Breaking News

Toyota kikker sy Avanza op

Toyota se klein mense-karweier, die Avanza, het’n gunsteling onder motorkopers geword,en sy gemiddelde verkope van 440 eenhede per maand maak van hom ‘n gedugte mededinger in sy marksegment.

Die vlagskip-model in die Avanza-reeks, die TX, het pas ‘n aantal detail-veranderinge ondergaan; dit onderskei hom selfs verder van sy stalmaats. Sy meganiese spesifikasies bly egter onveranderd.  Die TX se vooraansig lyk heeltemal anders as dié van die res van die reeks. Die ligdiode- kopligte word in twee dele verdeel; daar is ‘n strook wat oor die breedte van die voorkant loop en die boonste chroom- en onderste swart deel van die sierrooster skei. Daar is ook ‘n haaivin-lugdraad en meer aërodinamiese buitespieëls terwyl die allooi-wiele van vyftien duim met ‘n nuwe turbine-ontwerp spog. Aan die agterkant is daar ‘n dakdruk-vlerk, nuwe agterligte met helder en gekleurde lense en ‘n chroom-aksentstrook. Die kleure-reeks word uitgebrei met die toevoeging van ‘n nuwe skakering van blou, terwyl die Avanza steeds in wit, silwer, goud en grys beskikbaar is.  Die S en SX se buitestilering bly onveranderd.

Aan die binnekant is daar klein veranderinge; die lugversorging werk nou met drukknop-kontroles met ‘n digitale uitlees-paneel en die bekleedsel is, op openbare aaanvraag, van lig- na donkergrys verander. Daar is ook nou 12 volt-kragpunte voor en agter.

 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n diensplan van vier versienings of 60 000 km insluit, lyk só:

Avanza 1.3 S 5MT                              – R 238,300

Avanza 1.3 SX 5MT                            – R 256,200

Avanza 1.5 SX 5MT                            – R 263,900

Avanza 1.5 SX 4AT                            – R 283,800

Avanza 1.5 TX 5MT                            – R 307,500

Avanza 1.3 S Paneelwa 5MT            – R 244,000

%d bloggers like this: