Breaking News

Toyota vier veldryer se sewe dekades

In 1951 is die Toyota Land Cruiser vir die eerste keer in Japan bekendgestel en ter viering daarvan het Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) pas ‘n beperkte model bekendgestel.

Die nommer 70 het spesiale betekenis vir Toyota, want dit is die modelnommer vir die Land Cruiser-reeks wat uit die 76-stasiewa, die 78-tweedeurstasiewa en die 79-enkel- en dubbelkajuitbakkie. Die eerste Land Cruiser , wat as die BJ bekendgestaan het, word herdenk met twee beperkte modelle wat op die 79-bakkies gebaseer is.

Die nuwe model, wat as die 70th Edition bekendstaan, spog met ‘n paar uitsonderlike kenmerke wat hom van die gewone modelle onderskei. Aan die voorkant word die Toyota-ellips vervang deur prominente TOYOTA-letters soos op die nuwe Land Cruiser 300 GR-S. Daar is ook ‘n unieke 70 jaar-kenteken aan die buitekant en op die sitplekoortreksels. Daar is ook Land Cruiser-kentekens soos dié van die 40-reeks van jare gelede op die kantdeure. Die reeks word toegerus met kenmerke wat nie net ‘n visuele indruk maak nie, maar ook die werk doen wanneer dinge moeilik raak. Dit sluit ‘n swaar voorste buisraam-staalstamper in, asook ‘n wenas, ‘n agterste buisraamstamper met ‘n verwyderbare trekstang en rubbervoering vir die laairuim.

Die binnekant spog met die Land Cruiser-embleem op die matte en ‘n raakskerm wat Bluetooth en satellietnavigasie bevat. Die sitplekke is in grys bekleedsel met 70th Edition borduurwerk afgewerk. Die 70th Edition sal net in wit en beige beskikbaar wees.

Daar is net een enjin vir die die 70th Edition beskikbaar, naamlik die 4,5 liter V8-turbodieselenjin wat 151 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 430 Nm teen tussen 1 200 en  3 200 opm. Hierdie enjin word aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel en soos dit ‘n Land Cruiser betaam, is daar ‘n oordraratkas vir moeilike veldrytoestande. 

Die pryse van die twee modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km insluit, is R 889 700 vir die enkelkajuit en R 943 100 vir die dubbelkajuit. Voornemende kopers kan een van verskeie diensplanpakkette teen ekstra koste by een van Toyota se 220 handelaars landwyd koop.

%d bloggers like this: