Breaking News

Toyota Corolla kry hibriedekrag

In 1997 het Toyota die eerste model met ‘n hibriede-enjin internasionaal bekendgestel.

Die Prius was ‘n toonaangewende motor wat petrol- en elektriese krag vir die eerste keer gekombineer het, en  nou het Toyota ook besluit om sy hibriede-tegnologie vir die eerste keer vir die Corolla beskikbaar te stel. Dit was veral in reaksie op onlangse verwikkelinge in die internasionale motorbedryf, waarin groter klem gelê word op alternatiewe aandrywings-tegnologie. 

Dit is deel van Toyota se plan om hibriede-weergawes van die meeste van sy hoofstroomreekse op die mark te bring; die volgende stap is die naderende bekendstelling van die Corolla Cross voor die einde van die jaar. Die hibriedemodel van die Corolla Cross sal die eerste motor met hierdie sort tegnologie wees wat in Suid-Afrika vervaardig sal word.

Die Corolla Hybrid is gebaseer op die elfde geslag Corolla en deel sy 1,8 liter petrol-en-elektriese kragbron met die Prius. Hierdie kragbron maak gebruik van Atkinson-siklustegnologie wat  uitstekende termiese doeltreffendheid lewer. Dit verbeter brandstof-doeltreffendheid en beperk uitlaatgasse tot ‘n minimum. Die enjin word aangevul deur die jongste elektriese motor-en-batterykoppeling wat ‘n meer kompakte pakket lewer wat ligter en goedkoper is en aansienlike vooruitgang in batterytegnologie, elektriese motors en petrol enjins weerspieël. Die hibriedebattery se hoër energiedigtheid beteken dat kraglewering dieselfde bly maar dat sy grootte met 10% verminder is. Die battery kan 28% meer energie in dieselfde tyd absorber wat maak dat dit vinniger kan selflaai. Die elektriese motor self is kleiner maar dit sorg vir ‘n verbeterde krag-tot-massaverhouding.

Die elektriese motor bied ‘n aanvullende 53 kW en 163 Nm teen volle kapasiteit; dit verhoog die algehele stelselvermoë tot 90 kW. Die gesamentlike syfer is, as gevolg van kragverlies deur die transmissie, nie die som van die twee kragbronne nie. Die hibriede-dryfstelsel beskik oor ‘n CVT-ratkas wat die twee kragbronne naatloos integreer en krag na die voorwiele oordra. Toyota se jongste hibriedemodelle maak gebruik van ‘n “beginreduksierat” wat versnelling vanuit ‘n stilstaande posisie verbeter en meer direkte aandrywing met die wegtrek gee. Dit beteken dat die gemak en gerief van ‘n outomatiese ratkas teenwoordig is sonder dat daar afbreuk gedoen word aan rybaarheid, verrigting of brandstofverbruik.  Die Corolla Hybrid se gemiddelde brandstofvefbruik is 3,5 liter per 100 km, wat ‘n teoretiese reikafstand van meer as 1 200 km  met die 43 liter-brandstoftenk moontlik maak.

Net een spesifikasievlak is vir die Corolla Hybrid beskikbaar. Die Xs is gemik op waarde vir geld en kombineer die belangrikste gemak- en-geriefstoerusting terwyl dit aan die meer pragmatiese vooroordeel van hibriede-aandrywing voldoen. Die Corolla Hybrid se spesifikasievlak sluit die volgende kenmerke as standaard toerusting in: ligdiode-kop-en agterligte met dagryligte, elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls, spoedbeheer, klimaatbeheer, ‘n trukamera, ‘n muilti-inligtingskerm en ‘n veelfunksiestuurwiel. Die raakskerm bevat Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play-verbinding, ‘n USB-kragpunt en ses luidsprekers. Die allooiwiele bevat energiebesparende 195/65 R 15-bande wat lae wrywing bied.


Die prys van die Corolla XS Hybrid, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ‘n diensplan vir ses versienings of 100 000 km en ‘n bykomende waarborg van agt jaar of 195 000 km vir die hibriedebattery insluit, is R 419 900.

%d bloggers like this: