Breaking News

Toyota brei sy RAV 4-reeks uit

Toyota het pas sy RAV 4-reeks uitgebrei met die bekendstelling van die GX Hybrid, wat die jongste hibriedetegnologie met modelle soos die Prius en die Corolla Hybrid deel.

Die RAV 4 Hybrid word aangedryf deur ‘n 2,5 liter viersilinder enjin met regstreekse inspuiting en die Atkinson-siklus wat ook in die Corolla Hybrid gebruik word. In die ICE-toestand lewer hierdie enjin 131 kW en wringkrag van 221 Nm terwyl die elektriese kragbron 88 kW en 202 Nm se wringkrag lewer wanneer die batterye ten volle gelaai is. Dit bied ‘n algehele stelselverrigting van 160 kW.Die krag word deur ‘n CVT-ratkas na die voorwiele oorgedra ; hierdie ratkas integreer die twee dryfstelsels naatloos en bied uitlra-verfynde aandrywing. Gladde, skerp versnelling en lae geraasvlakke is nog twee opvallende kenmerke van die RAV 4 Hybrid. Die gemiddelde brandstofverbruik van die RAV 4 Hybrid is, volgens die vervaardiger, 4,7 liter per 100 km.

Net een spesifikasievlak is beskikbaar; naamlik ‘n aangepaste weergawe van die GX, wat ‘n balans tussen die belangrikste geriefskenmerke, waarde vir geld en weelde  bied. Ligdiode-kop-en agterligte asook dagryligte is standaard toerusting, asook outomatiese ruitveërs, elektries beheerde en verhitbare buitespieëls, sleutellose toegang, dubbelsone-klimaatbeheer, drie 12 volt-kragpunte en verskeie bekerhouers oral in die kajuit. Die klankstelsel beskik oor ‘n raakskerm met ses luidsprekers, drie USB-kragpunte, en Bluetooth-, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding.  Vir die bestuurder is daar spoedbeheer, ‘n truspieël watr outomaties verdonker, ‘n multi-inligtingskerm en ‘n veelfunksiestuurwiel wat in leer afgewerk is. Onder die veiligheidskenmerke is sleepswaaibeheer, wegtrekhulp en ‘n volledige reeks lugsakke terwyl die bestuurder uit verskillende bestuursmodusse kan kies. 

Die RAV 4 Hybrid beskik oor allooiwiele met 225/65 R 17-bande en ‘n volgrootte noodwiel. Dakspore, ‘n lugskort agter, blou Toyota-kentekens en Hybrid-kentekens vorm deel van die standaard pakket. Altesaam agt kleure, waaronder skakerings van wit, rooi, blou, grys en silwer is beskikbaar terwyl die binneruim in swart  afgewerk is.

Die prys van die RAV 4 GX Hybrid, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km, en ‘n bykomende waarborg van agt jaar of 195 000 km vir die hibriedebattery insluit, is R 555 300.

%d bloggers like this: