Breaking News

Toyota wys sy GR Supra

Die splinternuwe Toyota GR Supra, die eerste produksiemodel wat deur Toyota GAZOO Racing ontwikkel is, sal  teen die middel van 2019 in Suid-Afrika bekendgestel word.

Die nuwe Supra is pas by die Noord-Amerikaanse Internasionale Motorskou in Detroit bekendgestel. Dit is die vyfde model wat die Supra-naam dra en bou voort op op ‘n tradisie, wat in 1967 met die bekendstelling van die legendariese 2000 GT begin het. Soos al sy voorgangers het die GR Supra ‘n reguit-sessilinderenjin en agterwiel-aandrywing. Geesdriftige bestuurders kan uitsien na ‘n opwindende vermenging van krag, ratsheid en presiese hantering, wat die gevolg is van ‘n kort asafstand,’n breë spoorwydte, ‘n lae swaartepunt en ‘n ligte bakwerk.

Die drieliter-enjin wat 250 kW en wringkrag van 500 Nm lewer, is toegerus met ‘n turboaanjaer en ‘n outomatiese ratkas meet agt gange is standaardtoerusting. Daar is heelwat wringkrag teen alle enjinsnelhede beskikbaar en versnelling geskied vinnig en moeiteloos. Toyota GAZOO Racing het die GR Supra ontwikkel deur toetse op die bekende Nürnburgring Nordschelife en omliggende paaie in Duitsland uit te voer, en sodoende die mees stabiele, ratsste en mees bevredigende hantering moontlik bereik. Verdere toetse is ook in ander dele van die wêreld, onder meer Australië, uitgevoer.

Voordat Toyota se president, Akio Toyoda, die GR Supra finaal goedgekeur het, het hy self die motor op Nürnburgring getoets. Hy vertel dat hy sy bestuursvermoë vervolmaak het deur ure lank met ‘n ou Supra op Nürnburgring te jaag. “Hoewel Toyota geen planne gehad het om ‘n nuwe Supra te ontwikkel of bekend te stel nie, wou ek, soos baie ander kanniedood-geesdriftiges, gehad het dat dit moes gebeur, “ vertel Toyoda. “Ek kan eerlikwaar sê dat die nuwe model nie net groot pret is om te bestuur nie, maar ook da thy beter as ooit is,” voeg hy by.

Die stilering is klaarblyklik deur die 2000 GT beïnvloed, veral die lang enjinkap, kompakte bakwerk en “dubbelborrel”-dak. Die GR Supra se asafstand is korter as dié van die GT 86 en sy bande is groter. Die motor se breë spoorwydte en kompakte kajuit gee die GR Supra ‘n uitsonderlike voorkoms en die ontwerp sorg vir die perfekte massaverspreiding tussen die voor- en agterkant. Aan die voorkant is ‘n prominente sierrooster wat deur die vorige Supra geïnspireer is, met twee groot luguitlate aan weerskante. Dit is noodsaaklik om die enjin se verkoeling te verbeter. Daar is’n groot luikdeur met ‘n geïntegreerde drukvlerk aan die agterkant.

Die GR Supra se stuurkajuit is op die bestuurder gefokus en regstreeks deur dié van enkelsitplekmotors geïnspireer. Dit is daarop gemik om die bestuurder te help om op die bestuurstaak te fokus. Die belangrikste kontroles is naby mekaar sodat dit maklik gebruik kan word. Die asimmetriese ontwerp van die middelkonsole sorg dat daar meer plek vir die passasierskant van die kajuit is as aan die bestuurder se kant is. Die bagasiebak is groot genoeg vir twee mense en kan vergroot word deur ‘n paneel aan die agterkant van die kajuit te verwyder. Dit sorg vir genoeg plek vir ‘n stel gholfstokke of alles wat nodig is vir ‘n dag by die renbaan. Die GR Supra het sportsitplekke wat te alle tye gemaklik is, veral as die motor op ‘n renbaan gebruik word; daar is bykomende kussings aan die kante wat verseker dat ‘n mens se liggaam nie rondbeweeg wanneer daar vinnig deur draaie gery word nie en albei sitplekke het geïntegreerde kopstutte.

Die GR Supra beskik oor wegtrekbeheer wat versnelling vergemaklik; daar kan binne 4,3 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel word. Wanneer die Sport-bestuursmodus gekies word, word enjinklank en -reaksie, asook die stuurstelsel, die weking van die ewenaar, en die ratwisselpatroon aangepas. Daar is ook ‘n “track”-opsie wat gekies kan word wanneer die motor om ‘n renbaan bestuur word. Daarby is die veilighehdskenmerke van hoogstaande gehalte, wat verseker dat die motor se werkverrigting optimal benut kan word. Dit sluit onder meer ‘n aanpasbare veerstelsel, ‘n aktiewe ewenaar en ‘n hoëverrigting-remstelsel in.

Toyota GAZOO Racing is die oorkoepelende organisasie wat wêreldwyd vir Toyota se motorsportprogram verantwoordelik is. Dit het al die Le Mans 24-uur uithouwedren en die vervaardigerstitel in die FIA se wêreldtydrenkampioenskap gewen. Die GR Supra is die eerste model wat die kennis wat deur Toyota se tegniese afdeling opgedoen is, na produksiemodelle sal oordra, nie net na verrigtings-georiënteerde GR-modelle, maar ook na Toyota se modelreeks wat op gewone motoriste gemik is.

Die GR Supra sal in Graz in Oostenryk vervaardig word.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: