Breaking News

Tot siens Sandero, hallo Kiger

Renault het pas sy jongste kompakte oorkruisvoertuig in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Kiger is die Suid-Afrikaanse plaasvervanger vir die Sandero, wat steeds in ‘n nuwe weergawe in ander dele van die wêreld beskikbaar is. Die Kiger volg die hedendaagse neiging van klein oorkruisvoertuie wat die kenmerke van ‘n luikrug met dié van ‘n sportnutsvoertuig kombineer.  Die ontwerp herinner dalk effens aan dié van ‘n koepee, maar die lang asafstand sorg vir oorgenoeg ruimte vir alle insittendes. Die buiteontwerp spog met skermplate  en agter, ‘n agterruit met ‘n geïntegreerde drukvlerk en ‘n hoë grondvryhoogte. Daar is verskeie plekke vir los goedere en die bagasieruim hou altesaam 405 liter met die agtersitplekke regop. 

Altesaam twee enjins en drie ratkaste is vir die Kiger beskikbaar. Die intreemodelle word aangedryf deur ‘n een-liter enjin met drie silinders sonder ‘n turboaanjaer. Hierdie enjin, wat aan ‘n vyfgang-handratkas of ‘n Easy R-AMT-ratkas gekoppel word, lewer 52 kW teen 6 200 opm of wringkrag van 96 Nm teen 3 500 opm. Die turboaangejaagde weergawe van hierdie enjin, met ‘n keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n X-Tronic CVT-ratkas, lewer 74 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 160 Nm teen 3 500 opm. 

Daar is drie spesifikasievlakke om van te kies. Die intreemodel is die Life, wat net met die handratkas beskikbaar is. Hierdie model word toegerus met kenmerke soos staalwiele met volle wieldoppe en 195/60 R 16-bande, elektriese kragstuur, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding, elektries verstelbare buitespieëls, ‘n digitale instrumentepaneel, ‘n 1 DIN-radio met vier luidsprekers en  USB-, AUX- en 12 volt-kragpunte.

Die middelste spesifikasievlak is die Zen, met die keuse van die turbolose enjin met die hand- of Easy R-ratkas of die turboaangejaagde enjin met die handratkas. Benewens die kenmerke van die Life word die Zen ook met die volgende bykomende kenmerke toegerus: 16 duim Flex-wiele, ‘n agterste skermplaat, dakspore wat tot 50 kg se bagasie kan dra, ‘n deksel vir die middelkonsole tussen die sitplekke, ‘n agterste ruitwasser en -veer, paneelkissies bo en onder aan die kant van die voorste passasier, ‘n smukspieël vir die voorste passasier, agtersitplekke wat in ‘n 60/40-verhouding verdeel is en platgevou kan word, ‘n agtduim-raakskerm met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, ‘n veelfunksie-stuurwiel, sleutellose toegang met ‘n kaart en ‘n Start/Stop-knoppie en ‘n trukamera. Die turbo-model word ook met stabiliteitsbeheer toegerus. 

Aan die bokant van die reeks is die Intens, met die keuse van die hand- of X-Tronic-ratkas. Hierdie model word toegerus met 16 duim diamantsnit-allooiwiele, ligdiode-kopligte en dagryligte, ‘n stuurwiel wat met kunsleer afgewerk is, voorste kantlugsakke, outomatiese lugversorging, ‘n aanpasbare seweduim-instrumentepaneel, buitespieëls wat ingevou kan word, ‘n agterruitverwarmer, ‘n koordlose selfoonlaaier, atmosfeer-beligting binne  en ‘n keuse tussen verskillende bestuursmodusse. 

Die pryse van die verskillende modelle lyk só:

Kiger 1,0  Life: R 199 900
Kiger 1,0 Zen: R 214 900
Kiger 1,0 Zen Easy R: R 224 900
Kiger 1,0 Turbo Zen: R 249 900
Kiger 1,0 Turbo Intens: R 269 900

%d bloggers like this: