Breaking News

Toyota se “Troopy” is terug

Toyota het pas sy Land Cruiser 70-reeks uitgebrei deur ‘n model wat voorheen beskikbaar was, opnuut in Suid-Afrika bekend te stel.

Die 78-tweedeur-stasiewa, wat ook as die Troopy (die afkorting vir Troop Carrier) bekendstaan, is in Augustus 2015 aan die plaaslike mark onttrek, maar op openbare aanvraag is hy weer deel van die Suid-Afrikaanse reeks. Die 78 sluit hom by die 76-vierdeur-stasiewa en die 79- enkel-en dubbel-kajuit bakkie aan.

Die 78 word aangedryf deur die beproefde 1 HZ-diesel enjin van 4,2 liter sonder ‘n turboaanjaer; hierdie enjin lewer 96 kW teen 3 800 opm en wringkrag van 285 Nm teen 2 200 opm, wat aan ‘n vyfgang-handratkas met laestrek gekoppel word.

Anders as die res van die Land Cruiser-reeks word die 78 toegerus met 7,50 R 16 C-swaardiens-bande met staalwiele. Daar is ook PVC -vloerbedekking en viniel-bekleedsel en die enigste veiligheids-kenmerke waarmee die 78 toegerus word, is ABS-remme en lugsakke. Verder word hy nie met ‘n radio, Bluetooth of USB-kragpunt toegerus nie.

Slegs twee kleure is beskikbaar, naamlik wit en sand-beige.

Die 78 se dienstussenposes is elke 5 000 km en ‘n diensplan is nie by die prys ingesluit nie. Diensplanne en waarborg-verlengings is wel teen ekstra koste by handelaars beskikbaar.

Die prys van die 78, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 insluit, is R 716 000, en hierdie model sal slegs op bestelling beskikbaar wees.

%d bloggers like this: