek-binneruim knou die GR Supra se  potensiaal nog verder.

10) Volvo S 90

Volvo is wêreldwyd besig om groot sukses met die XC 60 en XC 90 te behaal.Die nuwe S 60 is nie in Suid-Afrika bekendgestel nie, maar die S 90 is wel; met ‘n keuse van turbopetrol- of turbodieselenjins van twee liter met vier silinders elk. Die internasionale neiging is om kleiner maar kragtiger enjins te gebruik, maar baie min mense is oortuig deur Volvo se huidige enjinreeks. Daarby is die gewildheid van luukse sedans besig om skerp af te neem.

%d bloggers like this: