Breaking News

Toyota se GR Yaris eindelik hier

Een van die mees langverwagte nuwe motors van vanjaar is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Toyota GR Yaris is die tweede model van Toyota Gazoo Racing wat internasionaal bekendgestel word, en volg op die GR Supra, wat reeds twee jaar lank beskikbaar is. Die GR Yaris bring motorsport-ontwerp en -tegnologie na padmotors en is getrou aan Toyota Gazoo Racing se strewe om motors te vervaardig wat uitsonderlike bestuursgenot bied.

Die GR Yaris is ‘n unieke model wat munt slaan uit die ontwerp- en ingenieurs-vaardighede van Toyota Gazoo Racing en Tommi Mäkkinen Racing. Mäkkinen is ‘n voormalige wêreld-tydren-kampioen.  Behalwe dat die GR Yaris die amptelike homologerings-model vir die ontwikkeling van die volgende Yaris WRC-motor is, beskik hy oor al die eienskappe wat nodig is om suksesvol aan baan- of tydrenne deel te neem.

Die GR Yaris is Toyota se eerste egte vierwiel-aangedrewe sportmotor en sy eerste homologeringsmodel vir deelname aan die Wêreld-tydren-kampioenskap sedert die Celica GT- Four, wat sy buiging in 1999 gemaak het. Die GT-Four was deel van Toyota se suksesvolste veldtog tot dusver in dié kampioenskap.

Hoewel die GR Yaris op die nuwe Europese Yaris gegrond is, het hy ‘n unieke ontwerp met ‘n driedeur-bakwerk en ‘n dak wat 91 mm laer is en ‘n koepee-silhoeët skep. Die raamlose deure dra verder tot die sportiewe voorkoms by; dit verminder ook gewig en verbeter aërodinamiese verrigting. Aan die voorkant druk die ontwerp van die sierrooster en lugkort die outentieke GR-status van die motor met die kenmerkende GR-“funksionele matriks” uit. Verkoelingslug word deur ‘n groot reghoekige onderste sierrooster met ‘n wye heuningkoek-imleg na die verkoeler, tussen-verkoeler en enjin-ruim gevoer. Groot vertikale inlate vir die remkanaal en tussen-verkoeler is aan weerskante van die sierrooster aangebring , met ronde ligdiode-misligte in die hoeke van die stamper.

Die prominente onderste lugskort bied afwaartse druk en het ‘n verhoogde middelste gedeelte wat die lugstroom onder die motor beheer. Aan die agterkant verbeter die skuins dak en agterste pilare asook die toevoeging van ‘n diep, hoë drukvlerk die afwaartse krag en aërodinamiese verrigting. Die breë spoor en  uitgeboude vorm van die agterste modderskerms beklemtoon die motor se lae en breë silhoeët. Daar is GR-kentekens op die onderste sierrooster, die voorste modderskerms en die agterklap. Die GR Yaris is beskikbaar in wit, pêrelwit, swart en rooi. Hierdie verfkleure stem ooreen met Toyota Gazoo Racing se tydrenkleure.

Die binneruim weerspieël bestuurdergerigte ontwerp; ‘n dubbeloog-voorpaneel omring die maklik leesbare analoog-instrumente met ‘n 4,2 duim TFT-multi-inligtingskerm in volkleur in  die middel.  Die vertoonskerm het ‘n vierwielaandrywing-aanwyser wat die verdeling van wringkrag aandui, die gekose modus van die GR-FOUR-stelsel en ‘n turbodrukmonitor. Die rathefboom is hoog op die middelkonsole gemonteer; dit is 50 mm hoër en nader aan die stuurwiel geplaas om ratwisseling te vergemaklik.  Die GR FOUR-skakelaar, waarmee die Normal-, Sport- en Track-modusse gekies kan word, sit net voor die ratkas. Daar is ‘n GR-driespeek-stuurwiel met rooi stikwerk en beheerknoppies binne vingerpuntbereik. Die binneruim is in swart afgewerk, met rooksilwer afwerkingsdetail by die deurhandvatsels, middelkonsole, stuurwiel en kant-luguitlate. Op die middelkosole is daar ‘n  WRC-gedenkplaat wat die motor se herkoms aandui.

Die GR Yaris word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde drie-silinder enjin met ‘n verplasingsinhoud van 1,6 liter wat munt slaan uit motosport-tegnologie wat sy verrigting vervolmaak, met ingbegrip van veelvuldige olie-inspuiters wat die suiers verkoel, groot uitlaatkleppe en ‘n gedeeltelik masjien-afgewerkte inlaatpoort.  Die kraglewering van 198 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 360 Nm teen tussen 3 000 en 4 600 opm maak dit die kragtigste 1,6 liter enjin tot nog toe.  Dit word gekoppel aan ‘n handratkas met ses gange wat ontwerp is om hoë wringkrag te hanteer.

Die bakwerk van die GR Yaris  is hoofsaaklik van ligte materiale gemaak, waaronder ‘n  nuwe koolstofveselpolimeer vir die dak wat deur samepersing  gevorm kan word. Dit is ‘n nuwe kenmerk vir ‘n Toyota. Aluminium wat vir die enjinkap, agterklap en deure gebruik word; dit alles verbeter die motor se krag-tot-massaverhouding.  Die GR Yaris kan binne 5,5 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en sy topsnelheid word elektronies tot 230 km/h beperk.

Die werkverrigting van die GR Yaris word ondersteun deur die nuwe GR FOUR-aandrywingstelsel wat ontwerp is om die dryfkrag vir elke wiel te vervolmaak, terwyl dit ook eenvoudig en lig is. Die verdeler van die wringkrag tussen die voorste en agterste asse word deur ‘n hoëreaksie-koppeling beheer. Die bestuurder kan die vierwielaandrywing volgens voorkeur of bestuurstoestande met behulp van ‘n 4WD-skakelaar aanpas. Wanneer die Normal-modus gekies word, is die wringkrag-verspreiding in ‘n verhouding van 60% voor en 40% agter.  In die Sport-modus verander die verspreiding na 30% voor en 70% agter, vir verhoogde bestuursgenot op kronkelpaaie en renbane, en wanneer die Track-modus gekies word, is die verhouding presies gelyk tussen die voor- en agterasse. Hierdie modus kan gebruik word vir renbane of sneltrajekte van tydrenne. Die wringkrag-balaans pas  in elke modus outomaties aan in reaksie op die bestuurder se insette, die gedrag van die voertuie of die toestande op die pad of renbaan aan. 

Die GR Yaris beskik oor ‘n unieke platform wat die voorkant van die Europese Yaris se GA-B-platform op unieke wyse met die agterkant van die GA-C-platform van die C-HR en Corolla kombineer. Dit maak voorsiening vir ‘n nuwe ontwerp vir die veerstelsel en die gebruik van die GR FOUR-stelsel.  Pleks van die wringbalk wat die gewone Yaris vir sy agtervering gebruik, beskik die GR Yaris oor ‘n dubbelmik-veerstelsel waarvan elke element vir verrigting vervolmaak is.  Aan die voorkant word ‘n Mc Pherson-stutstelsel gebruik. Die 18 duim allooiwiele spog met ‘n ontwerp wat deur ‘n Japanse swaard aangespoor is. Afhangende van die model word  Dunlop SP Sport MAXX 050- of Michelin Pilot Sport 4 S-bande gebruik, maar in albei gevalle is die bandgrootte 225/40 R 18. Die hoëverrigting-remstelsel het groot gegroefde remskywe van 356 mm met viersilinder-remknypers wat ontwerp is om aan die streng vereistes van hoëspoed-baan- en-sneltrajekwerk te voldoen.  Die voorste remskywe is groter as dié van die GR Supra.

Twee modelle sal beskikbaar wees, naamlik die GR Yaris en die GR Yaris Rally.  Die GR Yaris bevat al die belangrikste hoëverrigting-komponente  en is op die gewone padgebruiker gemik.  Die Rally word toegerus met ‘n Torsen-vastrapewenaar vir die voor- en agteras, ‘n veerstelsel wat vir  verrigting ingestel is, hersiene kragstuurhulp, en 18 duim BBS-wiele met Michelin Pilot Sport 4 S-bande. Benewens hierdie meganiese opgraderings, beskik die Rally ook oor voorsitplekke wat met leer en Alcantara oorgetrek is, ‘n leeragtersitplek, windskerm-weerkaatsing vir die instrumente asook die Toyota Safety Sense-stelsel in. Hierdie stelsel beskik onder meer oor aanpasbare spoedbeheer, voorbots-waarskuwing en baanhouhulp in. 

Al die modelle word toegerus met sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ligdiode-kopligte met dagryligte, ligdiode-misligte, elektries verstelbare en invoubare buitespieëls, ‘n binnespieël wat outomaties verdonker, dubbelsone-klimaatbeheer, asook ‘n raakskerm met ses luidsprekers, Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en USB- en 12 volt-kragpunte. Die veiligheidskenmerke waarmee albei modelle toegerus word, sluit onder meer ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp en ‘n banddrukmonitor in.  Benewens die Toyota Safety Sense-stelsel word die Rally ook toegerus met outomatiese hoëstraalweking vir die kopligte in.

Die pryse van die twee modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan vir nege versienings of 90 000 km, met dienstussenposes van 10 000 km insluit, is R 606 600 vir die GR Yaris en R 715 600 vir die GR Yaris Rally.

%d bloggers like this: